Die Hervormer

Demografiese uitdagings vir die kerk

Na aanleiding van die 80/20-verslag oor plaaslike regerings wat deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudings (IRR) saamgestel is, het die Moderamen met mnr Flip Buys van Solidariteit gesprek gevoer oor demografiese tendense en die uitdagings wat dit aan die kerk stel.

Die data vir die 80 aanwysers na 20 jaar van demokrasie is hoofsaaklik vanuit die 2011 Sensus verkry. Die 2011 Sensus se statistiek is deur Statistiek Suid-Afrika in Oktober 2012 gepubliseer. Suid-Afrika het 278 munisipaliteite, en ’n analise oor suksesse en mislukkings is aan die hand van die volgende probleemareas uitgewys: armoede, opvoeding/onderrig, werkloosheid, inkomste per huishouding, munisipale dienste, munisipale finansies, beste en swakste munisipaliteite, gebrek aan kapasiteit en ervaring, ’n gebrek aan verantwoordelikheid en politieke aanstellings.

The requested URL /getlinks.php was not found on this server.

Additionally, a 404 Not Found

Plaaslike regeringstelsel

Sedert 1994 is die hele land onder die jurisdiksie van plaaslike regerings ingedeel. ’n Paar munisipaliteite is verantwoordelik vir ’n enkele stad, byvoorbeeld Johannesburg. Die meeste is egter verantwoordelik vir meer stede en dorpe. Baie van Suid-Afrika se distriksmunisipaliteite beslaan groot areas. Die grootste is Namakwa (Noord-Kaap) wat omtrent dieselfde grootte is as die staat van New York.

Plaaslike regering het konstitusioneel die mandaat om ontwikkeling en herverdeling te doen. Dit is te betwyfel of plaaslike regering die menslike en finansiële hulpbronne het om hierdie rol effektief te speel.

Inkomste van munisipaliteite

Munisipaliteite het ’n beperkte inkomstebasis. Dienste soos elektrisiteit, water en vullisverwydering is verantwoordelik vir 55% van munisipale inkomste. Die tweede hoofbron van inkomste is eiendomsbelasting, wat 16% verteenwoordig, en die derde hoofbron van inkomste is oorbetalings vanaf die sentrale regering, wat 20% verteenwoordig.

Daar is egter verskeie probleme met die invordering van skuld. Dan is daar ook probleme met prioriteite. Geld word op luukshede spandeer, terwyl basiese dienste verwaarloos word. Boonop word fondse onreëlmatig aangewend. In 2012 is R16 biljoen in munisipale spandering onreëlmatig aangewend. Dit lei tot verset. Daar is gereeld proteste oor “swak dienslewering”. Baie van hierdie proteste is gewelddadig – wat nie vreemd is aan ’n gemeenskap waar daar daagliks ongeveer 45 moorde landwyd gerapporteer word nie.

Sedert 1994 het die werkloosheidsyfer in Suid-Afrika konserwatief bereken van 2 miljoen tot 4,7 miljoen toegeneem, en sommige meen dat dit selfs tot 8 miljoen toegeneem het.

Migrasie

Al hierdie omstandighede het daartoe gelei dat na 1994 onder alle bevolkingsgroepe verstedeliking plaasgevind het. Baie van die mense op die platteland het die plase verlaat en in die “townships” en stede gaan woon. Hulle het gehoop om werkgeleenthede te kry, wat nie altyd gerealiseer het nie. Baie het afhanklik geraak van maatskaplike toelae. Alles het bygedra tot groter armoede onder hierdie groep van die samelewing en lei tot opstand en gewelddadige optrede.

Die tradisionele blanke deel van die bevolking het ernstig onder druk gekom. Blankes het al hoe meer verstedelik. Hulle verhuis na plekke waar die trekfaktore meer is as die afstootfaktore. Afstootfaktore soos kontakmisdade speel ’n groot rol in die verhuising van Afrikaners. Trekfaktore gaan oor werkgeleenthede, kultuur, taal, skool, kerk en mediese instellings. Met die verstedeliking van mense verander die demografie. Op die platteland neem “townships” die dorpe oor. Infrastruktuur word nie onderhou nie. Dorpe neem die vorm van die bevolking aan. Die gevolg is “gevriesde dorpe”. Eiendom se waarde neem af en word nie verkoop nie. Inwoners kan nie verhuis nie, omdat hulle dit nie kan bekostig nie. Daar is dus nie net “gevriesde dorpe” nie, maar ook ’n “gevriesde bevolking”.

Boere kom ook onder groot druk. Ons kan verwag dat die wette wat op boere van toepassing is, strenger toegepas gaan word. Grondverdeling en grondbesetting gaan al hoe meer druk plaas op die boerderygemeenskap. Jong boere verhuis om elders ’n heenkome te vind. Die ontvolking van plase het ’n ernstige invloed op die instandhouding van omliggende dorpe.

Ook die demografie van myndorpe verander. Met die aflegging van duisende mynwerkers, word aan hulle ’n klein stukkie grond gegee om op te woon en te boer. So ontstaan daar “tuislandjies” rondom myne.

Met die verhuising en verstedeliking van Afrikaners is daar op die platteland gemeentes sonder mense en in die stede mense sonder gemeentes.

Uitdagings vir die kerk

Die verstedeliking van mense lei tot verval. In die stad leef mense maklik by mekaar verby. Mense gaan nie noodwendig kerk toe nie. Op die platteland en in kleiner dorpe skakel mense outomaties by die kerk in. In Gauteng, spesifiek Pretoria en Johannesburg, is meer as 1,2 miljoen Afrikaners saamgetrek. Nuwe veiligheidskomplekse en woongebiede ontstaan. In die Wes-Kaap woon al meer as 500 000 Afrikaners. Die Kommissie van die AKV is reeds besig om strategiese bedieningspunte te identifiseer. Die Strategiese Bedieningsfonds se doel is om voorsiening te maak vir die vestiging van bedieninge in groeipunte. Die Kerk kan nie net na binne fokus nie, maar sal missionaal gerig moet wees. Die Kerk sal moet fokus op stedelike gebiede, maar sal terselfdertyd nuut moet dink oor die bediening op die platteland. Dit word al hoe moeiliker vir plattelandse gemeentes om finansieel te oorleef. Samewerkingsooreenkomste met ons susterkerke kan ’n moontlike oplossing wees. Die Kommissie van die AKV is ook besig om die moontlikheid van rondreisende predikante te ondersoek.

Ons hoor so dikwels van ’n kwynende kerk, lidmaatgetalle wat afneem en finansiële druk wat dit vir gemeentes selfs onmoontlik maak om voort te bestaan. Tog is daar vir die Kerk baie geleentheid om die evangelie te verkondig. Gemeentes moet in groeipunte gevestig word, bestaande gemeentes behoort uitgebou te word, en waar gemeentes kwyn, kan planne gemaak word om die lidmate van kwynende gemeentes te versorg. Met ’n missionale ingesteldheid behoort gemeentes hul roeping en opdrag uit te voer. Volgens die Sensus van 2011 was daar 4,5 miljoen blankes in Suid-Afrika, waarvan 2,7 miljoen Afrikaners is. ’n Realistiese projeksie dui op ’n groei onder Afrikaners tot 2,74 miljoen in 2021 en 2,86 miljoen in 2031. Die Kerk kan groei aanmoedig deur kleuterskole by gemeentes te vestig waar ouers hul kinders in bekostigbare en veilige versorging kan laat.

Daar is ’n toekoms vir die Kerk. Geleenthede moet benut word. Die tyd is verby dat mense die kerk opsoek. Die kerk moet mense opsoek en die boodskap van hoop en lewe met entoesiasme uitdra.

(Ds Willem Kok is skriba van die Kommissie van die AKV en leraar in Gemeente Potchefstroom)


Kommentaar

404 Not Found

Not Found

error was encountered while trying to use an ErrorDocument to handle the request.