Die Hervormer

As digitale verslawing jou verlam

Tegnologie het ons lewens op vele maniere verbeter en vergemaklik. Tog wonder ’n mens soms of ons nie daarmee ’n Trojaanse perd in ons midde toegelaat het nie.

Die Grieke het vir tien jaar die stad Troje probeer binneval, maar sonder sukses. Uiteindelik het Odysseus ’n plan beraam. Aangesien ’n perd vir die Trojane ’n heilige dier was, het die Grieke uit hout ’n reuseperd gemaak, en voorgegee dat hulle die perd daar laat as ’n geskenk.

Toe die Trojane sien dat die Grieke almal weg is, het hulle die reuseperd die stad ingedra. Daardie aand het hulle ’n groot partytjie gehou en te veel gedrink. Die perd was binne uitgehol en ’n hele klomp van die Grieke se dapperste vegters was binne-in versteek. Teen middernag het hulle uitgespring, die wagte vermoor, en toe die poorte van die stad oopgesluit sodat die Griekse soldate die stad kon binneval.

Vandag het ons ’n gesegde vir wanneer iemand ’n vyand onwetend innooi tot in die veiligste deel van hul bestaan. Ons sê: Hulle het die Trojaanse perd binnegenooi.

’n “Perd” wat beslis by ons ingeglip het en wat hier is om te bly, is die tegnologie. Op sigself is tegnologie nie ’n slegte ding nie – dis revolusionêr op soveel gebiede en het ons lewens op soveel gebiede verbeter en vergemaklik. Ons praat dus nie téén tegnologie nie. Dit gaan oor die verslawende effek wat ons fone, rekenaars en tablette op ons het. Ons bestee ure elke dag aan Facebook en ure om aan boodskappe te tik – ons is tog so bang om enigiets te mis. Daar is selfs ’n naam daarvoor: FOMO – fear of missing out.

Hoekom sê ons ons raak verslááf? Omdat dieselfde deel van jou brein aangetas word as in die geval van dwelms, alkohol, pornografie en dobbel. Wat gebeur, is dat ons met die oormatige gebruik van ons digitale toestelle letterlik ons breine oorlaai. Elkeen van ons besit ’n sogenaamde plesiersentrum in ons breine. Dit is waar leer plaasvind, waar ek kan lag vir ’n grappie, waar die neuro-oordraer dopamien afgeskei word wanneer ek iets geniet – ek ervaar plesier en genot, en dit is nodig en goed.

Maar wanneer jy aanhoudend die plesiersentrum van jou brein oorspoel met dopamien, begin daar naderhand iets soos ’n muur vorm. Met die gevolg dat normale hoeveelhede dopamien nie meer in die plesiersentrum van die brein kan inkom nie.

Nou het jy nodig om dinge te doen wat betekenisvolle hoeveelhede dopamien sal afskei wat die plesiersentrum van die brein sal bereik – so dit beteken meer en meer ure voor die rekenaarspeletjie, rekenaar of foon om daardie groter hoeveelhede dopamien af te skei sodat jy voel jy geniet iets. Gevolglik raak jy verslaaf.

Rekenaarspeletjies

In die artikel Caught in the Net: How to recognize the signs of Internet addiction praat dr Kimberly S Young oor rekenaarspeletjies, en sy vra: Kan ’n mens regtig aan rekenaarspeletjies verslaaf raak? Beslis, want dis ’n kliniese impulsbeheerde versteuring. ’n Verslawing net soos kompulsiewe dobbel. Hulle sê dat twee ure se rekenaarspeletjies dieselfde effek op die brein het as om een lyn kokaïen te snuif – dit verskaf dieselfde opwinding.

Pornografie

Nog ’n groter probleem is verslawing aan pornografie. In die ou dae was toegang tot pornografie redelik beperk en die verspreiding daarvan stadig. Dit alles het verander met die spoed en privaatheid van die internet. Daar is gevind dat ’n verslawing aan pornografie chemies feitlik identies is aan kokaïen- en heroïenverslawing. Dis net die manier waarop dit “toegedien” word wat verskil.

Daar word by die driebiljoen dollar ’n jaar aan internetpornografie bestee. Een uit vyf soektogte op die internet is na pornografie.

Multitaakverslawing

Jy weet hoe dit is – jy gaan sit om ’n voorlegging voor te berei of ’n verslag te skryf of jou wiskunde te doen, en dan begin jou foon biep. Natuurlik is jou foon baie meer opwindend as die taak waarmee jy nou net begin het, so met die presisie van ’n cowboy wat sy rewolwer uitpluk, is jy by jou foon, en binne ’n sekonde is jy besig om met iemand te praat. Na jy klaar gepraat het, vra jy jouself: Waar was ek nou weer? Na ’n minuut of twee om jouself net weer te laat fokus, begin jy met jou projek.

Neorowetenskaplikes het nou bevestig dat die brein nie multitaakverrigting kan hanteer nie. Ons doen taakruiling – met ander woorde, ons gaan vinnig van een taak na die volgende – en wanneer ons dit doen, daal ons produktiwiteit met tot 40% en ons verloor tyd en maak meer foute. Wanneer ons so spring van die een taak na die volgende, verlaag ons ons brein se vermoë om diep te dink en kreatief te wees.

Die brein is wonderlik, maar ook broos. Daarom moet ons balans aanleer. Na ’n uur van rekenaargebruik, ongeag die digitale aktiwiteit (of dit is om iets te skep of te speel), word die adrenalien te veel verhoog, wat ’n risiko inhou om angstigheid, depressie, diabetes, slapeloosheid en hoë bloeddruk te ervaar. Die brein kan net soveel digitale stimuli hanteer, dan moet dit ’n onderbreking kry.

Die beste babaoppasser ooit

Dis te verstane dat mense ’n foon of tablet gebruik om hul kinders besig te hou. Dit is die goedkoopste en betroubaarste babaoppasser. Navorsing het egter gewys dat wanneer klein kindertjies vir lang tye aan die vinnig veranderende beelde van die televisie blootgestel word – gedurende hierdie kritieke tyd van breinontwikkeling – hul breine vooraf gekondisioneer word om hierdie hoë vlakke van toevoer te verwag. Dit lei dan tot gebrekkige aandagsomvang later in hul lewe.

Vir elke uur wat kinders televisie kyk voor die ouderdom van drie, verhoog hul kanse om aandagafleibaar te wees met 10%, volgens dr Dimitri A Christakis, ’n Amerikaanse navorser. Aan die ander kant is gevind hoe meer kinders kognitief gestimuleer word, hoe meer neem hul kans om aandagafleibaar te wees af. Sulke aktiwiteite is byvoorbeeld ouers wat vir kinders lees, sing en hulle museums toe vat.

Snaaks hoe daar ’n stigma kleef aan dwelm- en alkoholverslawing, maar digitale verslawing is so half aanvaarbaar, want almal doen dit. Tog is dit chemies net so verslawend soos gevaarlike dwelms.

Volgens 1 Korintiërs 6: 12 is daar mense wat sê alles is my geoorloof. Ja, maar nie alles is heilsaam nie. Alles is my geoorloof, sê hulle, maar ek gaan my nie deur enigiets laat verslaaf nie. Ons het die vryheid om alles te geniet, maar wanneer iets ’n houvas op ons kry, dan het ons die lyn gekruis van goeie geestelike en fisiese gesondheid. Die Here is nie teen tegnologie nie. Hy is teen die dinge wat ons geestelik, fisies, emosioneel, intellektueel en verstandelik sal benadeel. Die Here het ons gebou vir verhoudings – aangesig-tot-aangesig-verhoudings.

En bo alles het Hy ons gebou vir ’n verhouding met Hom. Hierdie “goed” steel ons weg van Hom, en God sê eintlik: Ek wens jy kon soveel tyd of selfs net ’n deeltjie van die tyd wat jy aan die selfoon bestee het, aan My bestee.

Wees dus waaksaam en doen die nodige introspeksie. Maak sekere aanpassings in jou digitale gebruik as jy besef dit word vir jou ’n probleem.