Die Hervormer

’n Pinksterperspektief op eietydse Christelike etiek

In elke nuwe tydvak beland unieke etiese kwessies op die tafel. Elke geslag worstel dan met die vraag of Skriftuurlike getuienis genoegsaam is om relevante antwoorde daarop te verskaf – tans veral met betrekking tot politiek, arbeid, die kunste, sport, regspleging, ekonomie, gender, seksualiteit, prokreasie en mediese wetenskap.

Selfs die mees naïewe Bybelleser moet toegee dat daar nie direkte ekwivalente vir alle hedendaagse uitdagings in die Bybel gevind kan word nie. Indien algemene beginsels geformuleer kan word, is die herleiding daarvan van een situasie en tyd na ’n ander nie sonder meer toereikend nie.

Skrifverstaan en etiek
Daar is ’n gesonde reformatoriese beginsel wat vereis dat die sosiokulturele konteks waarin die Bybelteks geskryf is, behoorlik verreken word in elke ongeveinsde soeke na betekenis en in die ontwikkeling van teologie en dogma. Enige oppervlakkige en letterlike lees van die Bybel onderskat die invloed van die historiese afstand tussen die teks en die hedendaagse leser.

Waardeoordele en sienswyses wat eens vanselfsprekend was, mag vir ’n volgende geslag moeilik wees om te begryp. Kerklike leer is nie ’n statiese denksisteem waaroor klaar besin is nie, maar ’n kultuurhistories bepaalde en hoogstens voorlopige antwoord op God se openbaring. Net so ontwikkel die Christelike etiek steeds sodat elke nuwe geslag verantwoordelik en sinvol met hul eie etiese vraagstukke kan omgaan.  

Riglyne vir die hantering van slawe in die Nuwe Testament (Ef 6: 9 en Kol 4: 1) klink vreemd in die 21ste eeu, net soos die verbod op die aflê van ’n eed (Matt 5: 34) en die aandrang op ’n hoofbedekking vir elke vrou in die erediens (1 Kor 11: 13). Hierdie en soortgelyke anachronismes kan nie weggewens word nie, tensy met ’n “kanon in die kanon” gewerk word. So ’n benadering tot die Skrif is egter ongereformeerd – indien nie heeltemal oneerlik nie.

Wanneer ikone vir die werklikheid aangesien word, metafore letterlik vertolk word en die invloed van kultuur en konteks buite rekening gelaat word, skep die verkondiging van die kerk nie meer ’n ruimte waarin sinvolle diskoers en ’n dinamiese geloofslewe onbevange kan plaasvind nie.

Selfs waar teoloë min of meer eenstemmig is oor leerkwessies, bestaan daar dikwels skerp verskille oor lewenskwessies. Die vaste oortuiging dat die Skrif ’n bepaalde etiese standpunt ten volle onderskryf, word baie maal gedryf deur vrese of vooronderstellings, eerder as deur gesonde hermeneutiese beginsels.

Subjektiewe etiek
Terwyl hare gekloof word oor die “korrekte” betekenis en toepassing van die Bybelteks, wen die etiek van die post-Christelike wêreld vinnig veld. Laasgenoemde is meestal gegrond op individuele vryheid en outonomiteit, wat noodwendig beteken dat elkeen self besluit wat waar en goed (of ten minste skadeloos) is – in baie gevalle gebaseer op arbitrêre kriteria. Dit lei potensieel tot kritieklose en onbegrensde verdraagsaamheid wat onbedoeld die teelaarde word waarin fanatisme en ekstremisme kan gedy. ’n Laissez-faire-benadering kan selfs ongesiens en onwetend ’n (ideologiese) adder aan die boesem koester. Die onlangse wêreldgeskiedenis het genoeg tragiese voorbeelde hiervan opgelewer.

Ongelukkig swig die kerk ook soms voor die versoeking en val dan hierdie siening ten prooi – asof die kerk geen gesagvolle (kollektiewe) etiese uitsprake durf maak nie. Harry Kuitert se bekende uitdrukking Alle spreken over boven komt van beneden, ook de uitspraak dat iets van boven komt word dan die strydkreet van diegene wat verkies dat etiese dilemmas opgelos word buite om Skrifgetuienis en belydenis. Die gevaar om sodoende in subjektiewe relativisme te verval, is ooglopend – al word aanvaar dat die kerk, en godsdiens in die breë, nie ’n alleenreg op etiek en moraliteit het nie.

Net so min as wat legalistiese fundamentalisme die finale arbiter van etiese vraagstukke behoort te wees, net so min kan ongebreidelde menslike ervaring en behoefte dit wees. Dat albei benaderings se aanhangers daarop aandring, bring slegs die dilemma in skerper fokus.

Pneumatologie en etiek
Sinvolle Christelike etiek kan nie los van pneumatologie beoefen word nie. Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal is immers ’n Nuwe-Testamentiese wekroep (Gal 5: 25) (sien ook Joh 14: 25-26 en HK, Sondag 1).

In ’n lesing in 1929 oor ’n teologiese basis vir Christelike etiek het Karl Barth die noue verband tussen ekklesiologie, Christologie en pneumatologie beklemtoon. Barth pleit dat die Heilige Gees die kerk uit haar afgetrokke passiwiteit en onbetrokkenheid ruk om aktief betrokke te raak in die wêreld. So gesien, stel die Heilige Gees ons in staat om ons Godgegewe verantwoordelikheid en roeping volledig te aanvaar en uit te leef. Volgens Barth moet elke gelowige voortdurend bereid wees om deur God se Gees geïnspireer en bemagtig te word, en aanhangers van ’n Christelike etiek wat finaal en staties is, mag volgens Barth dalk net die indruk skep dat hulle God probeer onttroon en met hul eie “arrogante etiek” wil vervang.

Insgelyks moet bygevoeg word dat diegene wat hulle beywer vir ’n kritiese lees van die Skrif nie die gesag van die Skrif minag nie; inteendeel, om jouself nederig oop en beskikbaar te stel vir die Heilige Gees se leiding, ook in die interpretasie (en herinterpretasie) van die Skrif, dui op ’n diepe respek vir die Skrif en verhoed dat ons verstar in gestolde retoriek. Op die skouers van Luther en Calvyn maan Barth ons egter om nie die eksterne werking van die Heilige Gees te relativeer of te subjektiveer nie – dit bly steeds volkome God aan die werk.
Stanley Hauerwas, grondig deur Barth beïnvloed, gaan ’n stap verder en verklaar: Die kerk hét nie ’n etiek nie, die kerk ís ’n etiek. Die kerk hoef dus nie etiese beginsels te formuleer nie – indien die kerk getrou aan haar roeping leef en haar deur God se Gees laat lei, word goeie etiek ontbloot en hoef dit nie ontwikkel te word nie. Hauerwas toon oortuigend aan dat konvensionele Christelike etiek die moontlikhede en gawes wat God gegee het ten einde eties voor sy aangesig te kan lewe, dikwels afgeskeep het.

Die leiding van die Heilige Gees
Christus regeer sy kerk deur sy Woord én sy Gees – en deur die invloed van die Gees op die verstaan van die Woord. Die rol van die Heilige Gees in Christelike etiek as die Een wat regeer, sowel as die Een wat die gids is wat die gelowige lei in elke gegewe situasie, behoort herwaardeer te word. Slegs deur die werking van die Gees kan daar uiteindelik sprake wees van ’n integrerende Goddelike en menslike narratief. Dit is die dinamiese invloed van die Heilige Gees op Christene se lewens wat hulle in staat stel om eties te lewe – nie ’n fundamentalistiese benadering tot die Bybel of outonome innerlike oortuiging nie.
Die Drie-eenheidsleer is ’n gesagvolle en Skriftuurlik verantwoorde uitdrukking van ’n reformatoriese geloofsoortuiging. Daar moet dus gewaak word teen die neiging om die Heilige Gees te verskraal tot ’n wesenlik ondergeskikte entiteit wat gemanipuleer kan word om sekere verstarde sienings te reglementeer of persoonlike vooronderstellings te sanksioneer. Pogings om ’n opregte soeke na die leiding van die Heilige Gees af te maak as irrasioneel, oppervlakkig of emosiegedrewe, moet eweneens met agterdog bejeën word. Daar word te veel gehoor hoe in neerhalende terme verwys word na eerlike pogings om die Heilige Gees se leiding te soek.

Die Heilige Gees is ware en ewige God (NGB, art 11). Die Heilige Gees is ons Heiligmaker (NGB, art 9). Saam met die hoor van die Woord van God, bring die Heilige Gees ware geloof voort en laat die mens ’n nuwe lewe lei (NGB, art 24). Hóé dit in ons lewens neerslag vind en ons stuur deur ’n mynveld van etiese en morele moontlikhede, is ’n saak waarmee die kerk onvermoeid besig behoort te bly.