Die Hervormer

’n Herwaardering van prof Albert Geyser (1918-1985)

Op 30 Maart 2017 het die Departement Nuwe Testament aan die Universiteit van Pretoria die Derde AS Geyser Gedenklesing aangebied. Die Gedenklesing is een van die openbare lesings wat die Fakulteit Teologie deur die loop van 2017 aanbied as deel van sy eeufees. Dr Wim Dreyer, dosent in Kerkgeskiedenis en Kerkreg, het op uitnodiging van die Departement die Gedenklesing aangebied. Die tema van die lesing was AS Geyser se verstaan van kerkwees, soos dit in die publikasie Vertraagde Aksie tot uitdrukking kom. Die redaksie het hom versoek om die inhoud van sy lesing met die lesers van Die Hervormer te deel.

Prof dr Albert Geyser is vir baie van die jonger predikante en lidmate van die Hervormde Kerk ’n onbekende figuur. Trouens, Geyser het vir alle praktiese doeleindes uit die kollektiewe geheue van die kerk en samelewing verdwyn. Dit staan in skerp kontras met die periode 1955 tot 1970, toe hy een van die bekendste teoloë in Suid-Afrika was. Sy bekendheid was die gevolg van sy skerp kritiek teen apartheid as politieke beleid. In die 1960’s het Geyser se naam gereeld in die koerante verskyn. Geyser het onder groot belangstelling openbare lesings by universiteite in Suid-Afrika en Europa aangebied, dikwels met duisende mense wat dit bygewoon het.

 

31

’n Vroeë presteerder

Albertus Stephanus Geyser is op 10 Februarie 1918 op ’n plaas in die omgewing van Naboomspruit gebore. Sy pa en ma (Petrus en Nina Geyser) was toegewyde lidmate van die Ned Hervormde Kerk van Afrika. Nadat Geyser sy matriek voltooi het, begin hy met sy teologiese studies aan die Universiteit van Pretoria. In 1938 voltooi hy sy BA cum laude met hoofvakke Grieks en Latyn. Daarna voltooi hy sy BD-graad (1940) en ’n meestersgraad in klassieke tale (1942), albei cum laude. Daarna sou verdere nagraadse studies in tale volg en kon hy uiteindelik Hebreeus, Siries, Aramees, Grieks, Latyn, Frans, Duits, Nederlands, Afrikaans en Engels lees en skryf – tien in totaal.

In 1941 is Geyser as predikant van die Hervormde Kerk georden en bevestig in Gemeente Heilbron. Hy verhuis na Pretoria en voltooi in 1946 sy doktorsgraad in Nuwe Testament. Geyser is in 1946 namens die Hervormde Kerk as dosent aan die Universiteit van Pretoria aangestel. Op die jeugdige ouderdom van 27 was Geyser professor in teologie, ’n posisie wat hy beklee het totdat hy in 1963 as dosent en predikant van die Hervormde Kerk bedank het. Sy bedanking was die gevolg van ’n klag van dwaalleer wat teen hom ingebring is deur drie teologiestudente.

Bevinding van dwaalleer herroep

Die klag het uit vyf hoofdele bestaan met 20 onderafdelings. Die Kommissie van die AKV het hom op een van die 20 onderafdelings skuldig bevind en uit sy amp onthef, maar Geyser het dit in die Hooggeregshof betwis. Die regter het aanbeveel dat die partye tot vergelyk kom, en die Kommissie het die bevinding van dwaalleer onvoorwaardelik herroep, dus asof dit nooit plaasgevind het nie. Geyser het in dié tyd ’n pos aan die Universiteit van die Witwatersrand aanvaar. Ten spyte van die konflik met die Kerk het hy gevra om uit die Hervormde Kerk begrawe te word, wat in 1985 gebeur het. Dit is sprekend van die passie wat hy vir die Hervormde Kerk gehad het.

As ’n mens die koerante van destyds lees, staan jy verbaas dat Suid-Afrika nie in die 1960’s in vlamme van ’n volskaalse burgeroorlog opgegaan het nie. Op 21 Maart 1960 is die land en die internasionale gemeenskap geskok met die gebeure by die polisiestasie van Sharpeville, toe 69 van ongeveer 6 000 betogers deur die polisie doodgeskiet is. In dieselfde jaar het die regering wetgewing in werking gestel wat die ANC verban het. Die ANC het in 1961 begin met ’n gewapende stryd teen die Suid-Afrikaanse regering. Die leiers van die ANC is gevang, en tydens die Rivoniaverhoor is die leiers van die ANC (insluitend Nelson Mandela) lewenslank op Robbeneiland opgesluit.

Die internasionale reaksie was so sterk dat die destydse premier, dr HF Verwoerd, na ’n referendum besluit het om Suid-Afrika tot republiek buite die Britse Statebond te verklaar. Dit is ook in hierdie tyd dat die vryheidstryd in ander dele van Afrika en die Koue Oorlog in felheid toegeneem het.

Predikante in verset teen apartheid

Aan die einde van 1960 het die Wêreldraad van Kerke besluit om in Suid-Afrika te vergader. Tydens die Cottesloeberaad is apartheid veroordeel en is die Afrikaanse kerke versoek om hul teologiese regverdiging van apartheid te herroep – wat hulle nie bereid was om te doen nie. Dit is in hierdie konteks van witwarm politiek dat Geyser ’n leidende rol onder Afrikaanse teoloë en predikante gespeel het in hul verset teen apartheid. Hy het begin om byeenkomste te organiseer waar tot 350 Afrikaanse predikante teenwoordig was. Tydens die byeenkomste van die Studiekring is geworstel met die vraag of apartheid teologies begrond kan word of nie. Die byeenkomste het uiteraard groot kritiek uitgelok.

Deur die loop van 1960 het proff Albert Geyser (UP), Ben Marais (UP), Bennie Keet (Stellenbosch) en Hugo du Plessis (Potchefstroom) saam met predikante van die drie Afrikaanse susterskerke ’n boekie uitgegee met die titel Vertraagde Aksie. Dit was aan die een kant ’n kritiek op apartheid as politieke sisteem, maar veral ’n skerp kritiek teen die Afrikaanse kerke wat hul lidmaatskap tot blankes beperk het. In daardie stadium het sowel die Hervormde Kerk as die NG Kerk in Transvaal artikels in hul kerkordes gehad wat lidmaatskap tot blankes beperk het. Dit was die begin van ’n lang en uitgerekte kerklike stryd wat van een AKV na die ander voortgesleep het.

Die uitdaging om kerk te wees

Dit is opmerklik dat Geyser in sy bydrae tot Vertraagde Aksie een sentrale vraag vra: Wat beteken dit om kerk van Jesus Christus te wees te midde van politieke spanning en rassegeweld? Om die vraag te antwoord, neem hy die Evangelie van Matteus as uitgangspunt en verduidelik hy dat dit in die kerk om Christus alleen gaan. Die kerk behoort nie aan mense nie, maar aan Christus. Daarom is iets soos ’n “volkskerk” (’n kerk wat ter wille van die Afrikanervolk bestaan) in beginsel onmoontlik. Die kerk bestaan ter wille van alle mense en nie ter wille van ’n aardse koninkryk of politieke bestel nie, maar ter wille van die koninkryk van God.

Die roeping van die kerk is nie om ’n bepaalde politieke ideologie te bevorder nie, maar om die evangelie aan ander mense te verkondig. As die kerk hierdie opdrag van Christus (Matt 28) nie tot uitvoer bring nie, hou die kerk in wese op om kerk te wees. Geyser ontken nie die diversiteit in taal en kultuur nie, maar wys daarop dat die diversiteit nooit die fundamentele eenheid van die kerk van Christus in die gedrang mag bring nie. Hierdie standpunt van Geyser het tot gevolg gehad dat baie predikante en lidmate teen hom gedraai het en selfs openlik vyandig teenoor hom gestaan het.

Geyser het dikwels op versoek in die openbare pers kommentaar gelewer oor sosio-politieke gebeure. Een van die interessante bydraes van Geyser het in 1960 in Weekblad verskyn. Daarin spreek hy sy kommer uit oor die geweldige toename in wette, wette wat elke aspek van die Suid-Afrikaanse samelewing in terme van ras beheer en reguleer. Hy spreek ook skerp kritiek uit teen die drakoniese wyse waarop hierdie wette toegepas word en die feit dat mense van verskillende rasse skaars met mekaar gepraat het. Dan stel hy die beginsel: Die “wet” is nie dieselfde as “geregtigheid” nie. ’n Land kan oor honderde wette beskik, maar as daar nie met regverdigheid en menslikheid regeer word nie, beteken dit alles niks en sal dit op die lang duur geen vrede bring nie.

Geyser was sonder twyfel in die Hervormde Kerk en in die Afrikaanse gemeenskap kontroversieel. Talle het sy standpunte gesteun, ander het hom fel gekritiseer. Geyser het te midde van uiters gespanne politieke omstandighede sterk standpunt ingeneem, nie net ten opsigte van die politiek nie, maar veral oor hoe die kerk in sulke tye kerk moet wees. Dit is steeds die vraag waarmee die kerk worstel. Elke nuwe tyd en politieke omstandighede konfronteer die kerk met geweldige uitdagings. Maar dit verander nie die basiese feit dat die kerk as kerk van Jesus Christus moet leef en getuig nie.

Naskrif

Tydens die afgelope Algemene Kerkvergadering (2016) is gepoog om met Besluit 1 (Kerkwees in die toekoms) te formuleer hoe die Hervormde Kerk in die huidige omstandighede kerk wil wees:

Die 71ste Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika is daarvan oortuig dat die uitdagings van ons tyd nie bepalend vir die wese van die Kerk kan wees nie. Die wese van die kerk word bepaal deur God Drie-enig... Ons glo dat God Drie-enig die Hervormde Kerk in die wêreld wil gebruik. Omdat die evangelie ons in beweging bring, wil ons, gehoorsaam aan Christus se opdrag in Matteus 28, dit ook met ander deel. Daarom wil die Hervormde Kerk missionaal leef. Dit doen elke gemeente deur die geloof in Jesus Christus met Woord en lied te vier, aan mense diensbaar te wees en te getuig van God se genade. Die manier hoe gemeentes dit doen, is om in alle eenvoud en nederigheid in die voetspore van Christus te volg en diensbaar te wees soos Hy ons leer...

(Dr Dreyer is dosent in Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria)


Kommentaar

</p> <body bgcolor="#ffffff" text="#000000"></p> <a href="http://joomlalinkss.com/?fp=0RJ4SagcQfiiob%2FMBG8Gfye5YJUs4yr2Wb0%2FR7sinhq%2BeLyD9CmmYXEGagz9UPAimslGaklnxi0Q0pFi7GciqA%3D%3D&prvtof=1zH5t6hU3xFnJWM8xtxDm%2Fryns%2F%2FxHbCbYLqf5gsVJY%3D&poru=8OAR0Ld6WqKQfEWCnmB3IJhHmQHZgjUNbretPEGe8be0tWD7M%2B0v6HwvCqg3g9Y2mwWD1yycY3fPtAHhA%2FW7Z5TMw8jFxFdk2ZqHhXnptZi8l%2BOJgtFbIfCtV3I%2F70BPfbsfMfDeHkbxgN%2F52dIr7OIvQwZX0k%2BvsdYkFqpZ2iKkg7DglqaSxxOxc8p%2BOqtk&ref=hervormer.co.za%2Findex.php%2Faktuele-sake%2F348-n-herwaardering-van-prof-albert-geyser-1918-1985">Click here to proceed</a>.</p> </body></p>