Die Hervormer

Moedertaalonderrig? Awesome!

Wat kan Afrikaanssprekende ouers nou eintlik doen om moedertaalonderrig vir hul kinders te verseker in ’n enkelmediumskool? Waarskynlik nie veel nie.

Die redakteur se versoek dat ek moet skryf oor wat Afrikaanssprekende ouers kan doen om moedertaalonderrig vir hul kinders te verseker, is ’n versoek gegrond op emosie na die Hoërskool Overvaal-gebeurtenis. Die arme redakteur! Dat hy by alles ook nog sulke naïewe navrae moet hanteer – en dit in 2018!

Wat kan Afrikaanssprekende ouers nou doen om moedertaalonderrig vir hul kinders te verseker in ’n enkelmediumskool? Nie veel nie. Eintlik niks. Dit is egter ’n baie kortaf antwoord. Laat ons ons dus maar vereenselwig met nie veel nie, al is dit ook hoe ontoereikend.

Waarde van moedertaalonderrig

’n Bietjie teoretiese agtergond. Enigiemand wat beweer dat skoolonderrig in enige taal buiten jou moedertaal geen nadelige uitwerking op die skolier het nie, verklap eenvoudig onkunde en ’n gebrek aan toegespitste leeswerk. Die waarde van moedertaalonderrig – selfs tot op universiteitsvlak – is nie debatteerbaar nie. Vergelyk in dié verband etlike verwysings in Giliomee en Schlemmer se boek ’n Vaste plek vir Afrikaans. Taaluitdagings op die kampus van 2006, Sun Press.

Ook in die opvoedkunde is daar ’n legio hieroor geskryf, gewerk en nagevors. Afrikaanssprekende ouers wat van kleuterdae af hul kinders in ’n anderstalige omgewing grootmaak, mag dink hulle gee hul kindertjies ’n kans in die nuwe (reënboog-?) ekonomie, maar eintlik verklap hulle bloot hul eie onwilligheid om prinsipieel oor die rol van taal te dink. Daar is geen rede vir sulke ouers om verder Afrikaans te besig nie.

Praktiese sake. Indien u van ’n ander garde is – die hardnekkige voorstanders van die polities uitgediende idee dat u as Afrikaanssprekende ’n reg het in hierdie land – kan u van die volgende kennis neem.

’n Grondwetlike reg

U is reg. U het ’n reg. Die grondwetlike reg om die onderwysomgewing van u kinders te bepaal, is verskans, so ongeveer op die eerste bladsy van die Grondwet. Dit staan daar: op papier.

Dié reg word uitgeoefen deur te stem in die Skoolbeheerliggaamverkiesing van die skool waar u verkies of vanweë u ekonomiese posisie verplig is om u kinders te laat skoolgaan. Die Skoolbeheerliggaam (SBL) as verkose deur die ouers, bepaal die beleid van die skool. Na die verkiesing het ouers nie veel insae in die prosesse nie, tensy hulle in gesprek tree met die SBL. Die SBL se taalbeleid behoort dus voor die verkiesing met ouers gekommunikeer te word, en teoreties kan jy ’n skool kies op grond van die taalbeleid. (Die SBL se stryd om Afrikaans te handhaaf, is nie deel van vandag se onderwerp nie, en daarom net een opmerking: Dit is ’n geweldige stryd. Geen grondwetlike argument dra in gesprekke met verteenwoordigers van onderwysdepartemente gewig indien dit gaan oor Afrikaanssprekendes se regte nie. Dit is hoe dit is. Punt.)

Meerderhede en minderhede

In gevalle waar die taalbeleid reeds dubbelmedium of parallelmedium is, kan ek nie sien hoe ’n SBL dit gaan verander na ’n enkelmedium onderrigtaal toe nie – veral nie as die taal Afrikaans is nie. Die ander ouers gaan uiteraard nie geneë wees nie en die beleidmakers in die onderwysdepartement sal dit op grond van rassisme en so meer verwerp. Vir u is die koeël deur die kerk. Die uiters verstaanbare uitspraak in die Laerskool Middelburg-saak maak dit tog duidelik – indien ’n belang gevestig is, mag dit nie weer verander word nie. (Die belange van ’n meerderheid kinders wat Afrikaans praat, is nie ter sake nie. Beleid wat ’n Afrikaanssprekende gemeenskap hul reg ontneem, is volgens die bogenoemde uitspraak nooit weer omkeerbaar nie, want die gewysigde beleid beskerm die belang van ’n Engelstalige minderheid.)

Indien u tans nog betrokke is by ’n openbare skool wat Afrikaans as enigste voertaal het, is u betrokke by ’n skool wat deel vorm van ’n baie klein persentasie in die land. U moontlikhede is ook beperk.

FEDSAS kan help

Die eerste wat gedoen kan word, is om te sorg dat die skool se SBL lid is van FEDSAS (Federasie van Suid-Afrikaanse Skoolbeheerliggame). FEDSAS se stryd is nie in die eerste plek om Afrikaans te beskerm nie, maar om te sorg dat die SBL se reg as verkose liggaam wat op gesag van die Grondwet die ouers se wil verteenwoordig, beskerm word. Dus – FEDSAS sal help in ’n taalstryd, indien die ouers en die SBL die saak korrek hanteer het. Hulle sal egter ook hulp gee aan die SBL van ’n parallelmedium- of dubbelmediumskool wat gebuk gaan onder viktimisasie van ’n drakoniese departement of – op interne vlak – ’n onbevoegde skoolhoof en so meer. Lidmaatskap is betaalbaar per kind per skool, en die voordele vir ouers en SBL’e is heelwat.

Indien u SBL nie ’n Afrikaanse taalbeleid voorstaan of aktief daarvoor werk nie, is openbare onderwys vir u nie eintlik ’n verdere opsie nie. Dan moet u groot geld praat. Dit is dan privaatskoolsake. Soos ons almal weet, is privaatskole duur en die enkele wat wel Afrikaans as onderrigmedium gebruik, is uiters skaars. Die druk op hulle is ontsaglik. U het almal reeds daarvan kennis geneem. Hoe lank sal hulle kan uithou?

Wat is dan te doen? Praat korrekte Afrikaans! Kweek trots by u kinders en leer hulle dat ’n mens in taal bestaan, soos ’n vis in water.

Veg saam met die SBL en steun hul inisiatiewe waar daar nog pogings is om Afrikaans as onderrigmedium te handhaaf.

Dit is omtrent dit.

O ja, soos die flambojante geestelike leier van ’n groot kerk in ons kontrei altyd sê: Blessings Mensies!

(Ds Nicolaas Steenekamp is voorsitter van HTS Middelburg se Skoolbeheerliggaam

en leraar in Gemeente Middelburg)