Die Hervormer

Uitdagings vir kerklike leierskap

Effektiewe leierskap het veral te doen met die mate waartoe elke leier emosioneel en psigies gereed is om ’n verskil te maak. Om nie deur die omstandighede van ons tyd ingesuig en lamgelê te word nie, maar om konstruktief deel te hê aan ’n werklikheid wat konstant verander. 

Op die Tangier-eiland, Virginia (VSA), het 67% van die eilandoppervlakte sedert 1850 verdwyn. In ’n onlangse artikel wat deur die Alban-instituut gepubliseer is, lees ek van die 300 hektaar eiland wat jaarliks ongeveer 5 meter kuslyn verloor as gevolg van die stygende seevlak en erosie. 470 inwoners bewoon die eiland tans. Die eiland sal na alle verwagting binne die volgende 20 tot 30 jaar onbewoonbaar en oor 50 jaar geheel en al onder water wees. Miljoene Amerikaanse dollars is op verskillende wyses bestee om die erosie teen te werk. Nie een van die vele pogings lewer enige vrug nie. Maklike oplossings bestaan nie! Die seevlak styg steeds en die tyd vir maklike antwoorde is verby. 

Ook die Kerk staan voor groot sosio-ekonomiese uitdagings. Is die besigheidsmodel van gemeentes van die Kerk nog relevant en volhoubaar? Hierdie is myns insiens een van die primêre uitdagings waarvoor die 72ste AKV te staan gaan kom. Nuwe oplossings vir uitdagings in ’n nuwe tyd is nou van kritieke belang.

Wat doen leiers terwyl die watervlakke styg en die lewensruimte om ons afneem? Om die nodige aanpassings te doen, is nie so voor die hand liggend nie. Verandering is kompleks en gaan gewoonlik met weerstand gepaard. Die rol van effektiewe leierskap in die lewe van die plaaslike gemeente is van onskatbare waarde. 

Meer suksesvolle leierskap word van minder suksesvolle leierskap geskei tot die mate waartoe leiers daarin slaag om kernsake van die sogenaamde periferiesake te onderskei.  Om laasgenoemde tot uitvoering te bring, het leiers nodig om ’n geloofsonderskeidende ingesteldheid te handhaaf. Wat is vir die gemeente van Jesus Christus in hierdie tyd en plek bepalend vir ons bestaan? Wat is die bagasie waarvan ons kan ontslae raak, en wat moet anders gedoen word?

Vir die meeste gemeentes binne die werkruimte van die NHKA word dit al hoe moeiliker om kop bo water te hou. In fases van finansiële oorlewing en erosie word kosbare tyd en energie van die gemeente weg van die bediening af bestee. Dit vra ongekende dissipline en gehoorsaamheid om die roeping van die gemeente bo alles te stel.  Is jul gemeente ’n Tangier-geloofsgemeenskap? Het die gemeente en sy onmiddellike omgewing enigsins betrekking op mekaar?

Edward N Lorenz (vader van die Chaosteorie) het ’n teorie geformuleer wat bekendstaan as die skoenlapper-effek. Die beeld van ’n skoenlapper wat sy vlerke fladder en onvoorspelbare uitkomste tot gevolg het, kan met groot vrug op moderne organisasies, besigheidsisteme en die Kerk van toepassing gemaak word. Die uitgangspunt is die volgende: ’n Klein impuls op ’n bepaalde plek in die omgewing waarin daar gewerk en geleef word, kan eventueel ’n reuse-uitwerking hê op die groter geheel. Die aardkors skuif byvoorbeeld diep onder die see met een meter. Die gevolg hiervan is aardbewings en tsunami’s wat groot lewensverliese insluit. 

Die waterkrisis in die Wes-Kaap en die Marikana-gebeure is  voorbeelde van ’n bepaalde gebeurtenis (impuls) en die geweldige impak daarvan op die groter sosio-ekonomiese omgewing. In elke gemeente binne die werkruimte van die Kerk is die watervlak besig om te verander: Die omvang, struktuur en verspreiding van die bevolking verander voortdurend. Die ekonomie in Suid Afrika toon duidelike tendense. Kwessies soos grondonteiening, korrupsie, werkloosheid en onderwys (en vele ander) impakteer die lewe van elke lidmaat direk. 

Die Hervormde Kerk het dekades lank gefunksioneer as ’n geslote organisasie. Die Kerk het sy belange onafhanklik van ’n groter geheel bestuur. Natuurlik was dit net ’n illusie! Die Kerk en sy omgewing is albei oop sisteme wat wedersyds betrekking het op mekaar. Die groter geheel (’n holistiese benadering) is ’n dinamiese eenheid waarin die gemeente en die leier nie ’n statiese posisie beklee nie, maar ’n aktiewe rol speel in die stuur en vorming van die gemeente. Die leier het dus nodig om diep te luister en sy of haar lense fyn in te stel op die omgewing wat ons omring.

Leiers het die verantwoordelikheid om die interaksie tussen die plaaslike gemeente en die omgewing te monitor, en te verstaan hoe interne en eksterne kragte op mekaar inwerk. In die boek Die perfekte storm (2007) is Stephan Joubert van mening dat hierdie onstuimige tyd een van die mees opwindende, uitsonderlike en kairos-belaaide tye is wat die kerk nog ooit beleef het. Kairos-tyd bring leiers in beweging. Dit is nou tyd om kreatief en innoverend na te dink oor die toekoms en die uitdagings wat ons tyd daarstel. 

In my riglyne aan 2018 se Ringsvergaderings wat op gemeentelike bedieningsplanne betrekking het, verwys ek na die verskillende bedieningsmomente in die gemeente. Daar is in die Kerk mense aan wie God bepaalde take gegee het. 1 Korintiërs 12: 28 verwys na leiding gee (administrasie/organisasie) as ’n gawe van die liggaam van Christus. Die Griekse begrip kubernao is ’n metafoor uit die skeepvaart wat stuur beteken. As gemeentelike leiers word ons uitgedaag om gemeentes deur die stormwaters en teen die winde van verandering in, te navigeer.

Om langer geanker te wees in die gemaksone van die verlede, doen die Kerk nie goed nie. Baie gemeentes word verlam deur ’n verlange na die goeie ou dae. Die Hervormde Kerk moet die essensiële uitdaging geïdentifiseer kry en daarmee handel.

Om die toekoms sonder onnodige bagasie aan te pak, vra dat ons as Kerk sal opruim waar dit ook al nodig mag wees. Laasgenoemde gebeur nie sonder pynlike ervarings nie: Ons is maar kleipotte wat maklik breek. Ons bevind ons in ’n tyd van onvaste punte. In onstuimige toestande is dit van kritieke belang dat gelowiges vaste punt vind. Die kruis van Christus is en bly ons enigste kompas. Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika is daarvan oortuig dat die uitdagings van ons tyd nie bepalend kan wees vir die wese van die Kerk nie. Die wese van die Kerk word bepaal deur God Drie-enig (Besluit 1, 71ste AKV).

Die fondasie waarop die Kerk staan, is Jesus Christus.Mag ons as leiers die visie van die Hervormde Kerk in die visier hou terwyl ons gemeentes navigeer: om vanuit ’n lewende verhouding met God, Jesus Christus as Hoop vir die wêreld te verkondig. 

 (Dr Frikkie Labuschagne is

algemene sekretaris van die NHKA)