Die Hervormer

Die dag toe ek amper bekeer is

Hierdie boodskap is ’n nadenke oor die diversiteit in bediening en spiritualiteit in die Nederduitsch Hervormde Kerk.

Op die voorblad van die Oktober 2018-uitgawe van Die Hervormer het ’n artikel deur prof Natie van Wyk verskyn, onder die opskrif Die herdenking van die Reformasie – ’n jaar later. Daarin gee hy sy indrukke oor hoe ons Kerk 501 jaar na die Reformasie lyk. Hy wys op die skrille diversiteit wat daar in die teologie en bediening van gemeentes van ons Kerk bestaan.

Die reaksie op die artikel was nogal verrassend, aangesien daar skrywes van waardering vir die artikel sowel as fel kritiek op sy uitsprake was. Die kritiek was spesifiek oor die verwysing na die verwêreldliking en sekularisering van die Kerk, maar ook omdat hy die andersoortige soorte bediening wat in van die gemeentes beoefen word, sou kritiseer.

Die redaksie het die verskillende partye in hierdie saak die geleentheid gegee om deur briefwisseling ’n debat aan die gang te kry oor hoe ’n tipiese gemeente van die Nederduitsch Hervormde Kerk vandag lyk, en of daar nog so iets soos ’n tipiese gemeente is, maar ons pogings was onsuksesvol.

Ek het al by ’n vorige geleentheid in die redaksionele brief geskryf dat ons Kerk nooit weer gaan lyk soos toe ek in die 1980’s in ou Pietersburg grootgeword het nie. Daar is vandag eenvoudig te veel verskillende maniere waarop die aanbidding in gemeentes ingerig word om van ’n tipiese Hervormde erediens te kan praat. Ek glo ook nie dat dit nodig is dat alle gemeentes op dieselfde manier hul bediening en eredienste hoef in te rig nie, omdat die situasies in gemeentes verskil.

Verder is ek van mening dat mense se spiritualiteit en verstaan van God en hul verhouding met Hom verskil. In die verlede was dit vir my baie maklik om almal wat anders as ek oor die Kerk, spiritualiteit en hul verhouding met God gedink het, te kritiseer. Ek is egter nie meer so seker of ons so ’n houding in die Kerk moet handhaaf nie.

Aan die einde van 2018 het ek en my vrou die geleentheid gehad om ’n erediens wat deur ’n bekende Amerikaanse prediker, skrywer en evangelis gelei is, by te woon. Omdat ek nog altyd ’n hoë mate van bewondering vir sy werk en vir hom as mens gehad het, het ek die erediens in ’n gemeente van ’n ander kerkgenootskap in ons dorp gaan bywoon.

Die preek was baie inspirerend; trouens, die teologie was suiwer en kon netsowel van ’n kansel in ’n Hervormde gemeente gekom het. Omdat die boodskap inspirerend was, was ek ook aangespreek daardeur. Na die erediens gebeur daar toe egter iets vreemds vir ons as Hervormers. Mense wat hul lewens vir die Here wil gee, word vorentoe geroep. Honderde gaan, maar die prediker sê daar is nog een wat moet kom. Hy staan voor my en kyk my in die oë en nooi my uit, maar ek sit, want my verstaan van bekering is anders as sy verstaan daarvan…

Op daardie oomblik het ek ’n bekeringsmoment beleef, maar nie soos die ander in die ouditorium nie. Ek glo, mooi in lyn met die reformatoriese teologie wat ek beoefen, dat daar elke dag bekeringsoomblikke in my lewe moet wees wanneer ek, diep bewus van my sonde, my weer na God keer.

Die bekering wat ek egter daardie dag beleef het, was om op te hou om mense wat anders as ek dink, te veroordeel en te kritiseer. ’n Bekering daarvan om karikature te maak van mense wat anders as ek oor kerkwees en bediening dink. Op daardie oomblik het ek verstaan dat daar ’n verskeidenheid maniere is hoe mense spiritualiteit beleef en uitleef.

Ja, ook in ons Kerk, die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, is daar verskillende maniere van die belewing van spiritualiteit, aanbidding en die manier waarop die bediening van gemeentes ingeklee word.

Dalk het die tyd aangebreek dat ons, in plaas van om die gemeente wat anders as jou gemeente dink en doen te kritiseer, eerder hande vat en probeer om mekaar te verstaan en te akkommodeer.

U moet my mooi verstaan. Ek bepleit nie ’n totale verandering van die etos en wese van die Hervormde Kerk nie. Inteendeel!

Om die waarheid te sê, in ons gemeente word die erediens nog baie konserwatief ingerig, en hier werk dit, want amper 70% van die gemeente is in die ouderdomsgroep van 50 en hoër. En hoewel dit tans werk, besef ek ook dat, om die jonger geslag te behou, daar daadwerklike verandering in die bedieningstruktuur gemaak sal moet word. Maar die feit dat ons so kerk hou en dat dit vir ons werk, gee ons as gemeente nie die reg om ’n ander gemeente wat anders dink en doen, te kritiseer nie.

Nee, in plaas van kritiseer, moet ons eerder probeer om mekaar te verstaan. Ek is van mening dat die tyd aangebreek het dat ons in die Nederduitsch Hervormde Kerk debat oor hierdie verskille moet begin voer. Die tyd het aangebreek dat ons weer moet besin oor wat van ’n gemeente ’n tipiese Hervormde gemeente maak.

Is dit nie tyd dat ons met mekaar debat voer oor wat ons gemeen het, eerder as waaroor ons verskil nie?

(Ds Willem Sauer is redakteur van Die Hervormer

en leraar in Gemeente Waterberg in Modimolle)