Die Hervormer

Hoe nou, Hervormers?

Die wêreld en die werklikheid het verander, en ons het teologies volwasse geword: Ons het ingesien dat die Here ons nie ter wille van óns persoonlike en private saligheid tot geloof gebring het nie, maar dat die Here ons in ons wêreld wil gebruik as sy getuies en sy hande en voete. Wat is die implikasies hiervan vir die Hervormde Kerk en sy lidmate?

Die hele ontstaan en geskiedenis van die Hervormde Kerk is vervleg met dié van die staat. Net soos in Nederland, was die Hervormde of Gereformeerde Kerk aan die Kaap eers direk gebonde aan die Vereenigde Oost-Indische Compagnie, en toe met die Engelse regering. Toe die Voortrekkers hulle na die Groot Trek in Potchefstroom en Pretoria en elders begin vestig, word die Nederduitsch Hervormde Kerk daar as ’n kerk los van die Kaapse kerk georganiseer en as staatskerk van die Zuid-Afrikaansche Republiek erken. 

Vanuit die Reformatoriese agtergrond van die Hervormde Kerk het ons Kerk van die begin af sterk gefokus op die suiwer verkondiging van die Woord, die kerklike belydenisse, en ’n kerklike orde wat op presbiteriaal-sinodale beginsels georganiseer is. Die ervarings van die Groot Trek, die pionierstyd in die binneland, die Anglo-Boereoorlog en die opkomende Afrikanernasionalisme teen die agtergrond van die rebellie, verstedeliking en ’n depressie het verder daartoe bygedra dat die kultuur van die Hervormde Kerk sterk na binne gerig was. Ons moes “ons” Kerk onder moeilike omstandighede uitbou en vir “ons” mense in nood sorg. 

Maar nou het die wêreld en die werklikheid verander. “Ons” mense is nie meer ’n enkele, aanwysbare groep mense met grootliks dieselfde waardestelsel nie. Ons Kerk is nie meer op enige wyse aan die staat verstrengel nie. Ons lidmate leef en leer en werk nie meer apart van die veelkleurige verskeidenheid van Suid-Afrika se mense nie. En ons het teologies volwasse geword: Ons het ingesien dat die Here ons nie ter wille van óns persoonlike en private saligheid tot geloof gebring het nie, maar dat die Here ons in ons wêreld wil gebruik as sy getuies en sy hande en voete. 

Dit is hierdie nuwe werklikheid wat die Hervormde Kerk nuut laat dink het oor ons verstaan van God, wat ons laat verstaan dat God reg van die begin af uitreik na mense wat Hom nie ken nie, en wat dit nie verdien om sy kinders te wees nie. Dit is God wat van vroegs af die bedoeling gehad het om sy volk juis as sy getuies na ander volke te stuur, en sy apostels na ander mense. Daarom het die Hervormde Kerk ingesien dat God se kerk op aarde nie anders kan wees nie, en dat ons, as deel van God se kerk op aarde, net soos Hy moet uitreik en aanraak. Die kerk kán nie op onsself gerig wees nie, dit móét na buite gerig wees. Of, om die groot term te gebruik wat nou ook in Ordereël 7 van ons Kerkorde uitgespel word: Die kerk is geroepe tot “missionale bediening”. 

Ons weet egter almal dat die betekenis van iets wat net in die Kerkorde staan, nie noodwendig deur alle lidmate en gemeentes verstaan word nie. Daarom het die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering in Januarie ’n bosberaad gaan hou om die beginsels en praktiese implikasies van die nuwe kerklike verstaan te bedink. Die Kommissie sien hul rol daarin dat hulle moet terugstaan om die groter prentjie te beskou, dat hulle beginsels en tendense moet raaksien, gemeentes moet bystaan met raad en praktiese begeleiding, en sinodale infrastruktuur en fondse só moet aanwend dat dit gemeentes help om hul roeping in hul omgewing raak te sien en uit te leef. 

Die Kommissie het op die bosberaad weer eens die visie bevestig wat sê Ons droom is dat alle mense in Jesus Christus sal glo as hoop vir die wêreld. Hieraan wil ons in elke gemeente uitdrukking gee deur die evangelie van Jesus Christus in ons erediens en ander geleenthede met vreugde te vier, deur ons onderlinge verbondenheid en lojaliteit as gemeentes en lidmate te koester en uit te bou, deur teenoor almal buite die kerk te getuig dat Jesus die Here is, en deur te dien soos Christus ons kom dien het. 

Die Kommissie het verder gegaan en gesê dat elke gemeente van die Hervormde Kerk ’n duidelike fokus moet hê om die voorafgaande in hul spesifieke konteks te laat vorm aanneem: Vanuit ’n lewende verhouding met God moet elke gemeente ’n verskil maak in die lewe van sy lidmate, die gemeenskap, die omgewing en die wyer wêreld. As ons ’n bekende akroniem gebruik om dieselfde in omgekeerde volgorde te sê, kan ons die drie dinge wat vir die Hervormde Kerk se roeping belangrik is die Kerk se MRI noem: 

  • Die missionale taak (uitreik na die wêreld).
  • Die relasionele taak (ons onderlinge verhoudings en belewenis dat ons “behoort”).
  • Die inkarnerende taak (Christus wat in ons harte tuiskom).

As ’n gemeente hiérmee erns maak, sal die gemeente trou wees aan sy roeping en ’n aantreklike geloofsgemeenskap in die samelewing wees. Natuurlik verskil gemeentes se konteks en omstandighede, en daarom sal verskillende gemeentes elk op sy eie manier gestalte gee aan hierdie MRI. Maar gemeentes moet verstaan dat ons nie meer, soos baie lank in ons geskiedenis, op die kerk as institusie mag fokus nie. Ons kan nie meer voortgaan om dieselfde dinge as in die verlede te doen nie, ons mag nie onnadenkend bloot ou roetines in stand hou nie, en ons durf nie meer vasklou aan gemeentestrukture of geboue nie. Elke gemeente moet in sy aktiwiteite erns maak met hul verhouding met God, met mekaar en met die wêreld om hulle. Slegs op hierdie manier sal ’n gemeente in ons tyd en wêreld relevant bly. 

Dit is die Kommissie se bede dat elke gemeente in die Kerk biddend sal nadink oor die manier waarop hulle aan hul roeping gestalte kan gee, en dat ringsvergaderings en ringskommissies gemeentes hierin sal ondersteun. Gemeentes is ook welkom om die kantoor van die Kommissie te nader vir leiding, opleiding en ondersteuning.

(Dr Wouter van Wyk is die sekretaris van die Kommissie van die AKV)