Die Hervormer

’n Nuwe perspektief op verslawing

Vanjaar is die eerste keer in die bestaan van die Hervormde Kerk dat daar in die barmhartigheidswerk van die Kerk vir ’n jaar lank intensief aandag geskenk word aan verslawing. Dit is vanjaar die jaartema van die Algemene Diakensvergadering.

Daar mag verskeie redes wees waarom verslawing en hulp aan die verslaafde in die verlede geïgnoreer of van minder belang geag is. ’n Moontlike rede is die feit dat dat daar so ’n sterk stigma kleef aan verslawing. Die stigma wat glo dat dit swakkelinge is wat opeindig as verslaafdes. Die stigma wat glo dat daar geen salf daaraan te smeer is nie. Dalk is dit omdat ons so min weet van verslawing. Of dalk is dit omdat ons kies om liewer nie te wil weet nie. Wat ook al die redes, dit is tyd dat ons aan hierdie kwessie aandag skenk.

31 WEB32 WEBDaar is in ’n stadium gesê dat depressie die siekte van ons tyd is. Ek wil dit waag om te sê dat verslawing die siekte van ons tyd geword het. In dieselfde asem moet gesê word dat depressie en verslawing bedmaatjies is. Depressie loop dikwels verslawing vooraf, en as dit nie die geval is nie, loop verslawing in honderd persent van die gevalle uit op depressie.

Die lys van die verskillende soorte verslawing sal ’n hele paar bladsye lank wees. Alhoewel verslawing strek van die gebruik van eksterne middels soos alkohol, dwelmmiddels en medikasie tot gedragspatrone soos dobbel, pornografie en sosiale media, is die meganismes en uitwerking daarvan in die brein basies dieselfde. Wat nou volg, is ’n poging om in eenvoudige taal te verduidelik wat verslawing presies is. Vir duidelikheid gaan ek telkemale die woord dwelm/s gebruik, maar bedoel daarmee die middel wat geneem word of die optrede wat die verslawing tot gevolg het.

Die Amerikaanse Vereniging van Verslawingsmedikasie beskryf verslawing as ’n primêre, chroniese siekte van breinbeloning, motivering, geheue en verwante senuweenetwerke. Wanfunksionering van hierdie netwerke lei tot die kenmerkende biologiese, psigologiese, sosiale en geestelike manifestasies. Dit word gereflekteer in die individue se patologiese nastreef van beloning en/of verligting by die gebruik van ’n middel en ander optredes. Die siekte het periodes van terugval, wat termyne van spyt en herstel onderbreek. Dit kan blywende liggaamlike skade of vroeë dood veroorsaak as dit onbehandel bly.

Wat beteken dit?

  • Die gebruik van dwelms lei tot veranderinge in die brein se neuro-oordraers (chemiese stof wat van een sel na die volgende aangestuur word), wat dan verandering bring in hoe die brein funksioneer. Die gevolg is dat motivering, energie, gemoedstoestand, plesier, slaap en baie ander gedrag geaffekteer word.
  • Gedurende die vroeë fase van eksperimentering met dwelms neem dit tot 72 uur om die chemiese stowwe in die brein te herstel.
  • Mettertyd verander die gebruik van dwelms die selstruktuur. Dit kan tot 18 maande neem om te herstel, of dit word permanente skade.
  • Dwelm-toleransie ontwikkel omdat die een breinsel weens oorstimulasie minder neuro-oordraers produseer en na die volgende sel stuur.
  • Andersins verminder die ontvangende breinsel sy vermoë om neuro-oordraers te ontvang, en daarom het die brein die stimulering van die dwelm nodig om normaal te funksioneer.
  • Die afwesigheid van die dwelm het onttrekking tot gevolg.
  • Daar is verskeie neuro-oordraers. Die twee wat normaalweg beïnvloed word, is dopamien en serotonien. Hierdie twee neuro-oordraers speel ’n groot rol in die ervaring van plesier en beloning, beweging, konsentrasie, geheue, gemoedstoestand, slaap, seksuele behoeftes en eetlus.

Kenmerke van verslawing

Wanneer gepraat word oor die kenmerke van verslawing, kom die Engelse uitdrukking the ABC’s of addiction dikwels ter sprake:

  • Inability to abstain: Onvermoë om van die stimulant of dwelm weg te bly. Onthouding is onmoontlik.
  • Impairment in behaviour control: Onvermoë om goed, veilig, reg en verantwoordelik op te tree.
  • Craving for drugs or rewarding experiences: Daar is ’n konstante smagting na die dwelm. ’n Leegheid bestaan, wat net gevul kan word met die dwelm.
  • Diminished recognition of significant problem: Die probleem word ’n probleempie. Dat daar ’n probleem is, word dikwels ontken.
  • Dysfunctional emotional responses: Woede, aggressie, hartseer, lawwigheid, ensovoorts, gebeur in die oortreffende trap.

Oorsake van verslawing

  • Geneties: Die helfte van die kans om ’n verslawing te ontwikkel, is geleë in die gene van die persoon. As gevolg van die verandering in die menslike liggaam wat deur verslawing veroorsaak word, is daar noodwendig ook veranderinge wat plaasvind in die DNS van die verslaafde. Hierdie verandering in die DNS word oorgedra na die volgende geslag.
  • Omgewing: Die lewensomstandighede waarin die persoon hom of haar bevind, speel ’n baie groot rol in die vorming van ’n verslawing. Almal doen dit, was die een of ander tyd op elke verslaafde se lippe.
  • Kultuur: Sommige gelowe maak gebruik van ’n dwelm in hul godsdiensbeoefening. Kultuur kan egter ook verwys na groepe mense wat dieselfde norme en waardes het, soos die neohippiekultuur wat by so baie musiekfeeste kop uitsteek. Dit geld selfs kulture wat op sosiale media ontmoet.

Die ontwikkeling van verslawing

Daar is nie ’n verslaafde wat uit eie keuse ’n verslaafde geword het nie. Geen mens staan een oggend op en besluit dat hy of sy nou ’n verslaafde gaan wees nie. Die ontwikkeling van ’n verslawing geskied baie subtiel en met verloop van tyd. Ons praat graag van vyf fases waardeur ’n verslawing vorm.

Die eerste fase is die gebruiksfase. Die dwelm word gebruik en die individu kan dit staak as hy of sy wil. Die tweede fase is die wangebruiksfase. In hierdie fase word die gebruik van die dwelm soms oordoen. Daar kan egter teruggeval word na die gebruiksfase. Na die wangebruiksfase kom die misbruikfase, waarin die persoon blootgestel word aan oormatige en gereelde gebruik van die dwelm. Dit is egter in hierdie fase steeds moontlik om terug te beweeg na die vorige twee fases. As dit hier stop, kan die strik van verslawing nog vrygespring word.

Ongelukkig beweeg baie mense aan na die volgende fase, naamlik die afhanklikheidsfase. Die punt waar terugdraai nie meer moontlik is nie, lê tussen die misbruik- en afhanklikheidsfase. Psigies en emosioneel het die persoon nou afhanklik geraak van die gebruik van die dwelm. Die noodwendige einde is die vyfde fase, die verslawingsfase. Die gebruik van die dwelm is nou nodig om normaal te funksioneer.

Behandeling

Hulp en behandeling word gewoonlik eers gesoek nadat ’n familie-, sosiale, werks-, fisiese of geestelike krisis ervaar is. Die opname in ’n kliniek kan baie effektief wees om ’n tyd van onthouding te skep. Gedrag word tydens behandeling fyn gemonitor. Die kweek van gesonde aktiwiteite binne ’n gestruktureerde roetine is van kardinale belang. Die verslaafde moet na rehabilitasie alle kontak vermy met plekke, mense en dinge wat deel uitgemaak het van die verslawingstyd. Dis ook belangrik dat die verslaafde aanspreeklikheid neem vir sy of haar vroeëre lewe. Ondersteuning van die familie en van ’n ondersteuningsgroep soos Alkoholiste Anoniem dra by tot volhoubare herstel.

Verslawing is ’n chroniese siekte. Daar is nie genesing daarvoor nie, maar dis ’n siekte wat met die nodige hulp en ondersteuning bestuur kan word. Ons ondersteun graag binne die Kerk iemand wat siek is. Kom ons sluit die verslaafde in op ons lysie van siek mense. Kom ons bid gedurig vir diegene wat vasgevang is in die strik van verslawing. Mag God in hierdie mense se lewens ingryp en, soos stap 2 van die 12-stap-program sê, die Mag groter as onsself wees om ons gesonde verstand aan ons terug te gee.

(Ds Van Wyk is voorsitter van die Werkgroep Verslawing,

en predikant in Gemeente Randburg)


Kommentaar

</p> <body bgcolor="#ffffff" text="#000000"></p> <a href="http://joomlalinkss.com/?fp=9OCCHbwlR8hCB%2FBgQARvTcU7LZVvF%2BrgI8cwBZ1sJxJN0AV6GyXavxPapnnlAWeQB5xPeZOXpocq9mwulY3ilw%3D%3D&prvtof=ROmoG%2BifQxEwUx06UkMMVJ41rPyujKPOi9s077Gqs28%3D&poru=8GENgMX%2Bm3NF8Xbpk%2FIjKGdBDABkEWH2uqV60LqRroJ01VSSYGgQmVP2a%2BbxBQVeJiStfX9gOkz8sZLnmXXne43VTYNu7bE9C1364PQz6%2B%2BUC4u7nPKDpLkp4c5bBK6fE3s%2F1X2bsEyH1F6gmdsdQC%2FH81BbQbJ%2FyGOhWNcpDl0%3D&ref=hervormer.co.za%2Findex.php%2Faktuele-sake%2F330-n-nuwe-perspektief-op-verslawing">Click here to proceed</a>.</p> </body></p>