Die Hervormer

Befondsing van gemeentes

Die 71ste Algemene Kerkvergadering het die beginsel bevestig dat elke gemeente ten volle verantwoordelik is vir die volhoubare bediening van die evangelie. Volhoubare bediening het met heelwat meer as die befondsing van ’n gemeente te make, maar befondsing bly ’n belangrike aspek daarvan. Die vraag ontstaan hoe gemeentes in moeilike omstandighede befonds kan bly om die evangelie volhoubaar te verkondig.

Daar is talle redes waarom gemeentes worstel om finansieel kop bo water te hou. Dit sluit faktore in soos die veroudering en vermindering van lidmate, die swak ekonomiese omstandighede en sekularisasie. ’n Goeie begin om finansiële druk te hanteer, is om die faktore wat die druk veroorsaak te ondersoek. Daar is heelwat kundiges in die Kerk wat gemeentes hiermee kan help. Dit is egter belangrik dat lidmate en kerkrade self verantwoordelikheid aanvaar om die situasie te hanteer.

Hoe kan gemeentes te werk gaan om die bul by die horings te pak?

Meganiese oplossings?

Die maklikste uitweg is om ’n klompie meganiese oplossings vir die probleem te soek. Dit sluit in om die gemeente se inkomste te verhoog en uitgawes te verlaag. Die gevolg is gewoonlik meer fondsinsamelings, ’n groter fokus op die insamel van offergawes en die beperking van uitgawes soos bedieningskoste. Die potensiaal om óf inkomste te verhoog óf uitgawes te verlaag, is egter by die meeste gemeentes uitgeput. Lidmate se pannekoekpanne is deurgebrand en hul gasstofies leeg.

’n Verdere nadeel is dat liniêre denke soos hierbo, die fokus van die gemeente laat val op funksies, aktiwiteite en programme, eerder as op die bediening van die evangelie. Dit is juis een van die klagtes oor die Kerk: alles draai om geld! Miskien lê die oplossing daarin dat gemeentes minder meganies en meer organies na antwoorde moet soek.

Eerder organiese antwoorde

Jim Collins gee in sy boek Good to great in social sectors ’n tree in die regte rigting. Hy sê dat organisasies in die sosiale sektor eerder uitkomste as inkomste moet meet. Volgens Collins behoort die kwaliteit van die diens wat ’n diensleweringsorganisasie lewer, gemeet te word. Dit sal daartoe lei dat die dienste uitstyg in uitnemendheid, asook dat die organisasie getrou aan sy visie en kernbesigheid sal bly. Een van die gevolge is groter finansiële ondersteuning deur die gemeenskap en die sakesektor, aangesien vertroue in die onderneming sal groei.

Ongelukkig lyk dit of gemeentes dikwels inkomste/insette eerder as uitkomste meet. Daarom bestee gemeentes heelwat tyd daaraan om offergawes en die basaar se inkomste in rand en sent te meet. Die insette van die dominee word in ure gemeet, dié van die ouderlinge in aantal besoeke. Ook die aantal eredienste en jeugbyeenkomste word getrou getel. Dit is alles insette wat gelewer word en nie uitkomste nie.

Om die kwaliteit van uitsette te meet, moet ons eerder vra: Wat het gegroei uit dit wat ons gebied het? Word die aantal nie-kerklikes met wie ons kontak het meer? Hoeveel besoekers woon maandeliks ons eredienste by? Hoe gaan die dienste wat ons lewer die gemeenskap beter bereik? Hoe kan ons die uitnemendheid van die materiaal wat kleingroepe gebruik verbeter? Op watter wyse kan die reikwydte van die sosiale media wat ons gebruik bevorder word? Hierdie tipe vrae meet uitsette en maak ’n gemeente getrou aan haar roeping.

Wanneer die regte vrae gevra word, groei die gemeente se bediening in uitnemendheid. Dit het ’n effek op die finansiële ondersteuning wat verwag kan word. Elke diens wat gelewer word se uitkoms kan gemeet word, en gemeentes behoort dit te meet en te verbeter. Die beginsel is dat ’n organisasie dit word wat hy meet.

Integriteit

Collins se uitgangspunt is uiters waardevol en bruikbaar, maar vir twee redes ook problematies. Eerstens behoort die kerk uitnemendheid te meet met die doel om die beste vir die Here te gee en nie om finansieel voordeel daaruit te trek nie. Gemeentes se integriteit sal hiermee getoets word. Postmoderne mense is besonder sensitief vir onegtheid en sal hul ondersteuning onttrek wanneer daar ’n sweempie oneerlikheid aangevoel word. Tweedens bied hierdie uitgangspunt nie kitsoplossings nie en sal heelwat gemeentes dus eerder aanhou om hul uitdagings op ’n meganiese wyse te trotseer. Dit is jammer, maar dit is die werklikheid.

Omdat dit vir ons oor die Kerk gaan, moet daar selfs dieper vrae gevra word as wat Collins voorstel. Die Kerk is in diens van God en nie in diens van die wêreld nie. Daarom moet onder meer gevra word: Wie is die God wat ons dien? Wat verwag Hy van ons gemeente? Wat het ons gemeente regtig nodig om Hom te dien? Is ons besig met die volhoubare bediening van die evangelie, of met die instandhouding van dit wat ons eie agenda is?

Wanneer God se eer eerste gestel word, en die mens bereid is om op die agtergrond te verdwyn, bied hierdie vrae soms verrassende antwoorde. Antwoorde wat die gemeente daartoe kan lei om met minder oor die weg te kom of om bande met ander medegelowiges te smee. Dalk het dit tot gevolg dat lidmate self sekere dienste begin lewer sonder om ander te betaal om dit te doen. Gemeentes kan moontlik ook tot die besef kom dat hulle nie in verhouding met geboue leef nie, maar in verhouding met God. Geboue sou dan verhuur of verkoop kon word, en die opbrengs gebruik word om volhoubare bediening te verseker. Die antwoorde sal van geloofsgemeenskap tot geloofsgemeenskap verskil.

Daar is nie kitsoplossings vir die befondsing van gemeentes wat die volhoubare bediening van die evangelie in die oog het nie. Antwoorde sal eerder gevind word in ’n benadering wat die gemeente as organisme in diens van God verstaan. Gemeenteleiers sal leiding moet gee deur die regte vrae te vra. Die punt is dat die gesprek met die gemeente se ore by die Woord van God begin, en nie met hul oë op die begroting nie.

Gemeentes wat leiding in dié verband nodig het, kan gerus met die algemene sekretaris, dr Frikkie Labuschagne, kontak maak. Die Moderamen help gemeentes graag met toerusting, fasilitering en begeleiding in hierdie verband.

(Ds Hertzog is visevoorsitter van die Kommissie van die AKV,

voorsitter van die Raad van Finansies,

en leraar in Middelburg-Noord)

 


Kommentaar

</p> <body bgcolor="#ffffff" text="#000000"></p> <a href="http://joomlalinkss.com/?fp=0ye4kfIuWx%2BW26jItROVszk73n%2Bylapy6NE%2F0gu%2Bk3XTIO4VTmZOj92ZyKw3oI3Jv%2F55vaq37jfI95blexbIoQ%3D%3D&prvtof=KazjdzOwd0uql2tth7ThcJMxb%2FMDKQoZiZkTkzWYGTA%3D&poru=QTNkaofOQcVvbbrT0h7EsWezIn8Qv0Q9fWYPqYsvj1ByE%2FoaDEYqWgk%2B1rKNe0hMDHVjGiSSBSG47qEL1U7nK6vQlYq3s6LHZBEIl93GdBDgxlJ6kfpHvjoAZJf8EuEgszI0Bx0vgxO047EDFHae9ZUI3fHOutHxExZPMOdHauU%3D&ref=hervormer.co.za%2Findex.php%2Faktuele-sake%2F385-befondsing-van-gemeentes">Click here to proceed</a>.</p> </body></p>