Die Hervormer

Die Hervormde Kerk – plaaslik én algemeen

Wanneer ’n mens na gesprekke in die Kerk luister, is dit duidelik dat die verhouding tussen  plaaslike gemeentes en die kerkkantoor of Pretoria of die Algemene Kommissie nie altyd duidelik óf gemaklik is nie. Waar die Hervormde Kerk tans met ’n proses van heropbou en die vestiging van ’n volhoubare model van kerkwees besig is, is dit noodsaaklik dat die eenheid en verskeidenheid in die Hervormde Kerk weer duidelik belyn word.

Belang van die plaaslike gemeente

In die Reformatoriese tradisie is die plaaslike gemeente van uiterste belang. Ons bely in Artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis dat die ware kerk sigbaar word waar die evangelie suiwer verkondig en die sakramente volgens die Woord van God bedien word. Die plaaslike gemeente is verantwoordelik om die evangelie met Woord, daad en lewenswyse te verkondig. Die gemeente en kerk bestaan omdat God deur sy Woord en Gees mense tot geloof bring en hulle deel maak van sy kerk. Elke gemeente wat elke Sondag gelowig en gehoorsaam rondom die Woord vergader, is ’n teken van God wat met mense op pad is, van God se koninkryk wat nie net ’n teorie is nie, maar wat konkreet in mense se lewens sigbaar word.

Vir die Hervormde Kerk is die welstand van gemeentes en predikante van uiterste belang.  Daarom het die Algemene Kerkvergadering geld beskikbaar gestel vir die begeleiding van gemeentes en predikante. Gemeentes en predikante word ook uitgenooi om van die hulp en dienste van die Moderamen, die Welstandsprogram en die Hervormde Teologiese Kollege gebruik te maak.    

Belang van die algemene kerk
Die gevaar bestaan altyd dat die belang van die plaaslike gemeente so sterk beklemtoon word dat die eenheid met die res van die kerk skade lei. In uiterste gevalle lei dit tot  kerkskeuring, soos die Hervormde Kerk in 2013 ervaar het. In dié verband is dit dalk goed om weer die woorde van Johannes Calvyn in herinnering te roep, toe hy gesê het dat hy al die oseane van die wêreld sal deurkruis ter wille van kerklike eenheid omdat Christus dit van ons eis om mekaar in liefde en eenheid te dien. Deur die genade van God is daar tans weer groter kalmte en eensgesindheid.

Ons bely elke Sondag tydens die erediens een, heilige, algemene en Christelike kerk. Die eenheid van die kerk is nie ’n teoretiese belydenis nie, maar rig ’n appèl tot ons om die eenheid sigbaar uit te leef. Die eenheid tussen Hervormde gemeentes onderling is die eerste linie van kerklike eenheid. Dit word konkreet sigbaar wanneer afgevaardigdes van al die Hervormde gemeentes in ’n Algemene Kerkvergadering byeenkom om gesamentlik besluite te neem en verantwoordelikheid te aanvaar vir ons kerkwees in die wêreld.  

Die eenheid tussen Hervormde gemeentes berus ten diepste op die eenheid in Christus. Dit vind ook gestalte in die kerklike leer, belydenis, orde, liturgie en dienswerk. Kerklike eenheid raak die hart van kerkwees en daarom moet ons besondere erns daarmee maak.

Eenheid en verskeidenheid
Wanneer ons erns maak met kerklike eenheid, beteken dit dat gemeentes nie willekeurig kan optree nie. Predikante en gemeentes is teenoor mekaar verantwoordelik om binne die kerklike belydenis, orde en liturgiese riglyne te handel. Terwyl die verskeidenheid in die kerk waardeer word en elke gemeente se unieke situasie erken word, impliseer dit nie grenslose vryheid nie. Om dit met een voorbeeld te illustreer: ’n Predikant kan nie sy eie geloofsbelydenis opstel om in die erediens te gebruik nie. Die belydenis bind ons nie net onderling aan mekaar nie, maar ook aan die kerk van alle eeue.

Die eenheid van die kerk word gedien wanneer die besluite van die Algemene Kerkvergadering gerespekteer word. Indien ons daarvan verskil, dien ons die eenheid wanneer ons op ’n ordelike wyse daarna streef om spesifieke besluite te verander. Diversiteit is belangrik, maar staan altyd ondergeskik aan die eenheid van die kerk.  

Uitdaging vir 2015
In die ontwikkeling van ’n volhoubare model van kerkwees is dit van kritieke belang dat ons kerklike praktyk voortvloei uit ons verstaan van kerkwees. Slegs dan kan ons met integriteit kerk wees. Dit wat die kerk wesenlik is, moet in ons doen en late sigbaar word. Die eenheid van die kerk hoort tot die wese van die kerk, daarom is kerklike eenheid nie net ’n gawe aan ons nie, maar ook ’n opdrag.

Die uitdaging is om die regte balans te vind: Hoe moet ons eenheid en diversiteit, plaaslik en algemeen, kerkraad en sinodale vergaderings, met mekaar belyn word? Die eenvoudige oplossing is dat elkeen doen wat op sy eie terrein lê. Gemeentes is verantwoordelik vir die bediening van die evangelie (in die erediens, pastoraat, apostolaat en diakonaat). Maar daar is ook belangrike take wat gemeentes nie kan uitvoer nie, soos teologiese opleiding, kerklike dissipline, bewaring van inligting en kerklike publikasies. Daarvoor is ’n sinodale struktuur nodig.  

Die Hervormde Kerk moet met verantwoordelikheid en integriteit kerk wees. Mag ons in 2015 die genade en krag van die Here ontvang om getrou te bly aan ons roeping.