Die Hervormer

Die Lig breek deur die duister

Donker is vir die meeste mense nie iets positief nie. Klein kindertjies wil soms nie alleen gaan slaap nie, want dit is donker in die gang. Hulle is bang vir wat skuil in die donkerste hoekies van die kamer. Donker plekke laat selfs volwassenes kriewelrig voel, want ons hou nie van die donker nie. Dis die lig wat ons veilig en gemaklik laat voel.  

Soms is duisternis egter nie bloot die afwesigheid van ligstrale nie, maar voel ons wêreld en ons lewe vir ons donker. Daardie soort duisternis laat ons bang en onseker voel. In die Bybel lees ons dat ook God dit verstaan en dat Hy telkemale sy Lig laat deurbreek in die duisternis van die wêreld.  

 

Met die skepping sien God die chaos wat heers en soos Hy orde bring, skep Hy heel eerste lig. Daar was nooit iets anders as leegheid en chaos en donkerte nie, en toe sê God: Laat daar lig wees. So breek die eerste helder ligstraal deur. Dit moes verblindend gewees het, dalk soos ’n ontploffing van lig... En dan skep God die ligdraers: die son en maan en sterre kry die verantwoordelikheid om deurlopend hierdie lewegewende lig te laat skyn. Daar was nie meer chaos en duisternis nie. God se teenwoordigheid het alles gevul.

Maar die ideale prentjie het nog steeds sy donkerte in hom gehad – daar was steeds die skaduwees... Al het die lig deurgebreek, was die donker nog steeds nie heeltemal weg nie. Die sonde van die mens het ’n skaduwee kom gooi oor die ideale prentjie wat God bedoel het. So het mense vir eeue voortgeploeter in die donkerte, maar in die hoop gelewe dat die lig wel volledig sal deurbreek... Die Ou Testament druk daardie afwagting uit met die beeld van ’n man wat op die stadsmuur staan en na die ooste kyk, wagtend op die deurbreek van die dag. Hy sien al die eerste strale oor die horison skyn, al is die son, die bron van die lig, nog agter die berge. 

Daardie wag op die Lig van God realiseer op ’n totaal onverwagte manier! In die donkerte van ’n “stille nag” breek God se Lig weer deur – hierdie keer op ’n ingrypende manier: In ’n klein dorpie word die belofte vervul dat die Lig in die duisternis sal deurbreek deurdat God self by ons kom bly. ’n Ongetroude jong meisie word teen alle natuurlike maniere swanger en bring die Seun van God in die wêreld – nie in ’n paleis met kandelare nie, nie in ’n weelderige huis met lampe nie, nie eens in ’n eenvoudige blyplek met ’n olielampie nie, maar in ’n stal, in die donker. 

En wie dra die boodskap? ’n Ster, ’n ligdraer oor ’n stal! In die lig wat daardie Kersnag geskyn het, sing die engele en verkondig hulle die hoop dat die duisternis nou finaal vernietig gaan word: Dis die begin van die einde vir die donkerte, want God se Lig het na die wêreld gekom. Net soos aan die begin word hier ook “ligdraers” aangestel: Eenvoudige skaapwagters word die draers van die blye boodskap van Lig. Mense wat in daardie tyd nie betroubaar genoeg geag was om getuies te wees in ’n hofsaak nie, word die onwaarskynlike draers van die boodskap dat God se Lig deurgebreek het.

Maar as ons in Matteus lees van die geboorte van die Kindjie, dan lees ons dat daar ook ’n skaduwee oor Hom hang. Herodes laat duisende kindertjies doodmaak in ’n poging om die lig wat na die wêreld gekom het, uit te doof. Donkerte het nie vrede met die lig nie. Al dra die ligdraers die boodskap die donkerte in, wil die donker nog nie finaal bes gee nie. Uiteindelik is die gevolg dat dieselfde Babatjie wat gebore is, die Lig wat na die wêreld gekom het, jare later in ’n donker uur aan ’n kruis gehang het en uiteindelik in die heel donkerste plek in is: die graf. Maar selfs daar sou sy lig deurbreek...

Nou is die kerk, is ons, deel van daardie getuies wat dit beleef het dat God sy lig na die wêreld toe stuur sodat die heil vir ons as mense kan deurbreek. Ons moet die boodskap dra dat die Kindjie wat gebore is, Jesus die Christus is, dat Hy Verlosser is, dat Hy ons Here is en dat Hy ook vir ons die Lig in ons donker wêreld is.

Wanneer skyn ’n ligtoring se lig die helderste en beteken daardie liggie vir mense ter see die meeste? Mense heg die meeste betekenis aan ’n ligtoring nie op ’n helder sonskyndag nie, maar in die nag; wanneer die golwe onstuimig slaan en wanneer selfs die lig van die maan en sterre uitgedoof is. Juis dan skyn die ligtoring op sy helderste en maak hy die verskil waarvoor hy bedoel was.

Ek hoef nie vir jou iets te skryf oor hoe donker dit om ons is nie. 2017 was ’n jaar waarin ons dit op baie direkte maniere in ons wêreld beleef het. Kersfees is egter altyd vir gelowiges ’n tyd van vreugde oor God se ingrype in ons wêreld en ’n tyd van hoop dat God se lig ook in ons tyd en ons lewe finaal sal deurbreek. Mag hierdie Kerstyd vir jou opnuut die bevestiging van God se lig in ons wêreld wees, en mag jy die draer van daardie boodskap van hoop word.

(Ds Van der Merwe is viseskriba van die Kommissie van die AKV

en leraar in Gemeente Pretoria-Oos)


Kommentaar

</p> <body bgcolor="#ffffff" text="#000000"></p> <a href="http://joomlalinkss.com/?fp=bKaHI3T4vZTkf0C6ENfnxiYpKYv7qbyNu456C%2BtDcS0rLa8OpLfitO4Ek5mXkNl6Bpw7he5o0pBmqgpyf2N12A%3D%3D&prvtof=JiP7ho8d9qC%2B8wRD8gOZoJ1ygWz0xPupelVoLa60w%2Fc%3D&poru=cWX66QqDyq%2FxowiKCajLnmqas8tOti71tzRt7UV63%2FE3vkLiGtrBAFMhZZzahr3JHrHkpSoJBKyLBaAhlwPrcEEdMv1TGtdfFzwnxSt05AoQpc7aOPpFwzxmHcZsRg84DQjCSo0eZsaxSkUKBlx02Q%3D%3D&ref=hervormer.co.za%2Findex.php%2F451-die-lig-breek-deur-die-duister">Click here to proceed</a>.</p> </body></p>