Die Hervormer

Erfenisbewaring

3 Wouter van WykDie oorwinnaar skryf die geskiedenis, word dikwels gesê. Dit is nie heeltemal waar nie. Dit is meer akkuraat om te sê die oorwinnaar wil gewoonlik die geskiedenis skryf soos dit hom pas.

 

Die oorwinnaar wil gewoonlik sy oorwinning simbolies uitdruk deur die strukture van die vorige bestel af te breek. In die ou Nabye Ooste het die oorwinnaars die stede wat hulle oorwin het geplunder, die stadsmure, paleis en tempel platgeslaan en dan die hele stad aan die brand gesteek. Tydens die Kerkhervorming het Protestante ’n tyd lank Roomse katedrale bestorm en die beelde van heiliges flenters geslaan. Met die val van die Kommunistiese magsblok is nie net die Berlynse muur nie, maar ook die standbeelde van Lenin en Stalin en ander leiersfigure afgebreek. Die aanslag op die standbeelde van Cecil John Rhodes, Paul Kruger en ander hier in Suid-Afrika verlede jaar is in ’n sekere sin ook maar net ’n manier waarop een groep hul politieke oorwinning oor ’n ander groep mense simbolies wil demonstreer.

 

Maar dit was selde indien ooit moontlik om die spoor van ’n gemeenskap uit te wis. Want ons almal laat altyd ’n spoor na, en daardie spoor vertel ’n meer volledige verhaal as die meesternarratief wat die oorwinnaars aan almal wil opdring. Die spoor wat ons nalaat, is ons erfenis. Hierdie erfenis neem vele vorms aan: natuur, geboue en fisiese infrastruktuur soos paaie, spoorlyne, damme en kragstasies, sportkomplekse, monumente, vervoermiddels, meubels, gebruiksgoedere, speelgoed, klere, juwele, taal, woorde, name, familiegeskiedenisse, boeke, koerante, tydskrifte, tekste, foto’s, musiek, klankopnames, films, en uiteindelik grafte en beendere.

 

Elkeen van hierdie voorbeelde van ons erfenis vertel iets van ons: hoe ons die natuur bewaar, ontwikkel, geëksploiteer of vernietig het, watter soort geboue ons opgerig het en hoeveel en waar, watter infrastruktuur ons gevestig het en wat ons laat vergaan het, ensovoorts. Elke aspek van ons erfenis dui aan wat ons aangepak het, wat ons vermag het, en waar ons gefaal het. Dit wys wat ons by ander geleer, geleen en gekoop het. Dit wys ons gedeelde erfenis met ander gemeenskappe, en dit wys waar ons van ander verskil het. Dit wys watter verskille daar selfs binne een en dieselfde gemeenskap bestaan het. Dit wys wat vir ons belangrik was en wat nie.

 

Die hele verhaal

Hoe beter ons ons erfenis bewaar, hoe vollediger kan ons verhaal later oorvertel word, hoe meer kan ’n latere geslag begrip hê vir ’n vorige geslag. ’n Persoon wat sy familie koester, wil die familie se naam, eiendom en kleinode bewaar. So iemand soek en versterk bande met sy familie, hang familieportrette in die huis, en dra familiemeubels en erfstukke oor van geslag tot geslag. So iemand vertel die verhale van sy ouers en grootouers se lewensgeskiedenisse aan sy kinders oor, sing die kinderliedjies van sy eie kinderdae weer vir sy kinders en kleinkinders, en deel die waardes van sy voorouers met sy nageslag.

 

Net so doen ’n gemeenskap wat hul erfenis waardeer moeite om dit te bewaar. ’n gemeenskap bewaar hul erfenisgebiede, hul inheemse plante en diere, hul riviere, vleilande en vlaktes sodat hul nageslag dit ook nog eendag sal kan geniet. So ’n gemeenskap bewaar hul monumente, ou geboue en kerke vir ’n volgende geslag. So ’n gemeenskap koester hul taal, letterkunde, drama, kuns en musiek.

 

Die verhaal van die Kerk

Die Hervormde Kerk is ook ’n gemeenskap met ’n unieke erfenis. As geloofsgemeenskap dra ons die verhale van die Bybel en die geskiedenis van ’n reformatoriese Kerk. Die Woord van God spreek op ’n besondere manier tot ons, ons kerkgeboue is op spesifieke maniere ontwerp, ons erediens, prediking en kerklied het ’n bepaalde karakter, ons kerklike aktiwiteite word op sekere maniere ingerig.

 

Die verhaal van die Hervormde Kerk se ontstaan en iets van die maniere waarop dit in ons kerkwerk uitdrukking gevind het, word mooi in die SP Engelbrecht-museum vertoon. Prof Fanie Engelbrecht, die eerste kerkhistorikus van die Nederduitsch Hervormde Kerk, se passievolle versameldrang het oor ’n lang tydperk ’n unieke versameling van kerk- en kultuurhistoriese waarde byeengebring om die geskiedenis van die Hervormde Kerk in Suider-Afrika sedert die Groot Trek uit te beeld. Hierdie versameling is mettertyd uitgebrei deur skenkings van ander persone en instansies, en word tans gehuisves in die historiese kerkgebou van Gemeente Pretoria.

 

Die Museumuitstalling beskryf die herkoms van die Hervormde Kerk en belig die godsdienstige rol en invloed van die Kerk, ook op ander lewensterreine soos die politieke, sosiaal-maatskaplike, ekonomiese, geografiese en taalkundige terreine. Weens die beleid van staatsmuseums mag geen versamelings wat met die sogenaamde koloniale verlede van Suid-Afrika verband hou, tans uitgestal word nie. Die gevolg is dat die SP Engelbrecht-museum een van weinig plekke is waar besoekers iets van die vestiging van ’n geloofsgemeenskap in die binneland van Suid-Afrika kan sien. Die Museum vertoon kerkpraktyke soos die gebruik van sakramente, die doop en Nagmaal, asook voorbeelde van preekstoele, togas, Bybels en kansellappe. Die ontwikkeling van die Kerk, die NHSV en kerklike strukture, die Kerk se betrokkenheid by die Bybel in Afrikaans, belangrike persoonlikhede en kerklike geleenthede kry ook aandag. Besoeke deur gemeentes, sustersverenigings en jeuggroepe kan gereël word deur mev Ansie Joubert soggens by 012 321 7580 te skakel.

 

Benewens die Museum, beskik die Hervormde Kerk oor een van die grootste en waardevolste argiewe in die land. Trouens, die Dirk van der Hoffgebou is spesifiek om die Kerkargief ontwerp om voorsiening daarvoor te maak dat ons unieke versameling dokumente veilig bewaar kan word teen die gevare van temperatuurskommelings, lig, vog, skimmel, stof, chemiese besoedeling, insekte en knaagdiere, mense se handelinge, en brand.

 

Die Kerkargief huisves unieke historiese dokumente wat in sommige gevalle die vestiging van die Zuid-Afrikaansche Republiek in 1855 voorafgaan. Dit sluit die notules van kerkraadsvergaderings en Algemene Kerkvergaderings sedert 1842 in, asook dokumente, foto’s en voorwerpe van predikante, gemeentes, ringe en sinodale strukture. Hierdie versameling is nie net vir die Hervormde Kerk belangrik nie, maar vir algemene navorsing en begrip van die kerklike, staatkundige en sosiokulturele ontwikkeling van Suid-Afrika.

 

Die Argief word op ’n daaglikse basis deur die personeel van die Sinodale Dienssentrum gebruik om inligting oor gemeentes, lidmate en predikante vir uiteenlopende redes te onttrek. SENTIK maak deurlopend van die Argief gebruik vir tydskrifartikels, gedenkbundels en ander publikasies. In die litigasie teen diegene wat onlangs uit die Hervormde Kerk weggebreek het, speel inligting wat in die Kerkargief bewaar word ’n sleutelrol.

 

Laastens beskik die Kerk ook oor ’n omvangryke biblioteek wat eintlik saamgestel is uit vier versamelings: eerstens ’n omvattende versameling van al die kerklike tydskrifte en publikasies, asook van die skripsies, verhandelinge en proefskrifte van alle Hervormde predikante; tweedens die SP Engelbrecht-versameling (wat duisende boeke en pamflette insluit); derdens die Van Selms-versameling; en laastens die AIM-biblioteek.

 

In terme van lidmaattalle is die Hervormde Kerk vandag in ’n dalende fase. Die kerk se invloed op die breër samelewing het ook aansienlik afgeneem, met owerheid en onderdaan wat hulle al minder aan die kerk steur.

 

 

Tog het ons ’n waardevolle erfenis. Die spoor wat ons op kerklike en maatskaplike terrein getrap het, word onder meer in ons Kerkargief, biblioteek en SP Engelbrecht-museum bewaar. Dit is ’n belangrike spoor wat ’n ander perspektief bied as die meesternarratief wat die huidige bewindhebbers graag as die volle en enigste waarheid aan die wêreld wil voorhou. Dit is belangrik dat ons hierdie erfenis in stand hou en aan ons nageslag oordra.

 

(Dr Wouter van Wyk is die NHKA se sekretaris vir kommunikasie en voorsitter van die direksie van die Erfenisstigting.)