Die Hervormer

Kerk-wees en gesin-wees – ’n ongemaklike vennootskap

’n Kunstenaar is gevra om Jesus se lewe uit te beeld deur verskeie momente daarvan vas te vang in kuns. Die versoek is gerig dat hy in die kunswerk moontlik ook gesinne sal uitbeeld as getuies van Jesus se lewe. Andersyds lê die hoop en genesing van gesinne daarin om volgelinge van Jesus te wees.

Maar die kunstenaar het geweier om gesinne deel te maak van sy kunswerk...

’n Vermaning tot versigtigheid

Die kunstenaar se reaksie het my diep laat nadink en het mettertyd vir my al hoe meer sin gemaak. Hoewel die gedagte edel is, bestaan die gevaar dat ons sê dit is Jesus én iets anders; Jesus én gesin-wees. Jesus het nie ons gesinsituasie as voorwaarde gestel vir dissipelskap nie. Buitendien is en was gesinne nog altyd ’n diverse samestelling van mense. Dit was reeds so in die ontstaantyd van die Bybel. In Suid-Afrika is ongeveer 41% van gesinne enkelmoeder-huishoudings en is daar meer as 110 000 huishoudings waar kinders aan die hoof staan. ’n Gesprek oor gesin-wees behoort dus inklusief te wees, en dit kan geensins verhef word as voorvereiste van dissipelskap of selfs lidmaatskap nie.

Perspektiewe op gesin-wees

Omdat gesinne so verskillend saamgestel is, ons patriargale verlede so pynlik is en die misbruik van vroue en kinders (en soms ook mans) so dikwels in gesinne voorkom, gaan stemme op dat die kerk geensins oor gesin-wees moet praat nie. Ons behoort te praat oor die aard van verhoudings maar nie oor die samestelling van gesinne nie. Volgens hierdie perspektief behoort die kerk die bestaande diversiteit van gesinsvorme te omhels. Die oomblik wanneer ’n gesprek in die rigting beweeg waar samestelling ter sprake is, word sekere gesinne as “normaal” en ander as “abnormaal” of “minder” voorgestel. Dit kan mense wat nie aan die sogenaamde ideaal voldoen nie, diep verwond.   

Aan die ander kant is daar stemme wat sê ons behoort binne die kerk oor albei te praat. Gesin-wees is ’n biologiese realiteit wat elke mens se lewe raak, en gesinsamestelling het ’n invloed op gesinsverhoudinge. Hoewel ons patriargale verlede pynlik is, het hedendaagse alternatiewe meer negatiewe gevolge, soos die marginalisering van die huwelik, kortstondige seksuele verhoudings, ’n toename in gesinsgeweld en die toenemende mishandeling van vroue en kinders. Volgens hierdie perspektief behoort die kerk mense aan te moedig om in die huwelik te tree, so ver as moontlik egskeiding te vermy en kinders binne die eg groot te maak.

’n Gesprek oor die gesin is uiteraard meer gekompliseerd. Tog help ’n vereenvoudigde voorstelling ons om beter begrip te hê vir mekaar.

’n Pastorale, profetiese en missionale perspektief

Ek is oortuig daarvan dat daar maniere is om ’n middeweg te vind. Dit is byvoorbeeld moontlik om jou te beywer vir gesonde, sterk huwelike en gesinne sonder om uitsluitend te wees. Daar is gemeentes wat bedieninge beplan rondom gesinne en lewensfases. Soms hoor ’n mens buite-kritiek, naamlik dat dit dalk mense mag uitsluit, of dalk maak dit gesinne “deel van die kunswerk”, om daardie beeld te gebruik. Maar dit is waarom ons na mekaar se harte moet luister. 

Eerstens, om vír iets te wees, beteken nie dat jy noodwendig téén iets anders is nie. As jy jouself beywer om arm mense se nood te verlig, is jy nie noodwendig negatief oor ryk mense nie. So ook kan die kerk huwelike hoog ag, sonder om mense wat kies om nie te trou nie, uit te sluit. 

Tweedens, ’n gemeente is ’n hermeneutiese ruimte waar jy jou omgewing interpreteer aan die hand van jou geloofstradisie. Omdat dit blyk dat gesinsverbrokkeling mense se lewens verwoes, het die kerk ’n duidelike profetiese taak. Ons behoort dan hard en duidelik toe te tree om kinders te beskerm en ouers te vermaan en toe te rus.  

Derdens, ’n bediening aan gesinne is ook ’n missionale aangeleentheid. Deurdat gemeentes ’n duidelike visie vorm van hoe gesinne ondersteun en bygestaan kan word, is daar baie geleenthede om uit te reik na die gemeenskap. Byvoorbeeld, in ons omgewing is ongeveer 35% van alle gesinne enkelmoeder-huishoudings. Dit is onseker hoeveel enkel-vadergesinne daar is aangesien gegewens hieroor nie beskikbaar is nie. Dink net watter geweldige uitdagings enkelouers in die gesig mag staar deur voltyds te werk, kinders rond te ry, die huishouding aan die gang te hou, en dit meestal alleen te moet doen. In ons area, in ’n klein gebied weerskante van die Magaliesberg, leef meer as 19000 jong mense van 0-18 jaar; daarom bied ons gemeente omvattende ouerskapskursusse aan om ouers te ondersteun. Ongeveer een vyfde van die hulp wat ons aan gesinne bied in die pastoraat is aan mense buite die gemeente. Gemeentes het ’n pastorale en diakonale roeping om gesinne by te staan. Soos ons aangaan, maak dit weer nuwe deure oop. 

Gesin-wees met ’n missie

Die visie wat ons het vir gesinne sluit onder andere in dat –

  • daar goeie kommunikasie moet wees;
  • tyd kosbaar geag word en daar beplan moet word om gesinstyd saam deur te bring;
  • gesinne saam kerk toe gaan en gereeld geloofsgesprekke (huisgodsdiens) moet hê;
  • ouers en voogde harder werk aan ’n gesonde emosionele en geestelike nalatenskap as ’n groot erfporsie;
  • gesinne sal inskakel by die bediening van die gemeente sodat hulle hul eie verhoudings verdiep, maar ook daaraan deelneem sodat hulle self diensbaar word aan ander;
  • elkeen verantwoordelikheid aanvaar vir hul eie seer en sonde, en dringend hulp soek sodat die siklus van seer of geweld by hulle kan stop; en
  • gesinne ’n morele en etiese weg sal volg wat pas by die dissipelskap van Jesus en, waar nodig, ook krities teenoor die kultuur sal staan wanneer dit bots met Christelike waardes.

’n Kunswerk, inderdaad

Die gevaar van ’n kunswerk sonder enige uitbeeldings van menswees loop ook die gevaar om so abstrak en so versigtig te word dat jy naderhand niks meer kan sê nie, en niks meer kan doen nie, want jy is te bang jy affronteer iemand. Laat ons die kunswerke wat Jesus uitbeeld, dan sonder mense laat. Maar laat ons tog ’n kunswerk van menselewens uitbeeld met Christus wat tussen óns kom staan.

(Dr Thinus van Staden is leraar in Gemeente Montana)