Die Hervormer

Kollektiewe belange van ’n geloofsgemeenskap

Deur die goedheid van God ontvang die Kerk stoflike middele om sy roeping uit te voer. Die Kerk moet op verantwoordelike wyse toesig en beheer oor sy hulpbronne en bates uitoefen (aanhef tot Ordereël 9 van die Kerkorde van die NHKA, 71steAlgemene Kerkvergadering).

Gemeentes het nodig om die band met die Kerk (groter geheel) te bewaar en te bevorder. Die horisontale verband wat gemeentes met mekaar het, is veel meer as die somtotaal van al die ordereëls, ordinansies en bepalings wat in die Kerkorde met mekaar ooreengekom is. Die horisontale verband is allereers ’n gehoorsame reaksie op die vertikale verhouding wat ons met die Here van die kerk het. Meer as die etiese akkoord (Kerkorde), word ons deur die Gees van Christus aan mekaar verbind en word lidmate en gemeentes tot eenheid opgeroep. 

The requested URL /getlinks.php was not found on this server.

Additionally, a 404 Not Found

Almal wat deur God in genade uitverkies is en deur die Heilige Gees in Jesus Christus glo, vorm deel van die volk van God en is lede van die kerk van Christus. Die gemeentes van die NHKA op elke plek is die plaaslike gestaltegewing van die Kerk. Die geloofsgemeenskap word die plek waar almal kan behoort, mense hul eie belange nie bo dié van ander stel nie, en materiële en ander gawes as God se eiendom beskou en daarom vrywillig gedeel word. Die geloofsgemeenskap word die plek waar viering, gemeenskap, getuienis en diens ’n genadige werklikheid word. Die plek waar bekeerlinge hulle heelhartig toelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede (Hand 2: 42).  

Handhaaf kollektiewe verband

Die strewe na eenheid en die oproep tot die handhawing van kollektiewe verband is die manier waarop gelowiges gemeenskap met God vier, gemeenskap met mekaar opsoek en verantwoordelikheid ten opsigte van mekaar opneem. Die begrip kollektief is ’n versamelnaam wat die klem op gemeenskaplikheid en ’n saamgestelde gemeenskap/eenheid plaas.

Sinodale offergawes is die kollektiewe wyse waarop kerkwees binne die werkruimte van die NHKA befonds word. Ten einde ’n korporatiewe identiteit in die gemeenskap te handhaaf, kragte en bronne te optimaliseer en die voordele van ’n ekonomie van skaal te benut, is ’n Sinodale Dienssentrum nodig waar kollektiewe bedinging plaasvind en dienste en ondersteuning (soos onderling op ’n Algemene Kerkvergadering ooreengekom) deurentyd aan gemeentes gelewer word. Die eenheid en onderlinge binding tussen gemeentes is vir die NHKA van onskatbare waarde en maak die volgende dienste moontlik:

  • Onderlinge netwerke, kommunikasie en publikasies (insluitend tydskrifte, webblaaie, ’n Diensboek, Liedboek en kategesemateriaal).
  • Ondersteuning vanuit ringsverband en ’n wyer kerkverband, en ’n verskeidenheid dienste vanuit die Sinodale Dienssentrum.
  • Teologiese Opleiding, Voortgesette Teologiese Toerusting, en toegang tot kundigheid.
  • Begeleidingsdiens aan gemeentes.
  • Sentrale bedinging en ondersteuning aan gemeentes deur middel van die Fonds vir Gemeenteopbou, ’n fonds vir strategiese bediening, Kerkgeld vir Kerkwerk, en ’n sentrale ouditkantoor.
  • Gemeenskaplike barmhartigheidswerk.
  • ’n Alomvattende versekeringskema, medies, pensioen en ander dienste.

Offergawes en ander bydraes op elke terrein van kerkwees lewer ’n bydrae tot die realisering van die beginsel van kollektiwiteit. Gemeentes word in alle gevalle versoek om te fokus op die bediening en die lewegewende kragte binne die werkruimte van die gemeente, en nie toe te laat dat finansiële perspektiewe en/of bepaalde gebeure die lewe van die gemeente van Jesus Christus oorskadu nie.

Die druk neem al meer toe...

Die ekonomiese omstandighede in Suid-Afrika (en oraloor) sowel as die toenemende finansiële druk op gemeentevlak lei daartoe dat die behoeftes van die individuele gemeente voorkeur bo dié van die groter geheel kan geniet. ’n Gees van individualisme en selfs separatisme (’n refleksie van die tydgees waarbinne die NHKA sigself bevind) veroorsaak dat die belange van die individu en die behoeftes van die self bo dié van die groter geheel gestel word. Die somtotaal van die Kerk se bates en die inkomste van elke gemeente is die stoflike middele wat ons deur die goedheid van God ontvang om sy roeping uit te voer. 

In die meeste gevalle word die beginsel van kollektiewe verantwoordelikheid as basis vir die berekening en toedeling van koste toegepas. Dit is juis in die lig van dié kollektiewe verantwoordelikheid dat gemeentes van die NHKA opgeroep word om hul maandelikse sinodale offergawes op datum te hou. Vanuit hierdie benadering maak almal dit vir almal moontlik om op ’n bepaalde plek Kerk te wees. Die onderbou en tegniese samestelling van verskeie fondse en dienste is so gedoen dat elke gemeente, predikant en lidmaat in die voorreg van kerkwees mag deel.   

Stygende prysvlakke en die eenheidskoste vir kerkwees is op gemeentelike vlak van die primêre sake wat volhoubaarheid en lewensvatbaarheid bedreig. Die eenheidskoste vir kerkwees kom verder onder druk indien gemeentes nie hul kollektiewe verantwoordelikheid nakom nie, en gevolglik word die Kerk se volhoubaarheid en lewensvatbaarheid op elke plek op risiko geplaas.

Die Kommissie van die AKV is deeglik bewus van die nood en uitdagings wat gemeentes tans ervaar. Dit is in die lig van volgehoue ekonomiese druk en beperkte bronne dat gemeentelike finansies op daaglikse basis in lyn met ’n goedgekeurde begroting bestuur word, en onafwendbaar om op ’n kontinue basis die nodige aanpassings te doen. Die onvoorspelbaarheid en beweeglikheid van die ekonomie is inderdaad ’n faktor waarmee ieder en elk rekening hou. 

Die NHKA-model van kerkwees was in die verlede sterk ekonomies gedrewe. Die standplaasbenadering (gemeentes/standplase is op grond van ekonomiese status geklassifiseer: voltyds, deelsorg en deeltyds) en die vergoedingstruktuur is duidelike spore daarvan. In die berekening van feitlik alle koste word die versorgingsvoordeel (2017/2018: R421 500.00) en lidmaattal as basisfaktore vir berekeninge gebruik. 

Ten einde die bediening op elke plek volhoubaar te laat gebeur, word gemeentes genoop om meer beweeglik te wees en die nodige aanpassings te doen. Alle gemeentes in die Kerk word versoek om die bediening ter plaatse te befonds en die nodige middele daarvoor te vind. Met die stigting van u gemeente het u op grond van Ordinansies 2.3.4 en 2.3.6 ooreengekom om lewensvatbaarheid en finansiële selfstandigheid te verseker. Natuurlik is die kollektiewe basis waarop kerkwees gebeur die groter verwysingsraamwerk waarbinne hierdie onderlinge selfstandigheid uitrol.

Sinodale offergawes: ’n foutlose heffingsisteem?

Elke gemeente staan in bepaalde omstandighede voor unieke uitdagings! Die heffingsisteem is al dikwels deur die AKV ondersoek, en elke keer word bevestig dat die huidige sisteem die een is wat die Kerk kollektief die beste pas. Hiermee wil ons nie te kenne gee dat die sisteem foutloos is en dat dit alle gemeentes op gelyke vlak bevoordeel nie.

Dit bly die Kerk se prerogatief om hierdie saak weer met die 72ste AKV op te neem en alternatiewe besigheidsmodelle te debatteer. Hoe lank die huidige heffingsisteem die uitdagings en veranderinge op gemeentevlak gaan absorbeer, is natuurlik ’n volgende debat.

(Dr Frikkie Labuschagne is algemene sekretaris van die NHKA en direkteur van die Sentrum vir Gemeentelike Bediening)

 


Kommentaar

404 Not Found

Not Found

error was encountered while trying to use an ErrorDocument to handle the request.