Die Hervormer

Hoe gemaak met Homo naledi?

Om  kennis te neem van die ontdekking van ’n nuwe spesie soos Homo naledi, behoort ons eerder te stimuleer om meer te wete te kom oor God se ongelooflike skepping as wat dit ons ontstel of  intimideer. Solank ons net appels met appels en pere met pere vergelyk.

Dominee, kom ons mense uit die tuin van Eden of uit die Sterkfonteingrotte? Jare gelede toe ek nog predikant op Tarlton was, het ’n oom wat naby die Sterkfonteingrotte op Kromdraai gewoon het, vir my hierdie vraag gevra. Die oom het my in daardie stadium ’n bietjie onkant gevang, maar vandag sou ek hom só antwoord: Uit albei, Oom, die tuin van Eden en Sterkfontein, dit hang net af met watter lense jy die Bybel lees en met watter oë jy na die fossiele kyk.

Die Russies-Amerikaanse genetikus Theodosius Dobzhansky skryf in 1973: Nothing in biology makes sense except in the light of evolution. Wat ons moet aanvaar, is dat die evolusieteorie regoor die wêreld in alle toonaangewende navorsing op die gebied van soölogie, genetika, biochemie, neurowetenskap, fisiologie, anatomie, ekologie en vele ander biologiese dissiplines toegepas word. Verder bestaan daar ’n magdom data wat die teorie rugsteun.

So ’n voorbeeld is die Dinaledi-vonds wat op 10 September vanjaar deur prof Lee Berger en sy span verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand se Departement Paleontologiestudies aan die wêreld bekendgestel is. Ons behoort dus met groot opgewondenheid kennis te neem van hierdie merkwaardige vonds wat in sekere opsigte vir ons die sluier lig van die mens se oergeskiedenis. Hierdie fossiele is niks anders nie as die stukke van die legkaart van ons oergeskiedenis. Om byvoorbeeld die lewensgroot voorstellings van die fossiele soos uitgebeeld deur die kunstenaar John Gruche gade te slaan, is so goed as om deur ’n familiealbum te blaai. Solank ons appels met appels en pere met pere vergelyk. Daarmee bedoel ek dat die Bybel se skeppingsverhale ’n ander waarheid met ons wil deel as paleontologiese vondse soos onder andere Homo naledi. Die Bybel is ’n prewetenskaplike versameling van boeke waarin God vir ons as gelowiges aan die Woord kom. Paleontologie, daarteenoor, is ’n erkende wetenskaplike dissipline wat gebaseer is op teorievorming afgelei van empiriese data.

Verder moet ons ook in ag neem dat die skrywers van die skeppingsverhale in die Bybel, in die besonder Genesis 1 en 2, hulself geensins ten doel gestel het om ’n wetenskaplike ensiklopedie oor die ontstaan van lewe en die kosmos op te stel nie. Genesis 1 en 2 is die subjektiewe en uiteenlopende interpretasies van gelowiges van duisende jare gelede oor God se rol en plek “agter die skerms” van die groot drama van lewe. Ou-Testamentici is dit eens dat Genesis 1 en 2 deur verskillende redaksies wat honderde jare uit mekaar gewerk het, saamgestel is, elkeen met ’n eie weergawe oor die begin van alles. Ek stem saam met Karen Armstrong wanneer sy sê: Yet by presenting us at the outset with two obviously conflicting creation stories, the editors were demonstrating the basic religious principle that no one human account can ever comprise the whole of the divine truth.

Die gelowige besinnings oor ons Goddelike herkoms behoort egter geensins in te druis teen ’n eietydse wetenskaplike navorsing op die gebied van paleontologie nie. Ons moet dus versigtig wees om nie onnodig op sleeptou geneem te word nie deur die propaganda van kreasioniste se anti-evolusiekruistogte wat die Bybelse verhale oor ons oorsprong beskou as ’n letterlike  weergawe van die ontstaan en evoluering van die kosmos en lewe.

Ons moet nie uit die oog verloor nie dat die evolusieteorie nie ateïsties is nie, maar wel sekulêr. Indien sekere navorsers soos Richard Dawkins ateïstiese afleidings maak op sterkte van die evolusieteorie, bly dit hul persoonlike oortuiging. Dit staan ons as gelowiges terselfdertyd vry om vas te hou aan ’n transendente dimensie “agter die skerms”. Genesis 1 noem hom Elohim en Genesis 2 noem hom Jahweh. Die belewenis en die uitdrukking van daardie Goddelike dimensie lê egter op ’n spirituele, niewetenskaplike vlak. En dit word ook die meeste van die tyd onder woord gebring deur simboliese taalgebruik waar die klem val op verwondering eerder as verklaring. Ek bepleit dus ’n benadering wat bekendstaan as die Noma-beginsel. Noma staan vir Non-overlapping magisteria. Dit kom daarop neer dat wetenskap en godsdiens verskillende velde dek, elk met ’n outoriteit en bevoegdheid. Dit is dus twee sfere wat mekaar aanvul eerder as om mekaar te probeer uitoorlê of selfs uit te rangeer.

Om  kennis te neem van die ontdekking van ’n nuwe spesie soos Homo naledi, behoort ons eerder te stimuleer om meer te wete te kom oor God se ongelooflike skepping as wat dit ons ontstel of intimideer. Solank ons net appels met appels en pere met pere vergelyk. Ons behoort as ingeligte gelowiges daarop trots te wees dat die wieg van die mensdom hier vlak op ons voorstoep is. Dit behoort ons ook tot nederigheid te stem, veral as ons in ag neem dat ons voorsate soos Homo habilis (2 miljoen jaar gelede) alreeds primitiewe gereedskap gebruik het; Homo erectus (1 miljoen jaar gelede) het ons leer vuur maak; en Homo naledi (moontlik tussen 1 en 2 miljoen jaar gelede) het waarskynlik al ’n primitiewe ritueel rondom die afskeid van afgestorwenes beoefen. Dit laat ’n mens dink oor die oorsprong van ons tegnologie asook ons emosies en spiritualiteit. Die lê dalk verder terug in ons verlede as wat ons ooit kon dink. Wie weet?