Die Hervormer

Ons weet genoeg...

Die Kerstyd is ’n tyd vir rustig raak, al sou stormwolke dalk reeds begin pak. Ons kán hierdie dreigende wolke met kalmte en rustigheid benader, want ons weet genoeg. God se openbaring vertel genoeg van genade.

Sielkundiges het deur die jare verskeie hulpmiddels ontwikkel waardeur ons ander mense en onsself beter kan verstaan. Een daarvan is die sogenaamde Johari-venster. Die venster bestaan uit vier blokke. Die een kwadrant stel dat daar dele van ons menswees is wat almal kan waarneem. Dit sou byvoorbeeld opsigtelike dinge soos fisiese eienskappe wees. Ekself en almal wat my sien is bewus daarvan. Dan is daar dele van my menswees waarvan ek bewus is, maar ander mense kan dit nie sien nie. Dit sou tipies eienskappe of gevoelens wees wat ek eerder geheim wil hou.

Daar is dele wat ander kan sien, maar waarvan ekself nie bewus is nie. Hiervan gee Flannery o’Connor, ’n Amerikaanse skrywer wat in 1964 oorlede is, ’n treffende voorbeeld. Sy vertel van ’n ouerige dame wat baie hard vir die kerk gewerk het. Dit het haar tevrede oor haarself laat voel. Sy het op ’n keer in ’n dokter se spreekkamer ’n jong meisie teëgekom wat gevloek en vreemd opgetree het. Sy het heimlik dankbaar gevoel dat die Here haar anders aanmekaar gesit het. Die jong meisie het iets van haar selftevredenheid raakgesien en haar op ’n kru manier daaroor gekonfronteer. Die ou dame het gekrenk huis toe gegaan en diep nagedink oor alles wat gebeur het. Êrens in haar nadenke het sy besef dat sy haarself tóg hoër as ander ag. Ander kon dit sien, maar sy moes eers daarmee gekonfronteer word en diep daaroor nadink voordat die waarheid uitgekom het.

Laastens is daar dele van my menswees wat niemand kan waarneem nie. Dit verwys na diep onderdrukte gevoelens of eienskappe waarvan ek nie weet nie, en ander mense kan dit ook nie waarneem nie. Dit val in die kader van die totaal onbekende. Om iets van hierdie totaal onbekende bloot te lê of te ontdek, kan as ’n openbaring beskryf word. Dit beteken letterlik om die gordyn weg te trek van iets wat vantevore nie sigbaar was nie. Dit beteken natuurlik nie dat dit nie bestaan het nie. Dit kon vir eeue bestaan het, maar het baie lank geneem om geopenbaar te word.

Wanneer ons aan God dink, kan ons sonder vrees vir teëspraak sê dat die Almagtige slegs gedeeltelik aan ons bekend is. Ons weet iets van God, maar die somtotaal ontwyk ons. Van al die dinge wat wel aan ons geopenbaar is, is die wete van ons verlossing seker die kosbaarste. God openbaar genade deur Jesus Christus op so ’n wyse dat ons nie weer daaroor hoef te wonder nie. Weet ek dít, weet ek genoeg.

In die feestyd wat voor ons uitgestrek lê, kan ons hierdie openbare kennis, hierdie gordyn wat voor ’n deel van God se wese weggetrek is, van harte waardeer en ons eie maak. Dit bring egter vir ons veel meer as net bevryding van magte waaroor ons nie beheer het nie. Dit bring kalmte en vrede in ’n wêreld wat soms van die teendeel getuig. Dit is dus vrede ten spyte van... of te midde van...

Die meeste mense ken die mooi staaltjie van die koning wat opdrag gegee het dat elke skilder in die koninkryk ’n kunswerk moet skep wat volmaakte vrede uitbeeld. Die mooiste en aangrypendste natuurtonele is een na die ander by die paleis afgelewer. Almal het die natuur op sy kalmste uitgebeeld. Die wenner, wie se kunswerk later teen die koning se kamermuur gepryk het, se skepping het alles behalwe van kalmte vertel. Dit het ’n onstuimige waterval uitgebeeld wat met geweld op rotse neerstort. Toe die koning gevra is waarom hy hierdie skildery gekies het, was sy antwoord: As jy mooi kyk, sal jy agter op die skildery ’n duifnes sien. Daarin lê twee kleintjies knus en veilig met ’n moederduif wat besorg om hulle rondtrap. Dit het, aldus die koning, die naaste aan die waarheid gekom.

Sy uitleg hiervan was dat die lewe elemente van onstuimigheid en onrustigheid voortbring. Tog is daar Een wat te midde daarvan by ons waak. Daar is immers geen mens wat slegs volmaakte natuurtonele ervaar by wyse van spreke nie. Elkeen van ons se bestaan lewer donker oomblikke op. Dalk sou ’n terugblik op die afgelope jaar van hierdie momente in herinnering roep. Baie van u het by oop grafte moes staan. Verskeie gelowiges het rondom siekbeddens gewaak, en almal van ons het die kwynende waarde van ons koopkrag ervaar.

Die wonder van God se genade, deur die liefde van ons Here Jesus, lê daarin opgesluit dat daar ín ons seer en hartseer, ín ons verlange en onstuimigheid, vrede kan wees. Die duifnes agter die waterval suggereer dat die Here oor ons waak en dat Hy die pad saam met ons loop, ongeag die aard en die omvang van die lewenstorms.

Ons ingaan, ons uitgaan, ons voortgaan, ons kennis of onkunde, is immers nooit met eensaamheid gekleur nie. God se openbaring is van so ’n aard dat dit genoeg vertel van genade. Die Kerstyd is inderdaad ’n tyd vir rustig raak; rustig, terwyl die stormwolke van die volgende jaar dalk reeds begin pak. Mag ons hierdie dreigende wolke met kalmte en rustigheid benader, want ons weet genoeg om te verstaan dat ons onsself in die nes van ons Heer bevind.

(Ds David Barnard is predikantslid van die Kommissie van die AKV

en leraar in Gemeente Magaliesmoot)