Die Hervormer

Rentmeesters van God se skepping

Uit die skeppingsverhale van Genesis 1 en 2 is dit duidelik dat die mens deel is van die wonder van die heelal, maar met ’n bepaalde rol en roeping ten opsigte van die skepping. Ons is God se verteenwoordigers omdat ons na die beeld van God geskep is. Dit bring die verantwoordelikheid dat ons oor die nie-menslike sy van die skepping moet heers.

Die woord ekologie beteken letterlik die studie van die huis (Grieks: oikos = huishouding; logos = studie). Ons kan dus daaraan dink as die wetenskaplike studie van organismes (plante en diere) in hul huis (natuurlike omgewing). Dit gaan dus oor die verwantskappe en die wisselwerkinge tussen lewende organismes onderling en met die natuurlike omgewing waarin hulle aangetref word.

Daar is ’n ekologiese krisis in die wêreld. Ons kan net ’n aantal terme noem wat met ekologie te doen het, dan sal ons almal dit besef. Terme soos besoedeling (grond-, lug- en waterbesoedeling), biosfeer (daar waar lewende wesens aangetref word, wat die atmosfeer, aardkors en water insluit),  chlorofluorokoolstowwe (CFK of die kunsmatige stowwe wat die aarde se osoonlaag verwoes en wat in sekere spuitkannetjies, yskaste en lugversorgers gebruik word), demografiese groei (bevolkingsgroei), kweekhuiseffek (’n geleidelike toename in die aarde se temperatuur weens probleme en wanbalanse in die omgewing), die uitsterwing van ’n lewensvorm (plante of diere), volhoubare bronne (byvoorbeeld woude of varswatermere wat ’n woestyneffek tot gevolg kan hê as dit nie bewaar word nie), ensovoorts.

Die mens se aandeel

Die ergste is die feit dat dit hoofsaaklik die mens is wat vir die krisis verantwoordelik is. Onverantwoordelike optrede deur die mens in die web van lewe het ekologiese versteurings tot gevolg, met rampspoedige veranderinge in die aardgemeenskap. SG Stark lig ’n paar sake uit wat wys hoe die mens daarvoor verantwoordelik is: Die probleem dat die mens die natuur bloot sien as ’n bron van roumateriale vir menslike gebruik (en misbruik). Die konsep van individuele regte wat die basis vorm vir Westerse politieke en ekonomiese ideologieë en wat lei tot die houding dat die skepping daar is om die mens te dien en te onderhou. Die moderne mens se aanhang van tegnologiese vooruitgang, waar die probleem nie die aanwending van tegnologie is nie, maar die tipe tegnologie en tot watter koste dit aangewend word. Samevattend sien hy die moderne kultuur met sy wêreldbeskouing van materialisme as die wortel van die kwaad. So gesien, word die natuur ’n blote middel wat hierdie materialisme dien.

Die kerk se rol

Wat kan ons as Kerk daaraan doen? Ek dink ons moet opnuut ons rentmeesterskap besef. ’n Definisie van rentmeesterskap is om om te sien na die aangeleenthede of besittings van ’n ander. ’n Rentmeester is dus soos ’n bestuurder in diens van die eienaar van die besigheid. Anders as wat die materialistiese gees ons laat dink, is ons nie eienaars nie, ons is rentmeesters – ook van die natuur. In die Ou en Nuwe Testament is daar ’n totaal van 26 direkte verwysings na ’n rentmeester of rentmeesterskap, meestal in die betekenis van ’n bestuurder van ’n huis of huishouding. Die rentmeester het die verantwoordelikheid gehad om iets wat aan iemand anders behoort, te bestuur. As rentmeesters het ons dus ’n belangrike rol om te vervul, maar steeds as dienaars in God se diens wat aan Hom verantwoording moet doen.

Indien ons oor rentmeesterskap ten opsigte van die skepping praat, begin ons altyd by die skeppingsverhale van Genesis 1 en 2. Hierdie vertellings maak dit duidelik dat die mens deel is van die wonder van die heelal, maar met ’n bepaalde rol en roeping ten opsigte van die skepping. Die vers wat hierdie rol en roeping in die besonder uitlig, is Genesis 1: 26: Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip” (1983-vertaling). Die sleutelwoorde hier is verteenwoordiger, beeld en heers. In kort sê dit dus dat ons God se verteenwoordigers is op grond daarvan dat ons na die beeld van God geskep is. Dit bring die verantwoordelikheid om oor die nie-menslike sy van die skepping te heers.

Daar is egter ook ’n tweede baie belangrike vers in die tweede skeppingsverhaal wat dikwels vergeet word, naamlik Genesis 2: 15: Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas (1983-vertaling). Hier is die sleutelwoorde bewerk en oppas. Die tuin verteenwoordig die skepping, en die mens se doel is om dit te bewerk en op te pas. Indien ons dus oor ons as mense se rentmeesterskap wil praat, moet ons albei gedeeltes in gedagte hou.

Eerstens kan ons aflei dat ons ’n verantwoordelik-heid ten opsigte van die skepping het. Ons is geneig om vanuit ons verhouding met God so op ons verhouding met ons naaste te fokus, dat ons vergeet van ons verhouding met die skepping. Indien ons wel aan daardie verhouding dink, is ons weer geneig om daarop te fokus dat ons oor die skepping moet heers. Dit lei maklik daartoe dat ons die skepping net sien as iets wat tot ons voordeel gebruik kan word, sonder om die verantwoordelikheid teenoor die skepping te onthou.

Hou ons egter Genesis 2: 15 ook in gedagte, besef ons dat die klem nie op die heers moet val nie, maar op die verstandige bewerk en oppas van die skepping. Dit is wat dit vra van ons wat na die beeld van God geskape is. Ons moet dus só met die skepping omgaan soos wat God dit self doen (as ons in sulke menslike terme oor God kan praat). Rentmeesterskap is immers die vergestalting van die beeld van God op die aarde. Die teoloog Walter Bruegemann het dit treffend opgesom toe hy gesê het ons as Christene moet oor die skepping heers soos ’n veewagter wat sy kudde versorg. Ons moet dus onthou dat elkeen van ons ’n verantwoordelikheid teenoor die skepping van God het, want ons is almal aangestel as rentmeesters wat dit moet bewerk en bewaar.

(Met erkenning aan Die Ou Testament en ekologie – ’n skeppingsteologiese perspektief op rentmeesterskap van SG Stark, 2013; en Die begrip “rentmeesterskap” in die gemeentebouproses van JF van der Merwe, in HTS Teologiese Studies 58(1) 2002.)

(Ds Chris le Roux is leraar

in Stellenbosch en Worcester)