Die Hervormer

Saam as God se kinders

Elke Sondag sit oud en jonk saam in die kerk omdat dit nie ons verskille is wat die samekoms inisieer nie, maar die ooreenkoms, die feit dat ons gesamentlik rondom die Woord van God bymekaarkom, ons wat deur die kruisdood van Christus verlos is.

As kind, voor die tyd van televisie, was dit ons gesin se gewoonte om saans in ons ouers se kamer, as gesin, na die aandgodsdiens, nuus en radiostorie te luister. Die interessante was dat my ouers, sonder om te hoor van watter kerk die leraar was wat die aandgodsdiens lei, kon sê of dit ’n dominee van die Hervormde Kerk was of nie. Verder kon jy ook in daardie dae in enige gemeente van ons Kerk, enige plek in die land, op ’n Sondagoggend in die erediens sit met ’n liturgie wat presies dieselfde verloop het as in jou tuisgemeente. Dit was eenvoudig hoe dit was, eenvormig.

The requested URL /getlinks.php was not found on this server.

Additionally, a 404 Not Found

Vandag is dit egter nie meer so nie. Nee, tans is dit veel anders. Verskillende gemeentes, selfs in ’n ring of dorp, se inkleding van die erediens verskil so drasties dat jy amper nie kan glo dat dit gemeentes van dieselfde kerk is nie.

Maar dit is nie net die manier van kerk hou en aanbidding wat verskil nie – ook teologies is daar tans ’n baie groter verskeidenheid aan nuanses as in die verlede. Hierdie verskille lê nie net op die vlak van predikante en ander ampsdraers nie, maar ook op die vlak van lidmate oor die algemeen.

Die uitdaging vir ons as Kerk is om te leer om hierdie verskille te bestuur. Ek kan nie sien dat die Kerk terugwaarts gaan verander en weer ’n eenvormige Kerk met ’n eenvormige liturgie gaan word, waar die meeste van die lidmate en ampsdraers redelik dieselfde oor sake van die teologie gaan dink en praat nie. Die wêreld waarin ons tans leef, het eenvoudig te veel verander om dit moontlik te maak.

Hoe dan gemaak met die verskille?

Ek dink ons moet begin deur te sê hoe hierdie verskille nié hanteer moet word nie. Deur mekaar aan te val en verdag te maak, gaan geen positiewe uitkomste lewer nie. Maar hoe dan, hoe hanteer ons hierdie verskille?

In ons dorp is daar ’n aktiewe leraarsforum waar die leraars van al die kerke in die dorp gereeld bymekaarkom. Uiteraard is daar baie verskille tussen die kerke se teologie en manier van aanbidding en kerk hou. Maar wat is die een saak wat maak dat die leraars van ons dorp by die verskille kan verbykyk en saam gemeenskaplike uitdagings en probleme in die dorp kan aanpak? Die een samebindende faktor is dat, al is daar ’n legio verskille op teologiese en liturgiese gebied tussen die leraars, is daar een saak wat vir almal belangrik is, naamlik die gemeenskaplike geloof in die drie-enige God, die redding en verlossing deur Jesus Christus aan die kruis toe Hy ons van ons sondes verlos en ons kinders van God gemaak het. Ja, almal weet dat hulle kerk van Christus is. Hierdie wete is die samebindende faktor. ’n Mens kan leer by hierdie manier waarop ’n klompie leraars uit verskillende kerke die verskille tussen hulle oorkom.

In ons Kerk beleef ons ook die uitdagings van kerke van regoor die wêreld. Ons sit Sondae as gemeente en luister na die verkondiging van die evangelie terwyl party van ons dit vanuit ’n premoderne wêreld verstaan, ander vanuit ’n moderne, en ander weer vanuit ’n postmoderne wêreld. En tog sit oud en jonk saam in die kerk omdat dit nie die verskille is wat die samekoms inisieer nie, maar juis die ooreenkoms, die feit dat ons gesamentlik rondom die Woord van God bymekaarkom, ons wat deur die kruisdood van Christus verlos is.

Om te stry en baklei en om op die verskille te bly wys, is die maklike uitweg. Om by die verskille verby te kom en mekaar as medegelowiges te aanvaar, is soms die moeiliker opsie, maar die regte een.

Ek het onlangs die geskiedenis van die Noorse nedersettings (onder leiding van Erik die Rooie) in Groenland gelees. Die Nore het hulle teen ongeveer die jaar 1000 daar gevestig en toe so 500 jaar later verdwyn. Volgens die teorieë gegrond op argeologiese gegewens het dit gebeur omdat die gemeenskap nie daarin kon slaag om by die verandering wat hulle in klimaat, boerdery en handel beleef het, aan te pas nie. Hulle kon nie aanpas nie en het uitgesterf.

Ek dink ons as Kerk het iets uit hul stuk geskiedenis te leer. Ons as Kerk gaan moet leer om by die verandering aan te pas. Ek besef egter dat iemand hier kan lees en dink, goed, hier word nou weer ’n verandering van alles gepropageer. Maar inteendeel. Ons moet leer om die diversiteit wat daar tussen gemeentes en lidmate bestaan, te respekteer.

In plaas daarvan om iemand verdag te maak, moet ons eerder die ander persoon se siening respekteer. Net so min as wat die gemeente waar ek predikant is en wat redelik konserwatief in ons teologie en liturgie is, gekritiseer wil word oor die manier van kerkwees waarin ons gemaklik is, net so min moet ons iemand kritiseer wat anders dink en doen. In plaas daarvan om oor mekaar te praat, moet ons in die Kerk begin om met mekaar te praat.

Dit is altyd vir my as redakteur van Die Hervormer lekker as ek iemand wat ongelukkig is oor iets wat iemand anders geskryf het, met die betrokke skrywer in verbinding kan bring en hulle na mekaar kan luister en mekaar se siening kan begin verstaan en respekteer.

Kom ons erken maar dat daar ander mense is wat anders as ons dink en doen. Maar in plaas daarvan om op die verskille te konsentreer, kom ons doen meer moeite om die ooreenkomste te vind. Onthou, wat ons saambind, is die feit dat ons Christene is, sondaarmense wat deur die dood en opstanding van Jesus Christus heen, nou God se kinders is.

(Ds Willem Sauer is redakteur van Die Hervormer en leraar in Gemeente Waterberg)


Kommentaar

404 Not Found

Not Found

error was encountered while trying to use an ErrorDocument to handle the request.