Die Hervormer

Is ek Charlie?

Die aanval van 7 Januarie 2015 deur Moslem ekstremiste op die satiriese koerant Charlie Hebdo in Parys, Frankryk, lê nog vars in ons geheue. Twaalf personeellede word koelbloedig afgemaai. Geliefdes, vriende en ’n hele land word in rou gedompel. Wêreldwyd word skok en afgryse uitgespreek oor nog ’n daad van terreur.

In nabetragting verskyn talle artikels wat die gebeure analiseer en probeer verklaar. Sommige is pontifikaal veroordelend oor die lafhartige aanval op ongewapende werknemers, terwyl ander die sielkundige profiel van ekstremisme probeer peil. Natuurlik is daar ook menings wat die aanval verdedig, of ten minste regverdig in die lig van die provokasie deur die satiriese uitbeelding van sake wat mense na aan die hart lê. Die Franse volk se reaksie was onmiddellik. Tot ’n miljoen mense kom byeen in Frankryk, hou potlode omhoog en dra plakkate wat sê Je suis Charlie (ek is Charlie) in ’n simboliese gebaar van solidariteit, meelewing, protes en verset.

Ons is in afstand ver verwyder van die gebeure in Parys, en ’n mens sou kon argumenteer dat dit niks met ons te doen het nie. Maar om twee redes is dit in werklikheid baie naby aan ons:

  1. Die aanval is oënskynlik gebaseer op geloofsoorwegings. Dit konfronteer ons as Christene, en in werklikheid die aanhangers van elke ander geloof, met die etiese vraag of die eer van God met geweld beskerm of afgedwing kan word. Daarom moet dit in die kerklike idioom oorweeg word.
  2. Onverdraagsaamheid en ekstremisme lê vlak in ons eie samelewing en verdien alle ewewigtige Suid-Afrikaners se ernstige aandag.

Die wapen van woorde
Die Engelse gesegde lui: Sticks and stones might break my bones, but words will never hurt me. Dit is ’n verweer teen die kwetsende krag van woorde, maar dit is ’n leuen. Woorde is juis die wapen wat ons die seerste maak. Is daar in die Bybel enige aanduiding van hoe mense oor en met mekaar behoort te praat? Beslis ja! Dit val onder die voorskrifte van algemene gedrag teenoor ander mense. Die eerste herinnering is aan Jesus se saligsprekinge in Matteus 5: 5 en 9 waar Hy die sagmoediges en vredemakers geseënd noem. In Galasiërs 5: 22-23 vermaan Paulus die gemeente om positief teenoor mekaar op te tree in ooreenstemming met die vrugte van die gees: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen sulke optrede is daar geen wet nie, sê hy. Die teendeel hiervan kom uit die mens se sondige natuur: ...vyandskap, twis, jaloesie, woede, selfsug, tweespalt, skeuring... Diegene wat so optree, sal die koninkryk van God nie beërf nie (Gal 5: 19-21).

Christene se gedrag onderling, maar ook teenoor die wêreld, moet staan in die teken van God se liefde. Dit vra ruimte vir oorweging en begrip. Jakobus 1: 19-20 stel dit baie duidelik: Let op... elke mens moet flink wees om te luister, stadig om te praat, stadig om kwaad te word. Want die woede van ’n mens bewerkstellig nie geregtigheid voor God nie. Hy noem die tong ’n vuur wat uit die hel aangesteek word (3: 6), en verbied kwaadpratery teen mekaar (4: 11).

Daar is nog talle ander tekste wat aangehaal kan word. Die uitgangspunt is duidelik: Christene se gedrag word bepaal deur die soort liefde wat ons by God leer. Dit is veel meer as filantropie en algemene humanisme. Dit is gegrond in ’n spesifieke verstaan van God in sy verhouding met die wêreld – ’n verhouding wat miskien in drie woorde saamgevat kan word: liefde, dankbaarheid en respek.

Waar kom onverdraagsaamheid en haat vandaan?
Die antwoord is eenvoudig. Dit lê in verskillende sienings van wat Waarheid is. Ons moet verstaan dat dit nie ’n bloot intellektuele saak is nie. Dit gaan hier om mense se diepste oortuigings oor dit waarin hul lewe betekenis vind, en oor die uiteinde van alle dinge – hemel en hel, aanvaarding en verwerping, ewigheid saam met of sonder God. Daar is basies twee beskouings oor Waarheid:

  1. Die finale Waarheid is gegewe, geopenbaar, en die mens se taak is om dit te ontdek en sy lewe daarmee te belyn. Hierdie siening van waarheid vind in die praktyk meestal gestalte in grense en reëls. Dit werk met teenoorstaande kategorieë soos rein en onrein; aanvaarbaar en verwerplik. Hier is reëls belangriker as mense.
  2. Die Waarheid ontvou dinamies in verhoudings en omstandighede, altyd nuut, altyd verrassend. Hierdie benadering is inklusief. Dit bring die swakheid van mense in berekening, die val en opstaan, die worsteling om te word wat ons wil wees. Hier is mense belangriker as reëls.

Godsdienstige ekstremisme werk met die eerste benadering hierbo. Nie alleen weet die aanhangers presies wat heilig en onheilig is nie, maar hulle sien dit ook as hul taak om die grense tussen die twee te patrolleer en so God se eer te beskerm. Dit is ’n verdelende en veroordelende benadering wat andersdenkendes verdoem. Hulle eien hulle die reg toe om hul sienings af te dwing, selfs met geweld. Islam verseker ons dit is nie hoe die meeste Moslems is nie. Dit is ook nie hoe die meeste Christelike kerke die evangelie verstaan nie. Jesus se benadering soos weergegee in die Evangelies en geëggo in die ander geskrifte van die Nuwe Testament, is veel meer in ooreenstem­ming met die tweede benadering hierbo. Dit is juis in die positiewe, ondersteunende, liefdevolle toepassing van die etiese waardes wat ons in die Bybel vind, dat die kragtige werking van die Heilige Gees mense verander en intrek in die kragveld van verlossing, sinvolle lewe en diens.

Wat antwoord ons dan op die vraag Is ek Charlie?
Agter die Franse volk se Je suis Charlie (Ek is Charlie) is daar ’n komplekse tradisie verskuil waarin swaar gewonne vryheid, geloof en filosofie met mekaar vermeng is. Dit is nie bloot ’n ondersteuning van die satiriese koerant nie. Trouens, dit kan aanvaar word dat baie van dié wat potlode omhoog gehou en plakkate gedra het, nie met alles saamstem wat die koerant publiseer nie. Dit gaan om iets groter – die handhaaf van ’n vry gewete, norme van beskaafdheid en die beginsel van toleransie. Meer as dit – die brutaliteit van die aanslag konfronteer die ganse samelewing met gedrag wat as boos ervaar word, en dit roep verset op by elke regdenkende mens.

Dit is ’n gevaarlike toedrag van sake. Die grootste sukses van barbaarse terreurdade is om mense te laat afstand doen van beskaafde waardes wat gebou is op wedersydse welwillendheid. Dan trek hulle laer in terme van onderliggende verdelingslyne soos etnisiteit, ras en geloof, om net die mees voor die hand liggende te noem. By ons het die wreedheid van plaasaanvalle, moorde, huisrooftogte, motorkapings en algemene misdaad dieselfde effek. Wrywing neem toe. Die verdelingslyne in die samelewing word al skerper geteken. Die regering volg ’n beleid van verdeel en heers. Teen hierdie aftakeling van waardes en skeeftrekking van die samelewing moet ons protes aanteken. Ons is solidêr met die Franse in verset teen alle ekstremiste wat dreig om die samelewing te versplinter met hul barbaarse optrede. In hierdie opsig is ons almal Charlie.

Tegelyk moet ons dieper kyk. Verskyn die woord aanstoot iewers in ons etiese register? Anders gevra: Moet die liefde en wedersydse respek wat van gelowiges onderling verwag word, nie ook ’n kenmerk word van die samelewing in die breë nie? Dit beteken ons moet ons retoriek afskaal, ook die satire, om wel die heilige koeie te slag, maar nie met maksimum venyn nie. In die lig van die Bybelse boodskap van genade en versoening getuig ons immers in die eerste plek: Ek is Christen.

Maart aktueel