Die Hervormer

Honderd jaar oue gestolde bloed

Augustus 1914 is ’n maand wat altyd in die geskiedenis sal uitstaan. Dit was die maand waarin jare, selfs dekades, se spanning en vyandigheid onder die nasies van Europa tot uitbarsting gekom het. Vandag ken ons hierdie oorlog as die Eerste Wêreldoorlog (1914-1919).

Aanvanklik het dit as die Groot Oorlog, die oorlog wat alle oorloë sou beëindig, bekendgestaan. Die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) sou egter binne die leeftyd van een opvolgende geslag ’n ontnugterende einde maak aan hierdie wanopvatting.

Die vonke wat in Europa gespat het, het ook in Suid-Afrika ’n kruitvat van twis en vyandigheid ontbrand. Om die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) tot ’n spoediger einde te help bring, het genls Louis Botha en Jan Smuts ’n belofte aan genls Koos de la Rey en Christiaan Beyers gemaak dat die stryd weer voortgesit sou word sodra ’n gunstige geleentheid hom sou voordoen.

Die uitbreek van die Groot Oorlog in Europa was vir ’n menigte Afrikaners die gulde geleentheid om die stryd teen Groot Brittanje te hervat. Hierdie keer sou daar nie weer tevergeefs vir Duitsland gewag word om tot die stryd toe te tree nie. Duitsland se Mausers en Krupp-kanonne het reeds vanaf 4 Augustus vuur gespoeg in die rigting van Brittanje. Toe die Unieregering van genl Botha op 14 September finaal besluit om die Duitsers in Duits-Suidwes-Afrika aan te val, was die vet in die vuur. Vir veral die plattelandse Afrikaners van die Noord-Vrystaat, Wes-Transvaal en Noord-Kaapland was dit ondenkbaar om teen hul vriende vir hul vyand te gaan veg. Selfs uit die stede het kleiner groepies, soos die Pretorianers onder aanvoering van kapt Jopie Fourie, die wapen opgeneem om hul volk se vryheid terug te wen.

Die stryd was egter gedoem tot mislukking. Die eerste slagoffer was die geliefde genl De la Rey. Op 15 September 1914 word sy lewe beëindig deur ’n opslagkoeël gevuur uit ’n verwarde polisieman se geweer. Die res van die stryd sou nog meer offers vra. Op 12 November word genl De Wet se Vrystaters naby Winburg verslaan. Sy eie seun is een van dié wat met sy lewe betaal. Genl Beyers se Transvalers delf die onderspit op 16 November, by Bultfontein. Sy terugtog na sy geliefde Transvaal eindig ook vir hom tragies toe hy op 8 Desember tussen die vyand se vuur van agter en die vloedwater van voor, in die Vaalrivier verdrink.

Die volgende slag kom op 20 Desember toe die Boereheld Jopie Fourie voor ’n vuurpeloton sterf. Hy het nagelaat om amptelik as offisier uit die Unie se verdedigingsmag te bedank. Sy lot is dus deur ’n ongenaakbare militêre hof beslis. Net die jonger krygshelde was toe nog in die veld. Genl Jan Kemp, vergesel van die bekende “Siener” van Rensburg, het na ’n epiese woestyntog by die vurige genl Manie Maritz aangesluit. Maar ook hulle sou die knie moes buig voor die oormag. Selfs die Duitse kanonne uit Duitswes was nie genoeg toe hulle die Uniemagte op 24 Januarie 1915 by Upington pak nie. Teen Februarie 1915 was die Rebellie verby.

Dadelik daarna is oorgegaan tot die verowering van Duitswes. Tydens hierdie stryd is ’n saadjie van oorlog geplant wat eers in 1989 sou afloop met die onafhanklikwording van Namibië. Suid-Afrikaanse magte sou nog tot aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog in Duits-Oos-Afrika veg. Afgedeelde magte sou Egipte teen die Turkse Ryk help verdedig en die 1ste Zuid-Afrikaanse Infanteriebrigade sou onsterflike roem verwerf in die slag van Delvillebos, 14-20 Julie 1916. Aan die Wes-Europese front het Suid-Afrikaners in die lug, ter see en op die grond die Springbok-embleem gevestig as ’n simbool van trou en dapper manmoedigheid.
    
Hoe raak hierdie stukkie droewige geskiedenis ons vandag? Ons leef in ’n wêreld ver verwyder van dié in 1914. Ons kommunikeer nie meer teen die pas van ’n perd of ’n vinger wat morsekode uittrommel nie. Ons wêreld het klein geword, verbind met die kitskommunikasie van die onstuitbare internet. Maar in ons harte is ons dikwels steeds ’n Jopie Fourie wie se liefde vir sy eie hom van ’n kleinigheid soos ’n briefie van bedanking laat vergeet. Ander van ons is weer soos ’n Jan Smuts, ’n idealis, een wat groter vreugde put uit die sinergisme van al die dele wat ’n groot geheel vorm. Ons opvattings en ons toekomsvisie, ons drome vir ons land en ons mense, verskil dikwels nog net so baie soos dié van ons voorvaders van honderd jaar gelede.

Laat die oorloë wat reeds was ons egter leer: Die meeste mense praat net tot op ’n punt, dan veg hulle. Daar is mense met selfrespek wie se eer hul trots is. Vir so iemand is daar net twee opsies om konflik te hanteer: diplomasie of oorlog. Hulle sal dit nie oorweeg om net te gaan lê, dat ander maar net oor hulle loop nie.

Vir ons as Christengelowiges is diplomasie, die uitpraat van ’n probleem, altyd die eerste opsie. Ons volg in die spoor van ons Here, Jesus Christus. Ons span ons in om selfs vir ons vyande lief te wees deur te kies om alle mense menswaardig en met respek te behandel. Maar die Here wat ons aanbid, leer ons nie net ken uit die Nuwe Testament nie. Hy is steeds ook die God van Abraham, Isak en Jakob. Hy is steeds die God van Moses en Josua. Hy is steeds die God van koning Dawid wat die reus Goliat in ’n oorlog verslaan het. Hy is steeds die God van die profeet Elia wat die Baälprofete verdelg het. Die werklikheid van ons gebroke wêreld is dat oorlog altyd ’n realiteit is. Selfs al besluit ’n mens soos die Belge en Nederlanders in sowel die Eerste as die Tweede Wêreldoorlog om tot elke prys nie aan die oorlog deel te neem nie, vrywaar dit jou nie van oorlog nie. In albei oorloë is die Belge en Nederlanders eenvoudig aangeval, ongeag hul neutrale status. Diplomasie het dus nog altyd noodwendige beperkinge, ook vir kinders van die Here.
 
As die Eerste Wêreldoorlog en die Rebellie van 1914/1915 ons vandag iets kan leer, laat dit wees dat ons nooit moet toelaat dat ons in ’n oorlog ingesuig word voordat ons ons voor God kan verantwoord dat ons alles moontlik gedoen het om dit te verhoed nie. Oorlog is altyd wreed en tragies. Dit verwoes en vernietig mense se lewens aan die buitekant en aan die binnekant. Dit vernietig selfs mense se verhouding met die Here, soos die Tweede Wêreldoorlog in Europa bewys het.

Maar soos dit die slegste in mense na vore bring, kan die swaar en stryd van oorlog ook die beste in mense na vore bring. Wanneer oorlog alles van jou weggeneem het, jou gemak, jou rus en vrede, dalk selfs jou geliefdes, is dit vir jou om uit te maak of daar nog iets oor is om voor te lewe en selfs te sterwe. Deur ’n eerlike worsteling om ’n antwoord op hierdie vraag te vind, vind mense dikwels hul vrede met God.