Die Hervormer

Herevaluering van Jürgen Moltmann

Teologiese diepte was nog altyd vir die Hervormde Kerk van groot belang. Daarom het die Kerk honderd jaar gelede besluit dat ons predikante aan ’n universiteit, en nie net ’n kerklike kweekskool nie, opgelei moet word. Daarom was dit oor die jare vir soveel predikante belangrik om hulself nagraads in die een of ander teologiese vakgebied verder te bekwaam. Daarom is alle predikante verplig om die jaarlikse Voortgesette Teologiese Toerusting (VTT) by te woon.

Die oprigting van die Hervormde Teologiese Kollege (HTK) in 2000 het onder meer ook ten doel gehad om kursusse vir die voortgesette teologiese opleiding van predikante aan te bied, en in wyer verband programme en kursusse vir die toerusting van ampsdraers en lidmate. Dieselfde motivering het gelei tot die totstandkoming van die Tydskrif vir Hervormde Teologie (THT) in 2013, wat daarna streef om goeie teologie in verstaanbare Afrikaans vir predikante en lidmate toeganklik te maak. In aansluiting hierby reël die redakteur van die THT, prof IWC van Wyk, jaarliks openbare lesings oor prominente teoloë. In 2014 het die lesings gehandel oor die werk van Rudolph Bultmann, en in 2015 oor Gerhard Ebeling. In 2016 val die fokus op Jürgen Moltmann wat hierdie jaar 90 jaar oud is.

’n Kontroversiële figuur

Jürgen Moltmann kan in baie opsigte as ’n kontroversiële figuur in die teologie beskou word. Binne die Hervormde Kerk is hy veral in die 1980’s skerp gekritiseer, hoofsaaklik as gevolg van sy prominente rol in die ekumeniese beweging. Moltmann het onder andere ’n groot invloed uitgeoefen op die Wêreldraad van Kerke se verstaan van menseregte. Vanuit hierdie verstaan van menseregte het die groot internasionale ekumeniese liggame die Afrikaanssprekende kerke toenemend begin kritiseer oor hul teologiese regverdiging van die politieke beleid van apartheid. Vanuit ons Kerk is daar destyds geoordeel dat hierdie teologie aandring op universele regte vir alle mense, iets wat uit ’n humanistiese ideologie voortvloei. Met die uitsondering van ’n paar individuele teoloë in ons Kerk, het die Hervormde Kerk nie regtig van Jürgen Moltmann kennis geneem nie.

Vandag sou dit eenvoudig kortsigtig wees om nie Jürgen Moltmann se invloed in die teologie te erken nie. Soos Karl Barth (1886-1968) voor hom, is Moltmann ’n teoloog wie se denke byna elke hoofstroomkerk in die 20ste eeu beïnvloed het. Wat verder merkwaardig is van Moltmann, is dat hy op 90-jarige ouderdom steeds boeke publiseer en die wêreld vol reis om lesings aan te bied! Baie van hierdie lesings is op YouTube beskikbaar vir enigiemand wat belangstel om daarna te kyk.

’n Herevaluering

Daarom is dit goed dat die Hervormde Kerk nou opnuut aandag aan Moltmann gee. Om te dink dat Moltmann slegs oor menseregte geskryf het, is soos om te dink dat Beethoven slegs klaviersonates gekomponeer het. Daarmee saam moet ons ook erken dat ons eie Kerk se aanvanklike evaluasie van Moltmann natuurlik ook gekleur is deur ’n bepaalde sosio-politieke konteks wat verhinder het dat die diepgang en vele dimensies van sy teologie na waarde geskat kon word. 

Moltmann se lewensverhaal is op sigself fassinerend. As ’n tiener tydens die Tweede Wêreldoorlog is hy ernstig geraak deur die gebeure van die oorlog. Hy en feitlik sy hele familie was grootliks buitekerklik. Maar in die brutaliteit en gewelddadige aard van die oorlog kon hierdie buitekerklike seun nie help om te vra waar God is nie. Hier het hy ook gevra waarom hy steeds gelewe het terwyl soveel van sy klasmaats in die oorlog omgekom het. Hy het toe juis in ’n gevangeniskamp tot bekering gekom en besluit om teologie te studeer.

Deurlopende tema van hoop

Moltmann se eerste groot akademiese deurbraak het in 1964 plaasgevind met die publikasie van sy boek Theologie der Hoffnung (Teologie van hoop). Hierdie werk verwerf enorme erkenning wêreldwyd en is vandag steeds in druk – wat reeds ’n aanduiding gee van die populariteit van die boek. Met hierdie boek lê Moltmann die fondament wat feitlik regdeur sy teologie prominent is, naamlik dat hoop fundamenteel deel is van die Christelike geloof. Waar die kerk nie meer hoop bied nie, is dit nie meer kerk nie. Maar hierdie hoop is nie net ’n hoop op ’n eendag daar ver nie. Dit is ’n hoop wat reeds vandag ’n invloed het op gelowiges. Hierdie hoop is gevestig in die beloftes van God.

Moltmann self definieer hoop soos volg: Hoop is om te glo dat God sal doen wat God beloof het om te doen. Om te leef met hierdie sekerheid, is om reeds iets van die koninkryk van God op aarde te beleef. Wanneer ’n mens in gedagte hou uit watter omstandighede Moltmann kom, is sy vertroue soveel te meer inspirerend. Hoe kan iemand wat uit die haglike en stukkende omstandighede van die Tweede Wêreldoorlog kom, hoop behou? Dit herinner ons ook aan Paulus se standvastige hoop en vertroue te midde van gevangenskap en vervolging.

Deur Jesus se opstanding sien ons hoe God getrou is aan sy beloftes. Ons sien hoe ons hoop op die toekoms beliggaam word deur Jesus in die hede. So slaag Moltmann daarin om die eskatologie (leer van die eindtyd), wat in ’n groot mate relevansie verloor het teen die begin van die 20ste eeu, weer as ’n kardinale pilaar van die teologie te bevestig.

Met ’n lang, aktiewe loopbaan soos dié van Moltmann is dit natuurlik onmoontlik om in ’n kort artikel volledig aandag te gee aan sy teologie. Deur sy loopbaan gee Moltmann aan ’n ongelooflike groot verskeidenheid van sake aandag – van Jesus Christus as die gekruisigde God tot die rol van die kerk in ekologiese krisisse. Deurgaans speel Moltmann se verstaan van die Drie-eenheid en God se koninkryk ook ’n groot rol in sy teologie. Meer onlangs het sy fokus geval op die etiese aspekte van die Christelike geloof. Regdeur al hierdie werk is die tema van hoop duidelik sigbaar.

Simposium oor Moltmann

Binne die Hervormde Kerk is daar nog nooit teruggedeins van ’n kritiese beoordeling van enige saak nie. Dit is in wese deel van ons identiteit. Deur hierdie proses is dit moontlik dat ons na sowel die positiewe as die negatiewe aspekte van ’n teologiese bydrae kan kyk, dit evalueer en dan besluit wat vir ons verstaan van kerkwees nuttig is. Juis daarom lewer die komende Moltmann-simposium ’n positiewe bydrae tot die Kerk se kritiese teologiese nadenke.

Die simposium vind plaas op 17 Augustus. ’n Paar teoloë uit ons Kerk is gevra om elk ’n voordrag aan te bied oor ’n bepaalde aspek van Moltmann se teologie. Dit beloof om ’n verrykende ervaring te wees. Ons nooi daarom alle belangstellendes uit om hierdie geleentheid by te woon. Daar is geen koste aan verbonde nie. Hou gerus blitspos@nhk dop vir meer inligting.