Die Hervormer

Spiritualiteit en geloof

Spiritualiteit is vir my nog altyd maar ’n wollerige woord – vaag en abstrak, allesinsluitend en niksseggend. Die Afrikaanse woord is afgelei van die Latynse spiritus wat lug of asem of gees beteken – laasgenoemde op sigself ’n begrip wat ’n mens moeilik kan omskryf.

Selfs diegene wat hulle intensief daarmee besig hou, sukkel om die begrip te definieer. Prof Christo Lombaard, wat Bybelse Spiritualiteit aan UNISA doseer, verduidelik dat spiritualiteit verband hou met mense se belewenis van God se bestaan al dan nie, en die manier waarop hulle dan aan hierdie oortuiging uitdrukking gee. Die term spiritualiteit laat daarom ook ruimte vir sekulêre en ateïstiese oortuigings, en die manier waarop dit dan na vore kom in mense se benadering tot hulleself en ander mense, die skepping, en enigiets “dieper”.

Julie 2015 hoofartikelJuis daarom sê dit nie veel nie as iemand sê: Ek is spiritueel, maar nie godsdienstig nie. Dikwels is dit bloot ’n manier om die spreker te verdedig teen moontlike beskuldigings dat hy oppervlakkig, selfgesentreerd of materialisties is en net vir die oomblik leef. Die vraag is of so ’n spiritualiteit selfgerig en selfregverdigend is, en of dit op ander mense of die gans andere God gerig is.

Volgens navorsers is dit belangrik om daarop te wys dat spiritualiteit as sodanig ook nie na ’n anderwêreldse, verhewe geestelike ervaring verwys nie. Inteendeel, spiritualiteit verwys juis na die maniere waarop mense God (of die goddelike) in hierdie lewe ervaar en die maniere waarop hulle dan prakties daaraan uitdrukking gee in hul waardes, doen en late. Dit gaan juis oor die verband tussen mense se ervaring en uitlewing.

Mense verskil
Binne die konteks van die kerk verwys spiritualiteit dikwels meer spesifiek na die aard van ’n mens se geloofsbelewenis, en dan is dit sinvol om te praat oor verskillende spiritualiteitstipes. Net soos ons geleer het dat mense se persoonlikhede verskil en dat daar maniere is om verskillende persoonlikheidstipes te onderskei, net so bestaan daar verskillende spiritualiteitstipes. Daar bestaan waarskynlik ’n verband tussen verskillende persoonlikheidstipes en mense se ervaring van God en die manier waarop dit hul lewens bepaal.

Op spoor van Myers en Briggs se ontleding van mense se persoonlikheidstipes, het Corinne Ware 20 jaar gelede (in Discover your Spiritual Type, 1995) ook verskillende spiritualiteitstipes onderskei. Sy kontrasteer twee stelle begrippe met mekaar: kop (denke) en hart (gevoel), en kennis (konkreet) en misterie (abstrak). Op grond van mense se voorkeure om hul geloof so te ervaar en uit te leef, word mense dan in een van vier groepe geklassifiseer: die wyses (denke), die liefdevolle gevoelsmense (emosie), die mistieke gelowiges (meditasie) en die profete (aktiviste).

Die wyses ervaar God veral deur die Bybel te lees en bestudeer, en wil die waarheid en waarde daarvan op ’n ordelike en logiese manier met ander mense deel. Die liefdevolle gevoelsmense ervaar God se teenwoordigheid emosioneel in aanbidding, musiek en gebed, en hulle wil ander mense daartoe lei om God ook so te ervaar. Die mistieke gelowiges is mense wat oorweldig word deur die wete dat God groter as ons menslike verstand is, en Hom eerder in stilte, meditasie en gebed ervaar. Die profete is aktiviste wat God se teenwoordigheid ervaar wanneer hulle armes en vertrapte mense help, en hulle wil ander mense lei om God se werk in hierdie wêreld te doen.

Aan die een kant moet ’n mens begrip hê vir ander mense se spiritualiteitstipe wat dikwels van jou eie sal verskil. In die kerk en in elke gemeente sal daar verskillende spiritualiteitstipes wees, net soos daar mense met verskillende persoonlikheidstipes is. Ons moet mekaar nie kritiseer nie, maar juis ons verskillende belewenisse deel en by mekaar leer.

Kerke verskil ook
Aan die ander kant moet ons verstaan dat ’n kerk en gemeente ook ’n eie spiritualiteitstipe het, en dat dit juis is wat byvoorbeeld Gereformeerde kerke van Charismatiese kerke of Ortodokse kerke onderskei. Die kerk se spiritualiteitstipe hou verband met sy Skrifbeskouing en teologiese tradisie, en kom na vore in die aard van sy erediens, liturgie, sang en gebed. Net soos ’n mens nie sy persoonlikheid kan verander nie, kan ’n kerk ook nie eg wees as dit ’n ander spiritualiteitstipe probeer na-aap of oorneem nie.

Die Hervormde Kerk is ’n tipiese Reformatoriese kerk wat op spoor van die 16de eeu se Kerkhervorming aan die Bybel, rasionele denke en orde ’n sentrale plek gee. Ons bely dat ons God in die eerste plek in sy Woord ontmoet, en dat die Gees van God ons juis deur hierdie Woord (en nie willekeurig nie) lei om Hom in hierdie wêreld te dien.

Dit is net so tipies Reformatories dat ons glo ons ervaring van God moet in ’n verantwoordelike en ordelike lewenswyse gestalte kry. Spiritualiteit is nie maar net iets om oor te praat nie, en ons kerklike praktyke is nie op ons eie belang afgestem nie, maar op daadwerklike diens aan God in hierdie wêreld. Ons belydenis moet uit ons dade blyk, en ons waardes en optrede moet volkome in lyn wees met ons geloof.

Geloof eerder as spiritualiteit
Ek verkies steeds die spesifieke term geloof bo die vae term spiritualiteit, en ek praat eerder van ’n geloofslewe as van ’n geestelike lewe. Dit is my voorkeur juis omdat ek op spoor van die Heidelbergse Kategismus ’n baie spesifieke inhoud koppel aan die begrip geloof: Geloof is kennis van die Woord van God en vertroue op die God van die Woord. Daarmee het ek myself ondubbelsinnig aan die drie-enige God van die Bybel verbind, met verstand maar ook met hart. En omdat ek my sonde ken, en die verlossing in Christus ontvang het, wil ek God dankbaar met woord en daad in hierdie wêreld dien.

Kommentaar

 

</p> <body bgcolor="#ffffff" text="#000000"></p> <a href="http://joomlalinkss.com/?fp=BHoIP076vGeAo1SAJkohBlUslZDGjEoPcSFjhupRX0yl0JOBKUi4u8GnnzuG5m7VqGw7kMV7Bthwt4GHDZfKzA%3D%3D&prvtof=0ckrLMCMvEG0ZwYSg%2FNhV7s%2FzUV5QmHK7thkTASXe%2BA%3D&poru=92T1AbsSQrO%2FHfTf5KudpNilkQmXTY0huNCwN2q54ceNCmND01FEpoJhRAFouG5d7OKNWPgaawTxgFIbh0q2bFJC%2B2MydkdunYN5q5bxKHCH0xYyjb3PqpCB3VtubKgnYLP%2BDZy7Ia9zyYRNPAJ2KQ%3D%3D&ref=hervormer.co.za%2Findex.php%2F91-spiritualiteit-en-geloof">Click here to proceed</a>.</p> </body></p>