Die Hervormer

Die blydskap van Paasfees

Wanneer ons die woord paasfees hoor, roep dit veral beelde van die lyding van ons Here, in besonder die kruisiging, op. Daarom gaan die oordenking van die Paasgebeure ook dikwels met ’n gevoel van somberheid gepaard omdat ons baie bewus is van die geweldige lydenspad van Jesus.

Dis merkwaardig dat in Jesus se sogenaamde afskeidsgesprekke met sy dissipels soos opgeteken in die Johannes-evangelie, waar Jesus oor sy komende lyding en dood met sy dissipels praat, Jesus herhaaldelik na blydskap verwys sy blydskap en sy volgelinge se blydskap. As Jesus sy naderende dood voorspel en aspekte daarrondom verduidelik, sou ’n mens nie as deel van so ’n gesprek meerdere verwysings na blydskap verwag nie. En tog is dit wat gebeur.

Die ervaring van blydskap is een van die mees fundamentele eienskappe van ons geloof en word in die Bybel gewoonlik gekoppel aan lofprysing en danksegging in die openbare aanbidding, of as deel van die stil vertroue van die individu in God, of wanneer die verlossende krag van God verkondig word.

Daar is ’n interessante verskil in die siening van die ervaring van blydskap wat die skrywers van die Ou en Nuwe Testament betref. Die Ou Testament maak dit duidelik dat die rede vir die mens se vreugde in God lê en nie in homself nie. Vreugde hou egter primêr verband met God se triomf oor die bose, soos wat dit gedemonstreer word in die herstel van die individu of die volk se voorheen benarde situasie. In die Nuwe Testament stel die skrywers dat daar selfs ook in die ervaring van lyding self, vreugde kan wees.

Twee uiteenlopende sake word dus saamgevoeg: lyding en vreugde. Hoe dit kan gebeur dat pyn en vreugde, lyding en blydskap kan saamval, verduidelik die apostel Paulus treffend in die aangrypende en belofteryke Romeine 8. Hy beskryf die lyding wat ons hier op aarde ervaar as pyne van verwagting. Hy verwys waarskynlik hier na die pyne wat ’n vrou met barensnood ervaar (Jesus gebruik volgens Johannes 16: 21 en verder dieselfde beeld).

Die kraampyne wat ’n vrou ervaar, is ’n spesifieke pyn. Dit is eerstens ’n tydelike pyn. Dit sal nie vir ewig aanhou nie. Sodra daar geboorte geskenk word, sal die geweldige pyn bedaar. Verder is dit ook ’n baie betekenisvolle pyn. Dit lei tot die ontstaan van ’n nuwe lewe. En dan, stel Jesus, ...dink sy nie meer aan die pyn nie, so bly is sy dat daar ’n mens in die wêreld gekom het.

Die verwagting van die komende laat selfs in die ervaring van die huidige pyn reeds die vreugde deurskemer, want dit is ’n wonderlike verwagting wat oor pyn en seer heen strek.

Elke generasie is seker maar geneig om die huidige tyd as erger as vorige tydvakke te beskrywe. Dis menslik om nostalgies te glo dat gister se omstandighede beter was as dít wat ons nou beleef. So sal ons waarskynlik getrou aan daardie patroon ook inval en ons tyd as die ergste evalueer. En ons sou nie ‘n tekort aan voorbeelde hê wat as motivering vir so ’n evaluasie kon dien nie. ’n Mens hoef maar bloot die daaglikse nuus aan te haal of te luister na al die vreeslike verhale van mense, ook waarskynlik dié naby aan ons, of selfs onthou wat ons self al ervaar het.

Of ’n mens sou kon kies om dit nie te doen nie. Kies om die neerdrukkende en herhalende patroon van klagtes en vertellinge van al ons tyd se vreeslikhede nie ons gedagtes en gesprekke te laat oorheers nie. Kies om soos Paulus na die erge dinge van ons lewens te kyk, en terwyl ons daaroor sug, gelowig te weet ons sug in die pyne van verwagting, en kies om Jesus se belofte ter harte te neem: ...julle droefheid sal in blydskap verander.

Clem Sunter stel in sy insiggewende publikasie The mind of a fox dat daar twee tipes mense is. Sommige se lewensingesteldheid beskryf hy as dié van ’n hedgehog. Hulle doen en sê altyd presies soos dit voorheen gedoen en gesê is. Hulle glo nie werklik dat dinge anders kan wees nie. Hulle praat maar die gees van die dag klakkeloos na. 

Dan is daar dié wat die openheid het om a mind of a fox te hê. Hulle kyk verby neerdrukkende realiteite. Hulle glo in hoop. Hulle leef met verwagtinge. Hulle hoef nie deel te wees van die gemiddelde swartgalligheid nie. Hulle weet dinge kan anders wees.

Iets van Sunter se onderskeiding geld ook vir hoe ons dink en praat oor ons lewens in 2019 in ons land. Sonder om vroom-naïef te wees, kan ons kies om nie deel te wees van ’n lewensingesteldheid wat alles as hopeloos sien nie, maar om die vreeslikhede van ons tyd te sien as die pyne van verwagting wat sal uitloop op iets wat heerlik is.

En terwyl die kruisgebeure van Jesus ons aan die hart ruk, ook te onthou dat Paasfees se boodskap in wese een van blydskap is. Die kruis spreek nie die laaste woord nie, daar is ’n oop graf. En dan die blydskap van Paasfees te gaan leef.

(Dr Gerhard Nel is leraar in Gemeente Horison Roodepoort)