Die Hervormer

Buig die boompie terwyl hy nog jonk is

Ons ken almal die uitdrukking: Buig die boompie terwyl hy nog jonk is. Maar as ons kyk na die waardes van die jeug van vandag, dan wonder ’n mens of ons genoeg moeite doen om daardie boompies in die regte rigting te buig. Het ons as Kerk genoeg invloed op ons jongmense om Christelike waardes in hul lewens te vestig?

Kan ons werklik met een erediens per week wat nie altyd kindervriendelik is nie, ’n halfuur kategese en dalk ’n aktiewe jeuggroepie daardie waardes in ons jongmense vestig? Veral as ons nie altyd genoegsame steun vir die vestiging van daardie waardes vanuit die ouerhuis kry nie?

Moslemgebruik
Soms voel ’n mens half jaloers op die Moslems. Hulle glo ook dat die boompies gebuig moet word terwyl hulle jonk is. Daarom kry ons die gebruik van die sogenaamde madrasa, waar Moslemkinders ná gewone skoolure by die moskee onderrig word. Die Arabiese woord madrasa  met sy meervoud madarīs verwys gewoonlik na ’n soort godsdienstige skool waar die Islam as godsdiens bestudeer word. Die woord beteken letterlik ʼn plek waar leer en onderrig plaasvind. Ter wille van die gebruik van die woord in Afrikaans, sal ons eerder madrasas as meervoud gebruik, en nie madarīs nie.

In Moslemlande vind hierdie onderrig natuurlik in hul skole en sekondêre inrigtings plaas, maar in lande waar daar nie ’n Moslemregering is nie, en hierdie onderrig dus nie deel van die leerplan van die openbare skole is nie, vind die onderrig by die madrasas dan na die gewone skoolure plaas. ’n Tipiese madrasa bied gewoonlik twee rigtings aan: ’n ḥifẓ kursus waar die leerlinge leer om die Koran te memoriseer, en ’n ʻālim kursus waar hulle leer om ’n aanvaarbare lid van die Moslemgemeenskap te word. So ’n kurrikulum sluit dan in kursusse in Arabies, in die interpretasie van die Koran, in Islamitiese wette (sharīʻah), in die tradisie (hadiths) waar uitsprake en dade van Mohammed opgeteken is, in logika en in die geskiedenis van die Islam.

Die eerste madrasa was by Hazrat Zaid bin Arkam in Mekka, naby ’n heuwel bekend as Safa, waar Mohammed self die onderwyser was. Sommige van sy eerste navolgers was dan ook sy eerste studente. Na die amptelike begin van die Islam, toe Mohammed met die sogenaamde Hijrah na die buurstad Medina geskuif het, is die Madrasa van Suffa by ’n moskee in Medina gevestig. Daar het Mohammed vir Hazrat ’Ubada bin Samit as onderwyser aangewys en daar is, naas die gewone leerplan, ook dinge soos perdry, oorlogskuns, kalligrafie, vegkuns en atletiek geleer.
So het die gebruik gevestig geraak om Madrasas by moskees te vestig. In Suid-Afrika is die fondament vir Islamitiese onderrig deur Imam Abdullah ibn Qadi Abd al-Salam – meer bekend as Tuan Guru – gelê. Tuan Guru is in 1780 na Kaapstad verban en was ’n gevangene op Robbeneiland. Hy is in 1793 vrygelaat en het in Dorpstraat, Kaapstad, waar hy homself gevestig het, die eerste madrasa en moskee opgerig wat vandag nog bestaan. Vandag is daar meer as 600 moskees in ons land en meer as 400 opleidingsinstitute vir die Moslemjeug, wat insluit privaatskole en tersiêre instansies. Die Moslemteoloë in Suid-Afrika het ’n formele kurrikulum daargestel wat ’n betekenisvolle invloed op die Moslemgemeenskap in Suid-Afrika het. Hierdie kurrikulum en handboeke word op ’n hele aantal ander plekke in die wêreld ook gebruik.

So byvoorbeeld het die Jamiatul Ulama Suid-Afrika (Raad vir Moslemteoloë) verklaar dat die filosofie van Islamitiese onderrig daarop gemik is om jong Moslems voor te berei vir die huidige en toekomstige uitdagings. ’n Filosofie wat gegrond is op ’n teks uit die Koran wat (vry vertaal) verklaar: Allah vereis dat reg en goeie dade aan ander moet geskied en dat families versorg moet word. Hy verbied onsedelikheid en boosheid en opstande; Hy vereis dat jy verstandig moet optree. Die breë doelwit van daardie onderrig is –

om Allah te erken soos Hy deur Mohammed bekendgemaak is;
om wat ook al geleer word, uit te lewe elke dag; en
om die Islam te propageer.
Die voordeel van sulke skole is dus dat die kinders se godsdienstige onderrig baie intensiewer is as wat met ’n halfuur se kategese per week bereik kan word. Dit dra baie by tot die vorming van daardie kinders om hul plekke as volwassenes in die gemeenskap vol te staan. Die Islamitiese waardes en waarhede word soveel beter in hul menswees gevestig. Daardie boompies word dus op godsdiensvlak werklik gebuig terwyl hulle nog jonk is.

Nie net positief nie
Adolf Hitler het die waarde daarvan ook deeglik besef, soos sy bekende uitspraak bevestig: He alone, who owns the youth, gains the future. Maar juis daar sien ons hoe gevaarlik so iets ook kan wees. Sy kaping van die jeug deur die Nazi-invloed in die skole en jeugbewegings, het uitgeloop op grootskaalse indoktrinasie en breinspoeling van die jeug.

Dit moet ons laat vra of hierdie gebruik in die Islam net altyd positief is en iets wat ons ook behoort na te streef. Die probleem is, wanneer jy met kinders werk en hulle godsdienstig vorm, hang dit vreeslik baie af van wie in beheer is en van die doelwitte waarna gestrewe word. Daar kan net soveel kwaad as goed gedoen word, veral aangesien daar soveel verskille onder Moslems en ook onder Christene bestaan.

Juis omdat dit waar is dat boompies makliker gebuig word solank hulle jonk is, kan hulle ook in verkeerde rigtings gebuig word. Dit is baie maklik om kinders in sulke omstandighede te breinspoel of minstens in ’n bepaalde denkrigting te beïnvloed. Die gevaar is ook groot dat onafhanklike denke onder kinders gestrem kan word, terwyl dit iets is wat ons tog so nodig het in ons Christenskap. Ons wil immers nie dat die kinders se onderrig soos ’n worsmasjien werk waar die resultaat ’n klomp worsies is wat almal presies dieselfde lyk nie!

Fundamentalisme
In die Islam, waar die gevaar van fundamentalisme besig is om wêreldwyd toe te neem, bied sulke skole die ideale geleentheid aan leiers om die boompies in verkeerde rigtings te buig. Heel moontlik is dit een van die redes waarom baie jongmense in hierdie moderne eeu so op sleeptou geneem word met die strewes van meer radikale groepe soos die Taliban of ISIS. Een voorbeeld is die baie lede van die Taliban wat in madrasas in Pakistan onderrig is, gefinansier deur geld uit Saoedi-Arabië. Daar is die filosofie van onderrig op die Wahhabisme gegrond, ’n ultrakonserwatiewe, rigiede en streng vorm van die Islam. Gedurende die oorlog tussen Afganistan en die Sowjetunie (1979-1989) het daardie madrasas eerder op oorlogvoering (heilige oorlog) en militantheid gefokus as op godsdienstige onderrig.

In ’n artikel oor madrasas in Indië, waar ongeveer 13% van die bevolking Moslems is en daar meer as 25 000 madrasas is, word gesê die gesindheid jeens die madrasas is nie baie positief nie. Politici het al prontuit verklaar dat dit die teelaarde vir terrorisme is. Die hoofrede vir hierdie suspisie is die feit dat sulke skole dikwels by omstrede sake betrokke is en ook bydra tot die gevoel van ’n eksklusiwistiese identiteit onder Moslems.
Eerder nie!
Dus, hoe moet ons as Christene oor hierdie praktyk dink? Ons kan sekerlik insien dat dit baie waarde kan inhou vir die godsdienstige vorming van ons jongmense en baie kan bydra tot die vestiging van vaste Christelike waardes. Maar behalwe vir al die praktiese probleme wat dit sal skep as ons ook so iets sou probeer, moet ’n mens ook bewus bly van die nadele en van die negatiewe invloed wat die gebruik wel al in die verlede op die lewe van jong Moslems uitgeoefen het en in die toekoms ook kan en gaan doen. Hoeveel van die selfmoordbomplanters se saadjies vir die daad is nie dalk iewers in ’n madrasa geplant nie? Laat ons as Kerk en ouers liewer saamwerk om ons kinders godsdienstig te vorm en hulle lei om as Christene en verantwoordelike grootmense hul plek in die samelewing vol te staan.