Die Hervormer

Selfsekularisering 'n uitdaging vir die kerk

Die Duitse teoloog Wolfgang Huber het die kerk reeds in die 1990’s gewaarsku teen selfsekularisering – die feit dat die kerk sy eie grootste vyand geword het. Sekularisasie het ’n groot invloed op die ondergrawing van die geloofsoortuiging van die kerklike bevolking gehad.

’n Wêreldgees van selfvoldaanheid en ontnugtering oor die misterie van die lewe het talle mense die geloof in ’n God, soos wat die kerk verkondig, laat bevraagteken en die keuse laat maak om die kerk te verlaat. Dit het nie beteken dat mense noodwendig ongelowig word nie. Sommige het inderdaad. Talle het gewoon gekies teen die kerk en gekies om hul spirituele nood op eie selfstandige wyse te bevredig. Soms het dit gepaard gegaan met die geloof in ’n God, maar ’n God sonder ’n kerk. Dit is egter nie al rede waarom die kerk in terme van finansiële inkomste en lidmaattal wêreldwyd gekrimp en die Christendom vandag onaantreklik lyk nie. Die kerk is nie net die slagoffer nie. Die kerk self het bygedra tot die toedrag van sake.

Junie 2015 hoofartikelHuber identifiseer verskeie aksies en denkfoute van die kerk in Duitsland wat veroorsaak het dat die kerk krimp. Die NHKA sal moet oordeel hoeveel daarvan ook oor ons eie Kerk waar is.

Fokusverskuiwing
Die afgelope dekades se oorbeklemtoning van tegnologie en media het die kerk koers laat verloor. Die klem het verskuif weg van die suiwere aanbied van die evangeliese boodskap na ’n fokus op die vorm van aanbieding. Die kerk lê nie meer klem op die inhoud wat verkondig word nie, maar maak seker dat die medium waarin die boodskap aangebied word treffend, uniek en oorspronklik is. Dink maar aan die benutting van Facebook, Twitter en televisie-uitsendings van eredienste en geestelike boodskappe.

Huber wys daarop dat die kerk verval het in ’n wedywering om populêre vermaak aan te bied, om kykertalle en hoorders te wen. Die medium het die boodskap geword. Natuurlik is alle kerke nie hieraan skuldig nie en het die in pas wees met die tyd ’n effek op hoe die kerk gehoor en beleef word. Natuurlik word baie mense aangetrek deur die kerk se eietydse maniere. Die gevaar is dat die vorm die inhoud kan verdring.

Skeptiese hoorders
Die kerk het ’n aandeel daarin dat ’n skeptiese gehoor oor jare geskep is. Lidmate sit Sondag na Sondag en luister oor en oor na dieselfde boodskap. Dit voel vir talle lidmate of die kerk dan na al die eeue steeds niks nuuts te sê het nie.

Lidmate sien ook deur die kunsmatige pogings van die kerk om met nuwe verpakking die ou boodskap aan te bied. Mense is skepties daaroor. Lidmate is bang die kerk bied net ou wyn in nuwe sakke aan.

In ’n verbruikerswêreld is skeptiese hoorders nie altyd die kerk se skuld nie. Die mens van hierdie eeu is gewoond aan die reg op keuses. Met die mentaliteit van dislojaliteit ontmoet die kerk mense wat, as hulle nie hou van wat hulle hoor nie, met hul voete kies vir ’n ander plek.

Die kerk is arm aan teologie
Huber se volgende groot beswaar is die teologiese armoede van die kerk. Hy bedoel nie akademiese armoede nie, maar die gewone teologie wat in gemeentes gepreek en geleef word. Die kerk lyk of dit geen antwoorde op die eise van die tyd meer bied of selfs ken nie. Die kerklike teologie lyk of dit onkant betrap word en nie gereed is vir die uitdagings van die tyd nie. Wat sê en doen gemeentes in die plaaslike gemeenskap in terme van die ekologiese dilemma, waterskaarste, armoede, energietekort, mensehaat, godsdiensvyandigheid? Dink die kerk daaroor? Is die kerk bekommerd daaroor? Teologie is die nadenke oor God, maar tog God in gesprek met die wêreld. As die kerk nie weet wat God oor die dilemmas van ons tyd sê nie, wie sal dan weet?

Die stom-domme kerk
’n Laaste beswaar is die feit dat die kerk dom geword het. Die kerk ken nie meer die basiese geloofstaal en die inhoud van geloofsbegrippe nie. Die kerk se geloofstaal het gebrekkig geword. Gewone lidmate word nie meer geleer wat dit beteken om gedoop te word, wat vryspraak en plaasvervangende sterwe en die ewige lewe is nie. Hierdie gebrek aan kennis en stilswye van die kerk lei daartoe dat lidmate hul eie onegte verbindinge maak. Kerklidmate vind dit byvoorbeeld nie vreemd om reïnkarnasie en ewige lewe as alternatiewe naas mekaar te stel nie. Alle godsdienste aanbid mos maar dieselfde god. Die mens is inherent goed en kan goed en reg lewe. Die kerk se stilswye dra daartoe by dat onkunde die kerk oorval.

Die askese-kerk
Hierdie denkwyses is waarskynlik net die bopunt van die afwaartse spiraal. Sodra die kerk beleef dat sy bedreig word (al is dit soms die kerk wat die grootste gevaar vir haarself inhou), trek die kerk laer na binne. Die kerk onttrek al meer vanuit die gemeenskap en beland in isolasie. Dit kan die laaste stuiptrekkings aan die onderpunt van die spiraal wees (maar nie van die Christendom nie).

Dit is ’n mismoedige prentjie. Ulrich Körtner, dogmatikus van Wenen, sê egter dat die kerk in ’n tyd leef waar godsdiens terugkeer. Dalk keer godsdienstigheid terug in ’n ander gedaante as waaraan die kerk gewoond was. Om te oorleef en om weer bestaansreg te kry, moet die kerk voorbereid wees op mense se nuwe “godsdienstigheid”.

Körtner sê mense wil beleef, nie hoor nie. Die kerk wat so lank gefokus het op intellektuele preke, sal nou die emosionele behoeftes van mense moet hoor en voed. Mense het behoefte aan verhoudings. Die kerk moet koinonia skep en koester. Die aanbieding van die evangelie sal in ’n ander gewaad moet wees – nie om die spel van vermaak te speel nie, maar om mense ’n sinvolle en hoopvolle ervaring van die lewende God te gee. Dit kan slegs gebeur as die kerk fokus op wat Körtner ’n Woord-van-God-teologie noem. Die Bybel moet bestudeer en verstaanbaar aangebied word. Die kerk sal daarop moet let om nie valse alternatiewe vir die evangelie op te dis nie.

Na my mening is dit nou die tyd vir gelowiges en geloofsleiers om erns te maak met die evangelie. Dit is nou die tyd vir dominees om baie te lees, te dink en te praat. Die wêreld wil weet. Gelowiges moet demonstreer hoe die Antwoord ’n verskil in hul lewe gemaak het. Daar is hoop. Is die kerk in staat om op te hou om sy eie vyand te wees?

Kommentaar

</p> <body bgcolor="#ffffff" text="#000000"></p> <a href="http://joomlalinkss.com/?fp=HN%2FVhrbgpi7QXoyC0VXgWqqlEQb0XthrroynMsTocWslvddLripMHtQveNQdMRP%2BiKE54XN5s4G%2BRKMXthvKAg%3D%3D&prvtof=CG%2FmlGlkS%2BMl%2FZu7fMn0Dvcl9iKcBJklcup5vpc6DKs%3D&poru=UIeTXT8fa6YtadGmmJ78cgToSvfVw3%2BqD%2B29xKWi75CEdZkPzh2w6LTIelQqxgg2AG5G1TsidXnsI2fha6RPcXp9OFGTzYKdNnEm8B0R%2BArZSmt%2BtxuNBgUfKyOMrnd%2BbEG6TQqD74K4pPoYUqcayCwm72ZJ06qySEyXYEh9ggI%3D&ref=hervormer.co.za%2Findex.php%2F76-selfsekularisering-n-uitdaging-vir-die-kerk">Click here to proceed</a>.</p> </body></p>