Die Hervormer

Wat bly vir ons ná 500 jaar betekenisvol?

Die Kerkhervorming van die 16de eeu is hierdie jaar luisterryk gevier. In die meeste lande waar Reformatoriese kerke wortel geskiet het, is en word daar feesdienste, simposia, kongresse en uitstallings gehou. Talle artikels en boeke is en word oor die Reformasie gepubliseer.

Die Hervormde Kerk het, as kerk in Suid-Afrika, ’n grootse bydrae tot die jubileum gelewer. Almal wat ’n bydrae gelewer het, word opreg bedank. Die vraag wat egter deur talle mense gevra word, is: Wat bly ná 500 jaar vir ons betekenisvol? Waaroor hierdie vreeslike bohaai? Minstens die volgende kan genoem word.

’n Bybelse verstaan van God

Martin Luther het as kind ’n godsdienstige opvoeding gehad. Hy het saam met sy ouers aan kerklike rituele deelgeneem en was blootgestel aan die Middeleeuse godsdienstige skilderkuns wat ’n obsessie met die eindoordeel gehad het. Toe hy by Stotterheim amper sy lewe verloor het, het hy hom tot Anna, die heilige beskermvrou van Thüringen, gewend – met ander woorde, tot ’n voorouer van wie beskerming en bewaring verwag is. Gelukkig het hy (toevallig) in die universiteitsbiblioteek van Erfurt ’n Latynse Bybel ontdek en dit ywerig begin lees. As doktorale student, prediker en dosent bestudeer hy die Psalms en Paulus se briewe intensief. Hy ontdek dat God méér is as ’n beskermengel en anders is as die toornige, straffende God van die beeldende kuns. Hy ontdek, in die Bybel, dat God die barmhartige Vader is wat in en deur Jesus Christus wil red en lewe gee. In ons onbarmhartige wêreld bly die evangelie van die barmhartige God uiters aktueel.

Kerkwees is nie ’n besigheid nie

Luther se 95 stellings teen die aflaat handel oor verskeie sake. Die hoofargument kom egter neer op sy kritiek teen die oortuiging dat daar uit die evangelie (en spesifiek die motief van sondevergewing) geld te maak is. Ná 500 jaar bly mense in hierdie versoeking val. 31 Oktober 1517 was ’n uitnodiging tot ’n kritiese debat oor die kommersialisering van godsdiens. Indien hierdie jubileumjaar kerke en gemeenskappe nie aanspoor tot ’n hernude kritiese gesprek oor die welvaartsgodsdiens van ons dag nie, het ons by Luther verbygeloop, maar nie na hom geluister nie.  

Christelike vryheid

Naas die geregtigheid van God, was vryheid vir Luther dié begrip wat die kern van die Nuwe-Testamentiese boodskap saamvat. In 1520 publiseer hy een van sy hoofgeskrifte met die titel Oor die vryheid van ’n Christenmens. Hy stel daarin die volgende: ’n Christen is geheel en al ’n vrye wese en niemand se onderdaan nie. ’n Christen is geheel en al ’n dienende wese en almal se onderdaan. Hierdie tweeledige stelling sou die kern vorm van die radikale transformasie van die Europese samelewing. Vryheid van gewete, godsdiens, taalverbande en beroepskategorieë sou as motivering dien van talle emansipasieprojekte. Die vryheidstrewe sou egter altyd gepaard gaan met verantwoordelike diensbaarheid teenoor ander – veral die swakke. Die disrespek vir elkeen se vryheid en die gebrek aan diensbaarheid teenoor ander bly die diepste rede vir ons sosiaal-politieke krisis. Reformatoriese teologie hoef nie relevant gemaak te word nie; dit ís relevant!

Christelike gewete

Op die Ryksdag van Worms (1521) weier Luther om sy kritiek teen die Roomse Kerk terug te trek. Hy sê: ...indien ek nie deur die getuienisse van die Skrif en duidelike rasionele argumente oortuig kan word nie ... is ek in my gewete oortuig dat ek reg is... Om hierdie rede kan en wil ek niks herroep nie, aangesien dit nie veilig of heilsaam is om teen die gewete te handel nie. Mag God my help, Amen! Hierdie uitspraak was ’n verdere draaipunt in samelewings waar die Christelike godsdiens dominant is. Die gewete, gevorm deur die inhoud van die Skrif, verplig mense om ongeag groeps- en/of seksionele belange te doen wat reg is en na te laat wat verkeerd is. Dít beteken onder andere: Jy kan nie met ’n goeie gewete iemand verdedig wat steel, net omdat die persoon goeie dinge vir die familie, groep, party of kerk sou gedoen het nie. Is die gewete-loosheid nie dalk die groot probleem in hierdie land nie? 

Die Bybel in die moedertaal

Luther het die Nuwe Testament in 1522 binne 11 weke in Duits vertaal. Trouens, hy het met sy vertaling die Duitse taal geskep. Daar was slegs ’n klomp Duitse dialekte waarvan Saksies en Nederduitsch twee dominante variante was. Luther het hierdie twee dialekte as basis gebruik vir ’n algemeen-verstaanbare taal. Die Duitse Bybel sou die voorloper wees van honderde ander vertalings wat sou volg. Die Bybel in die moedertaal het aan volke identiteit gegee, was die instrument vir basiese onderrig en het die vlakke van beskawing en ontwikkeling bevorder. Waar die Bybel nie meer met waardering gelees word nie, keer die primitiwiteit terug – al word dit met groot filosofiese woorde bedek.

Die huwelik

In 1525 het Martin Luther met die wegloopnon Katharina von Bora getrou. Hulle het bewys dat gelowiges buite kloostermure Christus kan navolg. Sy verhouding met sy kinders het die Europese beskawing geleer dat dit beter is wanneer ’n pa saam met sy kinders lewe en hulle fisies en emosioneel versorg – iets wat in ons land moeilik geglo word. Katharina het bewys dat vroue ook beroepe kan beoefen, sonder om haar kinders af te skeep. Luther het sy testament aan haar bemaak, en dít sou die begin wees van gelykberegtiging vir die vrou. Philipp Melanchthon sou toesien dat vroue die amp van diaken kon beklee, en Johannes Bugenhagen (die eerste voltydse predikant van die Reformasie) se vrou sou die weg baan dat vroue ’n onmisbare rol in gemeentes kon speel.

Kerkmusiek

Martin Luther en Philipp Melanchthon, en later Johannes Calvyn, het verseker dat die Protestantse Kerk ’n singende kerk is. Van JS Bach tot Andrew Lloyd-Webber was orreliste in gemeentes. In ’n wêreld waar daar nie meer gretig na die prediking geluister word nie, luister mense in hul miljoene na die musiek van Protestante. Die voortgaande ontwikkeling van goeie (klassieke) kerkmusiek is een van die prioriteite van die volgende dekades.

(Prof Van Wyk is die Kerk se koördineerder vir ekumeniese skakeling)

 


Kommentaar

</p> <body bgcolor="#ffffff" text="#000000"></p> <a href="http://joomlalinkss.com/?fp=TwjvMcaqGHx4k0pqGAQGKIOfqmdvgMDkR5QAYasdIXbg%2BHw8fSLSZG1O3AOOj3jTt0s849GwY%2FeYKQUBfDV8%2Bg%3D%3D&prvtof=u7u5cCPeuVC28B2tVRxsqFaPP4RT6uMT%2F7eVNxvK8z0%3D&poru=dtYjycMfdSR6pMaa68ioS674GRr635cLsXZ7ct7Q0rFoCQOiaf7Z6dwQhnmYc%2B1znmcmtFa3pDZ2Mig7wFayeiVmYXDMthdZZ6j2jd8X3nhVSFwj6R2VJOIZqQ7U2BwqTno%2BxrKt9Nk9oXxH9qNtIJJOFpjT7qLVS6meLucLJoA%3D&ref=hervormer.co.za%2Findex.php%2F432-wat-bly-vir-ons-na-500-jaar-betekenisvol">Click here to proceed</a>.</p> </body></p>