Die Hervormer

Ontwrigting is ’n geleentheid om God se wil te ontdek

Ontwrigting is iets wat elke mens of organisasie die een of ander tyd tref. Ontwrigting hou egter nie net krisisse en gevaar in nie – dit bied ook geleenthede.

Ontwrigting kan skielik plaasvind soos die Bybelse pes wat in die donker toeslaan of siekte wat helder oordag verwoesting saai (Ps 91: 6). Ontwrigting kan geleidelik geskied soos die proses van klimaatsverandering met vele waarskuwingstekens, demografiese verskuiwings of ’n finansiële kreeftegang as gevolg van swak ekonomiese toestande. Die naderende verkiesing sorg ook vir ontwrigting met al die populistiese retoriek en onsekerheid wat dit teweegbring.

Ontwrigting kan ook positief wees soos wanneer ’n nuwe loopbaangeleentheid jou pad kruis en jy dalk moet verhuis – iets wat enkele lesers dalk met die wisseling van die jaar te beurt geval het.

Hoofstroomkerke wêreldwyd beleef ontwrigting met dalende lidmaatgetalle asook kwynende finansiële hulpbronne wat as vernaamste simptome dien. Ook die Hervormde Kerk het hierdie ontwrigting nie vrygespring nie. Aan die einde van 2018 is die nuus dat Konteks aan die einde van die finansiële jaar sy laaste uitgawe sal hê, meegedeel. Dit is uiteindelik met ’n maand verleng sodat ’n laaste uitgawe in Maart kan verskyn. Intekengetalle en finansiële oorwegings het die deurslag gegee, en dit was vir die Kommissie ’n baie moeilike besluit. Ek kan my die intensiteit indink van die rouproses by diegene wat in die loop van die jare so intens by Konteks betrokke was. Ek weet die verlies word ook wyer in die Kerk beleef. 

Met die 72ste AKV wat op 29 September ’n aanvang neem en die voorafgaande vergaderings op gemeente- en ringsvlak, is dit dalk goed om die rol van gemeentes vir ’n oomblik te bedink. God bring gemeentes in verskillende plekke, in eiesoortige omstandighede, met dieselfde opdrag byeen – verkondig die evangelie van Jesus Christus en wees my ligdraers. Hierdie opdrag verg toewyding, en heel dikwels word gemeentes oorweldig deur uitdagings en omstandighede wat dit moeilik maak om te oorleef. Ons kan ook van ontwrigting praat. Ontwrigting dra elemente van gevaar en geleentheid.

Gevaar

Die gevaar is dat ons net op die voor die hand liggende simptome fokus terwyl die waagmoed ontbreek om die dieperliggende oorsake te probeer vasstel. Vir baie gemeentes is dit ’n krisis omdat vrees vir verandering ’n grondliggende kwessie is. Eie aan ons aard wil ons in ons gemeentes op ’n tipies modernistiese wyse te werk gaan. Ons hou strategiese beplanningsessies en stel ’n lys doelwitte op. Ons werk harder en beplan meer fondsinsamelings. Ons hou lidmate op die hoogte van finansiële teikens. Ons bring kosmetiese veranderinge aan wat die erediens en ander gemeentelike funksies betref. Die jaarkalender word met nog meer aktiwiteite gelaai. Ons wil geleenthede met ’n meesterplan skep met die hoop om lidmate te lok en in die proses ons finansiële hulpbronne te versterk.

Geleentheid

Ontwrigting bied ook geleenthede. Ek is toenemend van mening dat geleenthede vir ons as Kerk op ander maniere wink, maniere wat ons waarskynlik ietwat ongemaklik sal laat voel, wat ons sal laat voel ons het beheer prysgegee. Is dit nie juis die beste plek vir gemeentes met hul kernleiers om te wees nie? Beheerloos met groter afhanklikheid om leiding as ooit tevore. Sonder ’n meesterplan net uitgelewer aan God se wil en plan vir die gemeente.

Dit beteken nie om ontredderd in ’n see van hopeloosheid rond te dobber, passief en al wagtend op God se reddingsboei nie. Ons het steeds ’n verantwoordelikheid, op die vlak van wag, luister, onderskeiding en deelname aan dit waarmee God besig is. Dalk is dit tyd om die aktiwiteite op die gemeentekalender te verminder, die koorsagtige gejaag na finansiële teikens te temper, die angsvalligheid oor getallegroei opsy te skuif, en net ’n slag diep te besin oor wat God se wil vir die gemeente is.

Hoe ontdek ons God se wil vir die gemeente?

3 1

Daar is verskillende maniere, en konsultante wat gemeentes begelei, het elkeen ’n eie voorkeurwerkwyse. Ek hou graag die werkwyse van Mark Lau Branson voor. Gemeentes kan ook uit eie bronne te werk gaan. Wees verseker dat God in elke gemeente met verskillende lidmate, belangegroepe en kernleiers op unieke wyse besig is. God het hulle juis begin voorberei vir tye soos hierdie. Mobiliseer die werkkragte in die gemeente vir hierdie onderskeidingsproses en berei hulle daarop voor dat dit ’n proses van luister, diepe afhanklikheid en gehoorsaamheid is. Die proses kan oor etlike weke of langer verloop.

Branson se proses van onderskeiding het verskillende stappe. Dit hoef nie in dieselfde volgorde te geskied nie. Die eerste stap is om die huidige praktyk in die gemeente te omskryf. Wat werk en wat veroorsaak tans ontwrigting? Dit is goed om na diverse standpunte te luister. Die volgende stap gaan oor konteks en kultuur. Analiseer die konteks kragtens demografie en sosio-ekonomiese faktore, en gebruik wetenskaplike bronne om kultuur te ontleed. Stap 3 handel oor die Christelike teks en praktyke en dit is hier waar die Bybel, teologie en toepaslike gemeentelike hulpbronne rakende die praktyk belangrik is.

Ons stories maak deel van stap 4 uit. Dit gaan oor groeplede se eie stories, stories van die bure en van ander rolspelers in die gemeenskap. Hoe koppel elke storie aan God en geloof, en hoe hou dit verband met die vorige stappe? Stap 5, verbeelding en eksperimentering, kan gesamentlik deur al die groepe gedoen word deurdat die resultate van stappe 1 tot 4 biddend oorweeg word. Fokus op wat julle glo God besig is om in jul lewe te doen, en eksperimenteer met alternatiewe betreffende meewerking.

Mag 2019 ’n jaar van diepgaande luister wees waar daar ook in gehoorsame onderskeiding by God se inisiatiewe betrokke geraak word.

(Dr André Ungerer is voorsitter van die Kommissie van die AKV)