Die Hervormer

Ons dra ook mekaar se finansiële laste

Die Kerk is in opdrag van die 70ste Algemene Kerkvergadering besig om die volhoubaarheid van kerkwees te ondersoek. Byna geen gestalte daarvan word in die ondersoek onaangeraak gelaat nie. Ook die Raad van Finansies het die saak deurlopend op sy agenda. Een van die vrae wat in die lig van die gesprek gevra word, is of die Kerk se kollektiewe beleggings, wat hoofsaaklik in die Kerkgeld vir Kerkwerk-stelsel belê is, vir hierdie doel aangewend sou kon word.

Wat is die Kerkgeld vir Kerkwerk-stelsel? Dit is ’n stelsel wat rondom 1950 in die lewe geroep is en waarvan die AKV bepaal het dat gemeentes hul surplusfondse daarin moet belê. Die opbrengs van die gesentraliseerde beleggings is aan gemeentes uitgekeer, maar soms is ’n gedeelte van die opbrengs in die groter belang van die Kerk aangewend. Met tye is ’n deel van die opbrengs, selfs soveel as 2%, gebruik om die Kerk se skuld te help delg. In die jare toe uitleenkoerse so hoog as 20% was en gemeentes moeilik lenings by instellings kon kry, is lenings teen die Kerkgeld vir Kerkwerk-stelsel toegestaan teen billiker koerse. Op hierdie manier het die Kerk uiting gegee aan die oortuiging dat gelowiges mekaar se laste moet dra.

Uit notules van vergaderings waar deur die jare besluite oor die stelsel geneem is, wil dit voorkom of gemeentes ’n groot mate van kollektiewe verantwoordelikheid teenoor mekaar aanvaar het. In die notule van die AKV van 1989 staan daar: Die Kerkgeld vir Kerkwerkskema wat deur die Kerk ingestel is om kapitaal te mobiliseer vir die Kerk se uitbreiding en om gemeentes te help om bates ... te bekom, word baie goed deur gemeentes ondersteun en daar kon reeds tot ’n baie groot mate aan die kapitaalbehoeftes van gemeentes voldoen word.

Iets van hierdie gesindheid het verlore geraak toe die AKV in 1998 besluit het dat gemeentes surplusfondse elders mag belê. Dit het die kollektiewe verantwoordelikheid afgewater omdat dit nou slegs nagekom is deur die gemeentes wat in die stelsel gebly het. Dit is in 2007 verder afgewater toe die AKV besluit het dat die Raad van Finansies versoek word om geldmarkkoerse aan gemeentes te bied en dat slegs administratiewe en bankkoste uit die stelsel verhaal mag word.

Met bogenoemde besluite is die potensiaal wat die Kerkgeldstelsel bied om mekaar se laste te dra in sy wese geraak. Dit is na my mening jammer, omdat dit nie reg laat geskied aan die wese van die stelsel nie. Dit word nie verniet die Kerkgeld vir Kerkwerk-stelsel genoem nie. Die aanvanklike bedoeling was om ’n stelsel te skep waaruit die breë Kerk voordeel kan trek.

Dit beteken natuurlik nie dat die Kerk nie reeds heelwat doen om ander se laste te dra nie. Uit die Fonds vir Gemeenteopbou word gemeentes wat daarvoor aansoek doen jaarliks met ongeveer R1,5 miljoen ondersteun. Dit is geld wat gemeentes deur sinodale offergawes bydra om ander by te staan. Ook op rings- en gemeentevlak is daar heelwat onderlinge hulp.  

Maar dit gaan hier oor die potensiaal wat gemeentes se gesentraliseerde beleggings inhou. Na my mening word hierdie potensiaal onderspeel as gevolg van besluite van die AKV. Dit gaan oor die vraag of ’n gedeelte van die opbrengs van die kollektiewe beleggings aangewend behoort te word om volhoubaarheid te befonds. Dit is in sy wese nie ’n finansiële vraag nie, maar ’n teologiese vraag. Dit gaan oor die dra van mekaar se laste. Dit gaan oor gelowiges wat ander onselfsugtig uit liefde dien.

Die Kerk het met Ordereël 4 van die Kerkorde reeds ’n antwoord op hierdie vraag gegee. Aldus Ordereël 4 is ’n gemeente wel die selfstandige georganiseerde verskyningsvorm van die Kerk op ’n bepaalde plek, maar vorm die gemeente deur die eenheid in geloof en belydenis saam met ander gemeentes die Kerk. Dit kan dus nie anders nie as dat hierdie band wat onderling tussen gemeentes bestaan, sigbaar gestalte sal kry in onder meer hulp aan mekaar.
Indien die AKV van mening is dat die Kerkwerkstelsel aangewend behoort te word ten behoewe van ’n kollektiewe verantwoordelikheid, ontstaan daar weer ander vrae.  Een vraag is na die wyse waarop gemeentes wat beleggings elders het, hanteer moet word. Dit is my mening dat die Kerk nie die gemeentes behoort te verplig om slegs in die stelsel te belê nie. ’n Beleid sou eerder geformuleer kon word wat bepaal dat die gemeentes en ringe wat nie in die stelsel belê nie, nie op ’n gelyke basis uit die stelsel bevoordeel word nie. Daar sal ook daaroor besin moet word of slegs die opbrengste van die beleggings van gemeentes, of ook dié van die diensorgane, ringe en NHSV-takke, benut behoort te word.

Belangriker is die vraag na die wyse waarop die stelsel tot voordeel van sowel die gemeentes wat daarin belê het as die breër Kerk aangewend kan word. Voor ek moontlike antwoorde waag, moet eers gemeld word dat opbrengste oor die laaste tyd heelwat hoër was as wat geldmarkfondse bied. Tans word ’n opbrengs van 7,5% aan gemeentes uitbetaal, terwyl geldmarkfondse nie sommer meer as 6,5% realiseer nie. Aangesien die AKV by verskeie geleenthede die versoek uitgespreek het dat opbrengste gelyk aan geldmarkfondse behoort te wees, beteken dit daar wel ’n verskil is wat vir volhoubare kerkwees aangewend kan word.

Die vraag is: Hoe? Daar is verskeie moontlikhede. Die eerste is om ’n persentasie van die opbrengs, kom ons sê 1%, te gebruik om die Fonds vir Gemeenteopbou te versterk. Dit sal beteken dat daar sowat R1,6 miljoen meer beskikbaar sal wees waarmee gemeentes ondersteun kan word. Daar is egter probleme hierin opgesluit waarvoor daar nie hier genoeg ruimte is om oor uit te brei nie.

Nog ’n moontlikheid is om ’n gedeelte van die opbrengs te gebruik om aan gemeentes verligting ten opsigte van sinodale offergawes te bied. Ook dié moontlikheid is nie sonder uitdagings nie.  ’n Groot gemeente met ’n R1 miljoen belegging sou met so ’n uitgangspunt byvoorbeeld meer voordeel trek as ’n kleiner gemeente met dieselfde belegging. Daar sal ook hieroor verder gedink moet word.

Die moontlikheid wat myns insiens die grootste voordeel inhou, is om ’n fonds te skep waarvan die renteopbrengs die Kerk se sinodale dienslewering in die toekoms gedeeltelik of selfs ten volle kan bekostig. Die Kerk sou byvoorbeeld jaarliks 1% van die opbrengs van die Kerkwerkstelsel in die fonds kon stort. Die bedrag sou verder jaarliks vanuit besparings en ander bronne aangevul kon word. Saam met ’n aanvangsbelegging en kontant wat uit die verkoop van sekere sinodale eiendomme kan realiseer, kan ’n fonds opgebou word wat in die toekoms groot verligting vir gemeentes ten opsigte van sinodale offergawes bied. Om dit te laat realiseer, sal daar heelwat geduld aan die dag gelê moet word.

Dit is van groot belang vir volhoubare kerkwees dat die AKV besin oor die bedoeling van die Kerkwerkstelsel. Om enige van die bogenoemde en ander geleenthede te ontsluit, sal die Kerk duidelike lyne moet trek oor die aanwending van die Kerkwerkstelsel. Die Kerk het in die stelsel ’n handige instrument wat tot almal se voordeel aangewend kan word. Miskien moet iets van die oorspronklike bedoeling van die stelsel, naamlik om mekaar se laste te help dra, teruggevind word. Die 71ste AKV sal hierin leiding moet gee.