Die Hervormer

Die pad vorentoe vir die Hervormde Kerk

So baie dinge om ons verander daagliks – ook die kerk, ook die eie Kerk. En steeds bly ’n riglyn dit wat Paulus die Kolossense versoek: Tree met wysheid op, en maak die beste van elke geleentheid. Tessa Oppermann het met drr Frikkie Labuschagne en Wouter van Wyk gesels, en ’n paar ongemaklike vrae gevra oor die pad vorentoe vir die Hervormde Kerk.

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het in 2017 besluit om dr Frikkie se posbenaming te behou (algemene sekretaris: NHKA), maar om dr Wouter se posbenaming vir groter duidelikheid van sekretaris: kommunikasie te verander na sekretaris van die Kommissie van die AKV.

Dr Frikkie het die addisionele verantwoordelikheid vir die Sentrum vir Gemeentelike Bediening wat binne die Hervormde Teologiese Kollege gevestig is. Begeleiding van gemeentes en die bestuur van die debiteureprogram ressorteer steeds onder hom. Enige korrespondensie vir die aandag van die Kommissie moet egter aan dr Wouter gestuur word. Hulle werk egter baie nou saam, en binne en buite die Sinodale Dienssentrum heers daar klaarblyklik steeds onsekerheid oor hul onderskeie rolle.

Tot enkele jare gelede het ons nog ’n administrateur gehad (die mees onlangses mnre Kobus Viljoen en Elmar Struwig), en ’n sekretaris van die Kantoor van die Kommissie van die AKV (dr Fanie Pretorius). Dié verskillende rolle en dié van die sekretaris: kommunikasie wat by SENTIK gevestig was (dr Wouter van Wyk) is nou op nuwe maniere verweef. Sou ’n mens die huidige rolle in terme van die destydse verdeling van pligte kon omskryf?

Dr Wouter beaam dat daar oor die afgelope paar jaar inderdaad heelwat veranderings in die bestuur van ons Kerk se sinodale aktiwiteite plaasgevind het, en dis nie net die rolle van enkele individue wat verander het nie. Die doelgerigte poging om minder institusioneel kerk te wees en die fokus na kerkwees in gemeenteverband te verskuif, het gelei tot afskaling en herstrukturering van sinodale aktiwiteite. Dit het in die herskrewe Kerkorde neerslag gevind, en ook in die toedeling van verantwoordelikhede.

In die verlede het die Kommissie van die AKV en die Raad van Finansies amper as twee entiteite naas mekaar gestaan, met die sekretaris van die Kommissie verantwoordelik vir die uitvoering van eersgenoemde liggaam se besluite en die administrateur verantwoordelik vir laasgenoemde. Vandag aanvaar die algemene sekretaris oorhoofs verantwoordelikheid vir die bestuur van die Sinodale Dienssentrum. Hy neem ex officio met spreekreg sitting in die Kommissie van die AKV en die Raad van Finansies. Die Kommissie van die AKV het die begeleiding van gemeentes aan hom opgedra, terwyl hy aan die Raad van Finansies verslag doen oor die aktiwiteite, personeel en finansies van die Sinodale Dienssentrum asook die Kerk se debiteureprogram. Hy word in sy opdrag bygestaan deur ’n bestuurskomitee en die afdelingshoofde van die Sinodale Dienssentrum.

Die sekretaris van die Kommissie van die AKV is verantwoordelik vir alle aangeleenthede wat met die werk van die Kommissie van die AKV verband hou, en vir alle interne en eksterne kommunikasie van die NHKA. Hy neem ex officio met spreekreg sitting in die Kommissie van die AKV, en is verantwoordelik vir agendas, notules, afsprake en korrespondensie wat met die Kommissie se werk verband hou. Hy is oorhoofs verantwoordelik vir die kerklike kommunikasie, en skakel met predikante, gemeentes, ringskommissies, kerklike rade en die Kerk se ekumeniese vennote.

Dr Frikkie moet nou een dag per week afstaan vir die ontwikkeling van die Sentrum vir Gemeentelike Bediening. Beteken dit dat hy dikwels na gemeentes sal reis?

Hy verduidelik dat die NHKA nie meer ’n oorontwikkelde besigheidskomponent het wat hoofsaaklik vanuit ’n administratiewe kantoor bestuur word nie. Die fokus en energie is gerig op kernbesigheid wat hy persoonlik as die bediening in elke gemeente van die Kerk beskou. Gevolglik is elke funksie binne die Sentrum vir Gemeentelike Bediening gerig op gemeentes.

Hy reis inderdaad baie. Gemeentes is die plek waar ons die verskil en transformasie kan bewerkstellig. Die toerusting, begeleidingsdiens en fasilitering wat via die Sentrum vir Gemeentelike Bediening aan gemeentes beskikbaar gestel word, is in beginsel ons omdraaistrategie vir die Kerk. Die Kerk kan alleen op ’n beter plek wees as gemeentes daardie plekke deur die werking van die Gees van God bly ontdek. Die begeleiding gebeur in feitlik alle gevalle op ’n een-tot-een-basis en vra dus vir persoonlike kontak.

Die wonder van kerkwees vra dat geloofsruimtes eerbiedig word en die Gees van God self sal toetree en sy gemeentes in beweging bring. Ek moet my eie rol en posisie binne laasgenoemde konteks baie mooi verstaan. Met my gawes dien ek die Here binne die werkruimte van die NHKA, maar dit is nie as gevolg van my of enige iemand anders dat ons vorder nie. Daar bestaan nie ’n uitgewerkte plan of stel reëls vir die unieke omstandighede van die gemeente nie. Gemeentes moet uiteindelik self eienaarskap en verantwoordelikheid aanvaar vir die bediening en die uitdagings wat op elke plek anders is.  

Ek vra hom om asseblief tog vir ons te verduidelik wat presies missionale bediening beteken, en hoe dit van missionêre uitreik verskil. Laasgenoemde is volgens woordeboeke ingestel op sending en ’n kerklike en godsdienstige uitreik na mense.

Hy antwoord: Vanuit ’n lewende verhouding met God is ’n missionale gemeente een wat ’n verskil maak, nie net in die lewe van sy lidmate nie, maar ook na buite, insluitend in die gemeenskap, die omgewing en die wyer wêreld.

Die woord missionaal dui op ’n bestaanswyse waar die getuienis ’n integrale deel van ’n gemeente se denke, lewe en werk uitmaak. ’n Gemeente bestaan tog nie in isolasie nie. ’n Gemeente deel stories van God se liefde en genade met mekaar. Hierdie oase van hoop moet ook buite die grense van die gemeente sigbaar word. Om missionaal te leef, vra dus dat die gemeente na binne en na buite ’n verskil maak. In en deur die plaaslike gemeente is lidmate diensbaar in die wêreld, en getuig hulle van die verlossing in Christus.

Ek sou nie graag die twee begrippe teenoor mekaar wou stel asof hulle mekaar wedersyds uitsluit nie. ’n Gemeente kan met groot sukses en seën met ’n missionêre uitreikaksie besig wees. Missionêre uitreik gebeur myns insiens momenteel: Die projek begin iewers en kom dan weer tot ’n einde. Om missionaal te wees, is ’n geestelike DNS-kwessie. ’n Missionale lewe vra dat alles in die gemeente met ’n bepaalde intensie gebeur: om na binne en na buite die verskil te maak/wees!

“Gewone lidmate” loop met baie vrae. Elke dag hoor ons ons Kerk loop leeg, maar dan raak ons bewus van gemeentes wat lidmate se attestate eenkant hou en hulle bloot nie bytel nie, bloot omdat hulle nie offergawes (kan) gee nie. Dis mos ’n kunsmatige manipulasie van syfers om hul heffings laer te hou?

Dr Wouter reageer heftig. Ons lidmate kry swaar, en daarom kry ons gemeentes swaar. Maar dit is ontstellend om te hoor hoeveel lidmate in gemeentes hoegenaamd geen offergawe gee nie. Dit laat ’n mens – ten spyte van finansiële druk op mense – vra na lidmate se opregte dankbaarheid vir God se genade. Dit is daarom net so ontstellend om te hoor dat gemeentes wat onder druk verkeer, hul lidmaattalle aanpas om slegs sinodale heffing te betaal vir diegene wat wel in die gemeente offergawe gee. Dit is nie die afspraak wat gemeentes by die AKV met mekaar gemaak het nie, en dra by tot die jaarlikse daling van die Kerk se lidmaattal en die gevolglike groeiende sinodale heffing per lidmaat wat betaal moet word om dieselfde dienste te bekostig. Trouens, dit bring lidmaattal as basis vir die sinodale offergawe in die gedrang. Miskien moet die AKV dit oorweeg om eerder ’n ander stelsel (soos ’n persentasie van ’n gemeente-omset) as basis te gebruik.

Maar moet die fout in dié gemeentes nie eerder by die predikant(e) se bediening gesoek word nie? Wat gaan die “missionale bediening” aan sulke sake doen?

Nee. ’n Mens kan nie alle gevalle oor dieselfde kam skeer nie, maar dit sal verkeerd wees om predikante vir die inkrimping van gemeentes te blameer. Die oorgrote hoeveelheid predikante doen hul werk met groot toewyding en dikwels groot persoonlike opoffering. Maar ons omgewing het verander, mense se gedragspatrone het verander en baie mense raak eenvoudig onverskillig oor kerklike betrokkenheid. Dit is hartseer dat kerkmense toenemend ook ’n verbruikerskultuur aanneem: Hulle vra hoe gaan die predikant of kerkraad of gemeente my bedien eerder as om self te dien.

Missionale bediening het nie die bedoeling om meer lidmate vir die gemeente te wen of die gemeente se inkomste te verhoog nie. Missionale bediening is daarop gerig dat elke lidmaat weer verantwoordelikheid aanvaar om self te dien, te getuig, die gemeenskap van die gelowiges op te bou, en te jubel oor die liefde van die Here – nie net in die gemeente nie, maar oral waar hulle elke dag leef en werk.

Die Dirk van der Hoffgebou en Barton Keep is onlangs verkoop, en nou hoor ons dat die gebou van Gemeente Pretoria-Noord en die historiese gebou van Gemeente Pretoria ook verkoop word. Uit ’n finansiële oogpunt maak dit sekerlik sin, maar sou dit nie missionaal/missionêr gewees het om die geboue te behou en daarvandaan na meer mense uit te reik nie? Is dit nie die soort werk wat ’n kerk moet doen nie?

Dr Wouter bevestig dat die kerkgebou van Gemeente Pretoria-Noord verkoop is. Hoewel daar belangstelling in die historiese kerkgebou van Gemeente Pretoria is, is daar tans nog bloot gesprekke aan die gang en neem die kerkraad en ringskommissie al die Hervormde Kerk se belange by die gebou deeglik in ag. Dit is belangrik dat ons anders na kerkgeboue kyk as in die verlede. In die verlede het ons baie institusioneel na die Kerk gekyk en was die oprigting van ’n kerk en pastorie dikwels vir ’n gemeente die groot mikpunt om te bevestig wat die predikant en lidmate kon vermag. Vandag verstaan ons dat dit die Kerk se missie is om met blydskap fees te vier oor die evangelie van Jesus Christus, om die gemeenskap van gelowiges te koester, om teenoor almal om ons te getuig oor die hoop wat in ons leef, en om mekaar en die wêreld om ons te dien. Dan vra ’n mens of jy ’n duur kerkgebou daarvoor nodig het.

Met die daling in ons geboortesyfers en die gevolglike afname van ons lidmaattal het die Hervormde Kerk eenvoudig vandag te veel kerkgeboue vir die getal lidmate. Dit is presies dieselfde as met skole in ou stedelike woonbuurte wat dikwels net 3 km van mekaar gebou is vir gesinne wat elk vroeër drie of vier kinders gehad het, maar waar daar nou baie meer pensioenarisse sonder kinders bly. Dit maak dus in breë trekke sin dat ons baie van ons oortollige kerkgeboue moet verkoop en dat klein gemeentes eerder moet kombineer. Dit is egter in die eerste plek die verantwoordelikheid van elke kerkraad en ringskommissie om hierdie prosesse so te bestuur dat die bediening nie skade ly nie, dat die bates wat die Kerk met harde werk van lidmate oor dekades opgebou het nie in die sand verdwyn nie, en dat die werk van die Kerk op elke plaaslike gebied eerder meer lewenskragtig kan word omdat ons ons kragte saamsnoer.

Op ’n vraag oor die huidige stand van predikante-opleiding vir die Hervormde Kerk erken dr Wouter dat daar tot dusver net een Hervormde student in 2018 by die Universiteit van Pretoria se Teologiese Fakulteit aangemeld het om teologie te studeer, teenoor die tien in 2017. Daardie was eintlik ’n buitengewone groot groep. Daar sal noodwendig altyd fluktuasie wees. Dit is ook die geval in die NG Kerk, wat verlede jaar slegs enkele nuwe teologiestudente gehad het, maar hierdie jaar weer meer. Dit is nietemin vir die Hervormde Kerk baie belangrik dat ons toekomstige predikante ’n deeglike akademiese vorming ondergaan, en die Kerk is baie dankbaar vir ons dosente wat met toewyding en oorgawe ’n reusebydrae tot die Fakulteit lewer.

Tydens die 71ste AKV is gemeentes versoek om voorkeur te gee aan proponente en beroepafwagtende predikante wanneer ’n beroep uitgebring word of ’n benoeming vir besondere dienswerk gemaak word. Is die gedagte dat die beroepafwagtende proponente op ’n tydelike basis in diens geneem word sodat hulle ondervinding in die bediening kan opdoen? En is daar soms ’n weerstand by gemeentes om die nuwelinge te beroep?

Ek dink nie dit is enigiemand se bedoeling dat beroepafwagtende proponente op ’n tydelike basis beroep moet word om eers ondervinding op te doen nie. Die AKV se besluit is eerder daarop gemik om (klein) gemeentes aan te moedig om nuwe bloed in te trek deur proponente en beroepafwagtende predikante te beroep. Gemeentes se behoeftes verskil ook baie van mekaar, en daar is elke jaar gemeentes wat gretig van ons jong predikante beroep – met goeie gevolg!

Dr Frikkie stem saam. Die predikante van die Kerk is goed opgelei. Daar bestaan hoegenaamd geen weerstand by gemeentes om nuwelinge te beroep nie. Dit is juis hierdie jong predikante wat met nuwe vaardighede en vanuit alternatiewe perspektiewe die gemeente op ’n bepaalde pad plaas. Die Kommissie is besig om ’n mentorskapprogram daar te stel wat jong beroepafwagtende predikante by bepaalde gemeentes sal plaas om hul roeping daar uit te leef.  

Daar is voorgestel dat selfs rondreisende predikante oorweeg kan word, maar daar is volgens dr Wouter geen besluit in dié verband nie. Daar is wel ’n groeiende behoefte aan brugpredikante in die Kerk. ’n Brugpredikant is ’n predikant wat slegs vir ’n voorafbepaalde beperkte tyd in ’n gemeente gaan werk om hulle te help om ’n oorgang na ’n nuwe bediening te bewerkstellig. ’n Brugpredikant mag nie ná die ooreengekome dienstyd na die betrokke gemeente beroep word nie.

Die Kommissie is besorg oor die langtermynrisiko wat dit vir die Kerk inhou wanneer ’n groot groep ouer predikante dalk op ’n gegewe tyd nie meer beskikbaar is om in die Kerk te werk nie. Gaan dit oor predikante wat voortydig emeriteer, en indien wel, waarom doen hulle dit?

Dr Wouter verduidelik: Die redelike groot groepe predikante wat in die 1970’s en 1980’s afgestudeer het, emeriteer nou. Dit is ’n natuurlike proses, en solank dit in proporsie met die Kerk se lidmaatprofiel gebeur, is dit nie kommerwekkend nie. Daar begin nietemin wel ’n tendens ontstaan dat predikante vroeër as ouderdom 65 emeriteer en daarna deur dieselfde gemeente gekontrakteer word om met dieselfde dienswerk voort te gaan. Die predikant ontvang dan emeritaat, maar ook ’n verminderde vergoeding van die gemeente. Hoewel dit in sommige gevalle ’n lewensaar vir sowel gemeente as emeritus bied, hou dit groot risiko vir albei in. Die predikant se pensioensituasie word op die lang duur baie nadelig geraak, terwyl die gemeente daarmee kan verval in blote instandhouding eerder as om die inspuiting van ’n nuwe predikant se inisiatief te ervaar.

Toe dr Frikkie in Augustus 2011 by die Sinodale Dienssentrum diens aanvaar het, was hy nog in die Midde-Ooste betrokke as konsultant en by die Noordwes-Universiteit se Fakulteit Teologie as lid van ’n navorsingspan. Na voltooing van sy Magister in Bedryfsleiding (MBL) (UNISA) in 1998, het hy by bedryfskonsultasie betrokke geraak. Hy het die afgelope tien jaar die voorreg gehad om kort kursusse in die Midde-Ooste aan te bied wat op die ontwikkeling van leierskapvaardighede en veranderingsbestuur gerig was. In die Midde-Oosterse kultuur is die weerstand teen verandering hoog. Veral die jonger generasie sukkel met die rigiede denksisteme en lewenspatrone.

Hy moes ongelukkig sy werk by Noordwes-Universiteit se Fakulteit Teologie staak. Dit was vir hom ’n kosbare leergeleentheid tussen kollegas vir wie hy hoë agting en respek het. Dit is ongelukkig nie altyd moontlik om te doen wat ek wil nie. My tyd is so onder druk dat ek oral moes afskaal.

Wat gebeur tans in die lewens van sy vrou, Mariëtte, en die kinders Lize-Marie, Joanica en Erick?

Mariëtte werk die afgelope twee jaar by ’n mediese praktyk in Centurion. Lize-Marie het verlede jaar afstudeer en ontvang in April 2018 die graad BSc(Genetika) aan UP. Sy is tans besig met haar NGOS. Joanica studeer Menslike Bewegingskunde aan die NWU Potchefstroom waar sy ook haar liefde vir muurbal uitleef. Erick is tans in matriek aan Hoërskool Eldoraigne. Sy liefde vir wiskunde stuur hom om volgende jaar sy studies in ingenieurswese/toegepaste wiskunde voort te sit.

Die bilaterale ooreenkoms met die NG Kerk het vir die Van Wyk-gesin heel persoonlik geraak, met Wouter (jr) wat nou predikant is in die NG gemeente Tygerpoort. Het hulle dit nie tog maar met ’n tikkie hartseer beleef nie?

Dr Wouter sê hy is dankbaar vir die uitstekende verhouding met die NG Kerk. Dan moet ek erken dat ons gemengde gevoelens gehad het oor Wouter (jr) se beroep na ’n gemeente van die NG Kerk. Natuurlik is ons jammer dat hy nie meer in die Kerk waarin hy grootgeword het, dien nie. Aan die ander kant moet ek darem sê dat sy oupa Ampie Barnard predikant in die NG Kerk was en dat ’n deel van ons familie dus lidmate van die NG Kerk is. Dit bevestig maar net weer die sin van die bilaterale ooreenkoms – ons Kerke is ook deur familiebande aan mekaar verbind. Uiteindelik is Wouter (jr) maar net in ’n ander kerklike kring besig om die Heer van die kerk te dien. Ons is dankbaar dat hy ook in ’n nuwe omgewing sy gawes kan aanwend om sy roeping uit te leef, en dat sy vrou, Simoné, hom daarin ondersteun.

Wat gebeur tans in die lewens van dr Wouter se vrou, Susan, en die ander kinders, Abrie en Laetitia?

My vrou, Susan, is een van die 20% mense wat volmaak gelukkig is in haar werk! Sy is ’n musiekonderwyseres wat klavier en kitaarles gee, help koor afrig, en kleutermusiek by verskillende kleuterskole aanbied. In haar vrye tyd sing sy self koor en ry sy saam met my fiets.

Abrie werk by ’n IT-maatskappy in Sandton en is baie suksesvol in sy werk. Ongelukkig hou dit hom lang ure besig en sien sy ouers dus nie aldag genoeg van hom nie. Laetitia het verlede jaar haar twee jaar lange Meestersgraad in musiek aan die Birmingham Konservatorium voltooi. Ons is baie trots daarop dat sy haar MMus in tjello (uitvoerend) met lof geslaag het! Gelukkig het sy besluit dat ’n mens nie jou lewe op ’n eiland in die reën kan deurbring nie, en teruggekeer na Pretoria, waar sy nou begin om as onderwyseres (tjello en klavier) en vryskutmusikant te werk.

En hoe is dit om kleinkinders te hê? Kleinkinders is die kroon van die skepping! Klein Wouter Abraham (3 jr) en Lea (1 jr) kuier elke week by Oupa en Ouma en hul liefdevolle praatjies en speletjies is vir ons ’n groot bron van vreugde.

Van albei, ’n boodskap vir die Kerk?

Dr Wouter: Te midde van ’n chaotiese wêreld weet ons dat die Here ons elkeen geroep het om ’n sinvolle lewe tot sy eer te leef. Kom ons dien Hom, dien mekaar, dien in die wêreld waar Hy ons ook al plaas.

Dr Frikkie: Die Kerk bevind hom in uitdagende tye en daar is baie druk in die sisteem. Dit is in vele opsigte ook ’n vrugbare tyd vir die Kerk. ’n Tyd vir nuwe geboortes! Dit is nodig dat ons op kreatiewe wyses bly soek na oplossings. Ons moet elke geleentheid aangryp om relevant te bly en die evangelie wat altyd lewensveranderend op die lewe van die gelowige inwerk, biddend en ywerig verkondig.  

Inderdaad: Om met wysheid op te tree, en die beste te maak van elke geleentheid.

(Tessa Oppermann is produksiebestuurder by SENTIK)