Die Hervormer

’n Nuwe era vir die NHKA se Kerkargief

Die Kerkargief het op 1 Maart vir navorsing heropen, in die nuwe ruimte by die Erfenisstigting. Die heropening van die Argief het ’n einde gebring aan ’n jaar van groot onsekerheid, sedert die verkoopproses van die Dirk van der Hoffgebou begin het. Te midde van die onsekerheid is dit Nándor Sarkady, argivaris, wat moes kophou en voorstelle maak oor ’n moontlike nuwe lokaal vir die Argief en oor verpakkingsopsies. Dit is ook onder meer deur sy bemiddeling dat die ruimte by die Erfenisstigting uiteindelik gerealiseer het. Hy verduidelik aan Tessa Oppermann hoe die prosesse voortaan sal werk.

Die Kerkargief is nou toeganklik soos voorheen. Nándor en sy assistente is steeds besig om inventarisse elektronies meer toeganklik te maak, en dit is ’n voortgaande proses.

Die navorsingsfooi vir genealogiese en algemene historiese navorsing beloop R40 per dag. Vir gewone kerklike/gemeentelike navorsing word nie ’n fooi gehef nie. Betalings vind by die argivaris plaas. Navorsers meld by die hoofingang aan en sê dat hulle ’n afspraak by die Kerkargief het.

Die Kerkargief en dié van die Erfenisstigting deel ’n leeskamer. Navorsers het dus ook outomaties toegang tot die Erfenisstigting se argief. Dit is ’n baie goeie reëling wat die gebruik van albei navorsingsinstellings verhoog.

Die kerkhistoriese en teologiese biblioteek is na die kerkgebou van Gemeente Wonderboompoort in Eloffsdal verskuif. Dit funksioneer nie tans as instapbiblioteek nie. Die katalogus van die biblioteek is via die DB Text-databasis toeganklik in die Kerkargief en deur middel van e-posse word omvattende navrae hanteer. Versoeke kan per e-pos gerig word en word so beantwoord. Nándor verduidelik: Fisies het ons op Dinsdae en Donderdae ’n reëling by Gemeente Wonderboompoort om toegang tot die versameling te kry. Persone wat navrae het, moet derhalwe geduldig wees. Hierdie is een van die vele uitdagings wat die biblioteek en Argief sedert die verhuising te bowe moes kom en steeds hanteer. Vir ons as Argief- en Biblioteekkomitee was dit egter van die begin af belangrik om die integriteit van die biblioteek te beskerm.

Die biblioteek het oor ’n tydperk van meer as 75 jaar vorm aangeneem en weerspieël die teologiese ontwikkeling binne die Hervormde Kerk op ’n besondere manier. Dit verklap wat predikante gelees het, die Kerk se eb en vloed met die wêreldekumene, en die belangrike invalshoeke van groot bekende Ou-Testamentici soos proff B Gemser en A van Selms. Talle titels is byvoorbeeld nie by die Universiteit van Pretoria se Merensky-biblioteek te vind nie. Dit het soos alle privaatbiblioteke nie ten doel om soos ’n openbare biblioteek te funksioneer nie. Die keuringsbeleid is streng en slegs sekere titels word na keuring oorweeg.

Deur Nándor se bemiddeling het die Universiteit van Pretoria in samewerking met die Internet Archive (IA) in 2016/2017 die groot taak voltooi om alle uitgawes tussen 1909 en 1977 van Die Hervormer te digitiseer, en aanlyn beskikbaar te maak. Die IA is ’n nie-winsgewende aanlynbiblioteek wat vrylik toegang bied tot miljoene boeke, flieks, sagteware, musiek en webtuistes. In die tien laaste jaar het die Kerkargief met geen fondse vir digitering ter beskikking nie, dus tog daarin geslaag om deur goeie netwerk en verhoudinge by veral die Universiteit van Pretoria die wêreld van digitering te betree. Private digitering van hoë gehalte met die regte metadata is uiters duur en die Kerk kan dit nie alleen onderhou nie. Hy verduidelik: Ons het gefokus op sekondêre materiaal. Die laaste toevoeging is dat ons in 2017 te midde van die inpak van die Kerkargief saamgewerk het met dr Leti Kleyn by UP om al die gemeentelike gedenkbundels van gemeentes te digiteer. Dié omvattende projek bevat meer as 100 bundels en is ’n enorme elektroniese bydrae tot die gemeentes se geskiedenis en groei, maar ook vir streeksgeskiedenis en genealogie wat nou verweef is met kerkgeskiedenis. Gaan kyk gerus na die skakel op Internet Archives by https://archive.org/details/gedenkbundels. Die tyd sal leer of ons binnekort nog sulke projekte kan aanpak.

Daar is ’n nuwe pos vir ’n inligtingspesialis gevestig binne die werkruimte Biblioteek, Argief en SP Engelbrechtmuseum. Dié persoon se pligte is baie wyd. Wat is die agtergrond vir die skep van so ’n pos?

Die enorme groei van elektroniese media het die laaste 15 jaar die wêreldkaart rondom inligting verander. Soos alle gemeentes en lidmate weet, word steeds meer inligting slegs elektronies gestoor en neem die papierspoor af. Dit bring nuwe uitdagings. Die meeste gebruikers van elektroniese data (digital born) staan nouliks stil by bewaring van data. Dit sal in die toekoms toenemend probleme by die herwinning van inligting teweegbring. Dit beteken ook dat argivalia tans op twee spore beweeg. Die papierspoor het nog nie opgedroog nie en sal bewaar moet bly (ook al word digitering/skandering gebruik). Sekere historiese dokumentasie soos aktes, briewe, notules en dies meer word ook deur Erfeniswetgewing beskerm. Die Kerk het met die hervestiging van die historiese Argief deeglik hiervan bewus geword.

Andersyds groei die elektroniese data vinnig en dit is ook die doelbewuste keuse van die sinodale leiding om in dié rigting te beweeg. Dit vind in ’n nuwe rekenaartegniese en inligtingstegnologiese ruimte plaas. Daarvoor is nuwe en omvattende insigte nodig om dit in goeie tegniese bane te lei om te verseker dat hierdie virtuele inligting oor 25 jaar steeds herwinbaar is. Dit sal die uitdagings van so ’n nuwe pos wees.

Op ’n persoonlike noot: Nándor is wyd bekend as ’n pligsgetroue en entoesiastiese argivaris wat passievol oor sy werk en die Hervormde Kerk se Argief is. Hoe het dit gebeur dat hy by die NHKA ingeval het, en dat sy eie Kerk, die Gereformeerde Kerk, hom nie opgeraap het om hul argiewe te beheer nie?

In 1992 het ek navorsing vir ’n Honneursgraad in Kultuurgeskiedenis gedoen aan die Universiteit van Pretoria onder leiding van die bekende kultuurhistorikus prof OJO Ferreira. Hy het my op die spoor gebring van die Hervormde Kerkargief en gewys op die waardevolle versamelings. Ek het navorsing oor die kerkgebou van Pretoria gedoen. Iets wat vir my nou in ’n wrang ironie oorgeslaan het met die verkoop van dié historiese kerkgebou. Gedurende 1993-1994 het ek in Nederland my Diploma Middelbaar Archiefambtenaar aan die Rijksarchiefschool in Den Haag en Utrecht voltooi, met spesifieke toespitsing op Protestantse kerkargiewe. Utrecht vorm in Nederland die kroonjuweel van alle kerklike argiewe sedert die Middeleeue. Dit was ’n besonder leersame en verrykende ervaring en groot voorreg. In 1995 het ’n pos by die Kerkargief oopgegaan en ek het daarvoor aansoek gedoen omdat ek ’n besondere belangstelling in kerklike argiewe het. Met die verandering van inligting weens die tegnologiese omwenteling verander die beroep van argivaris en word dit eintlik in twee verdeel. Die elektroniese breë platform neem toe, terwyl die deel wat spesialiseer in sekere kundige velde dramaties afneem. En tog sal altwee waarskynlik nodig bly om inligting in geheel te vertolk. Die tyd sal leer.

*** Gebruikers moet asseblief vir praktiese reëlings vooraf ’n afspraak maak met mnr Nándor Sarkady, om te verseker dat hulle so goed moontlik gehelp sal kan word. Stuur verkieslik ’n navraag per e-pos na argief@nhk.co.za of skakel 012 322 8885 x3112. Die Kerkargief sal op weekdae van 09:00 tot 16:00 per afspraak oop wees.

(Tessa Oppermann is produksiebestuurder by SENTIK)