Die Hervormer

Skoolbeheerliggame in die visier (Deel 2)

Die effek van die konsep van die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys op die magte van skoolbeheerliggame is ingrypend.

Behalwe vir die voorneme om besluite rondom toegangs- en taalbeleid te sentraliseer, is daar ook ander voorgestelde wysigings wat kommer wek.

Aanstelling van personeel

Die wetsontwerp het ten doel om artikel 20 van die Skolewet (en parallel daarmee artikel 6 van die Wet op die Indiensneming van Opvoeders 76 van 1998 [die Indiensnemingswet]) te wysig om beheerliggame se magte te beperk tot aanbevelings vir aanstellings op posvlak 1. Die provinsiale departementshoof verkry dan die mag om te besluit oor aanstellings en bevorderings op posvlakke 2 tot 4 (skoolvlak departementshoofde, adjunkhoofde en hoofde), sonder inagneming van die wense van die beheerliggaam.

Volgens die memorandum is een van die vernaamste motiverende faktore vir hierdie wysiging dat baie openbare skole, veral in verafgeleë landelike gebiede, nie oor funksionerende beheerliggame en persone met die nodige vaardighede om behoorlike onderhoudsprosesse te onderneem, beskik nie. Hierdie is ten beste ’n baie siniese benadering, aangesien dit tog nie redelik is om die magte van alle beheerliggame in te kort weens die tekortkominge van sommige nie. Daar kan sekerlik ander maatreëls getref word om die probleem op te los, byvoorbeeld die implementering van ’n effektiewe ondersteuningstelsel deur die Departement in gevalle waar ’n gebrek aan vaardighede aanstellingsprosesse kan kniehalter. Dit sal waarskynlik veel effektiewer wees as die voorgestelde een-grootte-vir-almal­-benadering.

Die bepalings in artikels 6(3) en 7(1) van die Indiensnemingswet, saamgelees met die huidige artikel 20(1)(i) van die Skolewet, bevat heeltemal voldoende maatreëls om onredelike aanstellingsaanbevelings uit te skakel. Daarbenewens, soos uitgewys deur die Appèlhof in Head of the Western Cape, Education Department and Others v Governing Body of the Point High School and Others (2008), beskik die departementshoof in elk geval oor voldoende mag om die aanbeveling van die beheerliggaam te verwerp. Volgens die uitspraak is die wet egter duidelik dat die departementshoof, in die uitoefening van hierdie diskresie, redelikerwys moet optree en, met oorweging van al die relevante faktore en met inagneming van die betrokke mededingende belange, tot ’n besluit moet kom wat ’n redelike ewewig reflekteer.

Hierdie redelike en ewewigtige benadering wat die Hof vereis, word nie in die voorgestelde wysiging aangetref nie. Daarin word eerder ’n minagtende poging gevind om die insette van ’n beheerliggaam van meet af aan te verwerp. Daarbenewens is die moontlikheid van onbehoorlike beïnvloeding by die aanstelling van skoolhoofde waarskynlik groter as onder die huidige stelsel.

Wanneer skole en skoolgemeenskappe gekonfronteer word met ’n hoof wat vir hulle onaanvaarbaar is, kan dit ’n ernstige impak hê op die betrokke skoolhoof sowel as op die res van die personeel en die leerlinge. Die potensiaal vir negatiewe openbare reaksie as gevolg van die beperkings van die magte van beheerliggame in hierdie verband, moet die Departement tot groot kommer stem. Onlangse voorvalle van openbare ontevredenheid en oproer weens die aanstelling van skoolhoofde teen die wense van ouergemeenskappe, moet reeds gevaarligte laat flikker.

Die ontwrigting van onderrig verlede jaar by Hoërskool Kakamas, Klipspruit West High en Roodepoort Primary as gevolg van die miskenning van die wense van die skoolgemeenskap in die aanstellingsprosesse, is immers steeds vars in die geheue. Dit is belangrik dat die voorkeure van ’n skoolgemeenskap (soos verteenwoordig deur die ouerlede van die beheerliggaam) in ag geneem word en gerespekteer word in ’n onderwyssisteem wat veronderstel is om stewig geanker te wees in ’n grondwetlike demokrasie. Ouers is in elk geval veel meer as die Departement in voeling met die eiesoortige behoeftes van hul skool.

Volgens die memorandum is daar ’n verdere leemte in die huidige stelsel waar ’n personeellid moontlik in ’n posisie kan wees om ’n aanbeveling te maak vir die aanstelling van sy of haar direkte hoof. Artikel 26 van die Skolewet handel egter met die onttrekking van lede van die beheerliggaam in so ’n geval: ’n Lid van ’n beheerliggaam moet van ’n vergadering van die beheerliggaam onttrek vir die duur van die bespreking van en die besluitneming oor enige aangeleentheid waarby die lid ’n persoonlike belang het. Hierdie artikel skakel die moontlikheid uit dat ’n opvoeder ’n direkte invloed kan hê op die aanstelling van ’n aansoeker op ’n hoër posvlak as hy- of syself.

Ontbinding van beheerliggame

Die wetsontwerp beoog voorts om artikel 25 van die Skolewet te wysig ten einde die departementshoof te bemagtig om beheerliggame wat nalaat om hul funksies en pligte na behore na te kom, te ontbind. Tans maak die Skolewet voorsiening vir die departementshoof om die funksionering van beheerliggame waarvan die gehalte op redelike gronde as substandaard bevind word, vir ’n tydperk van drie maande op te skort. Hierdie bepaling soos dit tans daar uitsien, gee die Departement meer as voldoende ruimte om beheerliggame met pligte en funksies by te staan ​​sonder die diktatoriale benadering wat deur die wetsontwerp voorgestel word.

Wanneer demokraties verkose ouers onder konstante druk verkeer deur die dreigende magte van die departementshoof om die beheerliggaam te ontbind, op gronde wat nie behoorlik gedefinieer is nie op die koop toe, verontagsaam dit nie net die regte van die ouers nie, maar ook dié van die leerlinge. Hierdie wysiging, indien dit aanvaar word, sal ouers waarskynlik toenemend ontmoedig om betrokke te raak by beheerliggame, en kan selfs lei tot meer apatie en onverskilligheid binne skoolgemeenskappe.

Gevolgtrekking

Die wetsontwerp in sy huidige vorm is onaanvaarbaar weens al die redes hierbo genoem. Daar is ook ander bepalings wat pla – byvoorbeeld die bisarre reëling dat onderwysers op versoek van die Departement verslag moet doen van hulle en hul gades se persoonlike finansiële sake. Dit is egter veral by die bepalings wat beheerliggame stroop van alle mag en gesag dat die grootste knoop lê. Ouers sal in wese geen seggenskap meer hê rakende die onderrig van hul kinders en die funksionering van hul skool nie, en volgehoue politieke inmenging sal sonder twyfel die gehalte van onderwys in openbare skole tot verdoemende nadeel strek.

Skoolgemeenskappe behoort, op voetspoor van die internasionale tendens in suksesvolle onderwysstelsels, eerder méér sê te hê in openbare skole as minder. Die primêre funksie van skoolbeheerliggame en die departementshoof is om kinders in ooreenstemming met die Grondwet te dien – met wedersydse respek vir mekaar se onderskeie rolle en magte. Die voorgestelde wysigings skiet ver te kort in die bereiking van hierdie ideaal en moet ten minste grondig hersien word.

Slotwoord

Lidmate van die NHKA wat in Maart verkies is om in skoolbeheerliggame te dien, word sterkte toegewens met hul dienstermyn die komende drie jaar, wat volgens alle aanduidings ’n uitdagende een gaan wees. Die (meer as vae) vermoede bestaan dat veral moedertaalonderrig toenemend onder druk gaan verkeer, selfs al sou die konsepwysigings nie deur die Parlement aanvaar word nie. Dit sal nie verbaas indien Afrikaans uiteindelik grootliks na die privaatsfeer gerangeer gaan word nie.

Lede van beheerliggame behoort hulle onverskrokke en onbeskaamd te beywer vir die belange van die leerlinge en die behoorlike funksionering van skole. Ongelukkig word verneem dat daar soms ouerlede is wat die stert word wat die hond probeer swaai. Skoolbesture onder leiding van die hoof moet toegelaat word om hul skole onbelemmerd te bestuur. Ouers behoort ’n lojale en kragdadige bron van ondersteuning vir skoolbesture te wees – hulle gaan dit vorentoe baie nodig hê. Ouers en onderwysers moet saamgesnoer word tot ’n verenigde front deur een gemeenskaplike doel, naamlik gehalteonderwys vir alle kinders. Die rol van die kerk as vennoot in hierdie proses durf nie onderskat word nie.

(Dr Johan van Staden is een van Die Hervormer se twee subredakteurs en leraar in Gemeente Sionspoort)