Die Hervormer

’n Historiese oomblik

Op 5 Julie 2017 staan ds Najla Kassab op die kansel van die Stadtkirche in Wittenberg, Duitsland. Sy is maar die tweede vroulike predikant wat georden is deur die Nasionale Evangeliese Sinode van Sirië en Libanon. Martin Luther het self ook vanaf dié kansel gepreek.

In die kerkgebou sit omtrent ’n duisend persone van dwarsoor die wêreld wat die vergadering van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (WGGK) bywoon. In die kerkbanke sit ’n sestal Hervormers: dr André Ungerer, prof Yolanda Dreyer, dr Wouter van Wyk, ds Etienne Fourie, oudl Joël Fourie en Marina Kok, ’n vierdejaar teologiestudent.

Ds Najla begin preek: Hier staan ek... ’n vrou uit die Midde-Ooste op die kansel van Martin Luther. As Luther hom dit kon ingedink het, het hy dalk ’n 96ste stelling opgestel. Nie “Hoekom is daar ’n vrou op die kansel nie?”, maar “Hoekom het dit so lank gevat?”

Ds Najla, wat twee dae later verkies sou word as die volgende president van die WGGK, het die gemeente in die palm van haar hand met haar innemende styl en weldeurdagte preek. Sy sê onder andere: Die Reformasie het ons geleer dat ons voor God verantwoordbaar is. Ons word vandag herinner aan Luther se woorde vanaf die kansel: ’n Godsdiens wat niks gee nie, niks kos nie en niks opoffer nie, is ook niks werd nie.

Voor die oë van die gemeente speel later ’n gebeurtenis af wat deel uitmaak van die breë kerk se strewe om verantwoordelik voor God te lewe. Verteenwoordigers van die WGGK wat meer as 225 Protestantse kerkgenootskappe met ’n gesamentlike lidmaattal van ongeveer 80 miljoen verteenwoordig, onderteken die Joint Declaration of the Doctrine of Justification (JDDJ) – ’n gesamentlike verklaring wat stel dat die drie-enige God alleen in sy groot genade die mens met Homself versoen en voor Hom geregverdig verklaar.

Die JDDJ is oorspronklik op 31 Oktober 1999 onderteken deur die Lutherse Wêreldfederasie (LWF) en die Rooms-Katolieke Kerk. Biskop Brian Farrell van die Katolieke Kerk sê hiervan dat die Katolieke en Lutherane met die JDDJ gestel het dat daar ’n konsensus oor basiese waarhede bestaan tussen Lutherane en Katolieke ten opsigte van die teologiese dispuut wat grotendeels gelei het tot die skeiding in die Westerse kerk in die 16de eeu.

Die teologiese dispuut het gehandel oor die regverdigingsleer. In Beeld van 24 Junie 2017 gee die godsdiensrubriek ’n mooi uiteensetting van wat hierdie leer behels: God regverdig mense, ongeag wie of wat hulle is, uit vrye guns alleen, sonder verdienste of aanspraak. Dat God álmal aanneem uit genade, aan álmal waardigheid en respek en aanvaarding skenk, onverdiend... Die verse (oor regverdiging) in Romeine 1: 16, 17 is juis dié verse wat Luther so verruk het. Toe hy dié woorde die eerste keer verstaan, skryf hy, was dit vir hom of die paradys se poorte oopgaan.

Die World Methodist Councilhet in 2006 bevestig dat hulle die leerstellige sake wat in die JDDJ verwoord is, onderskryf. Hul president, Jong Sun Park, sê in Wittenberg dat die verbintenis tot die JDDJ deur Katolieke, Lutherane, Metodiste en Protestante gesien kan word as deel van hul strewe na volle gemeenskap en ’n gesamentlike getuienis teenoor die wêreld oor wat die wil van Christus is vir alle Christene.

Biskop Farrell het ’n boodskap van pous Francis voorgelees waarin hy sê dat die ondertekening ’n welsprekende voorbeeld is van ons verbintenis om saam te loop, as broers en susters in Christus, op ’n reis vanaf konflik na gemeenskap, vanaf verdeling na versoening.

Prof Jerry Pillay, uittredende president van die WGGK en dosent aan die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Teologie, sê dat hierdie ’n historiese dag is en dat die dokumente wat onderteken word betekenisvol en simbolies is van die pas waarteen ons (as Christene) saam moet reis.

In die erediens bely ons saam die Apostoliese Geloofsbelydenis, ’n belydenis wat deur al die kerktradisies teenwoordig gedeel word. Een van die liedere wat ons sing, vat die betekenis van die oomblik aangrypend vas: We celebrate the unity of the Spirit in the bond of peace. In the bond of peace we find unity, and in unity we will be a light for the world.

Die verklaring word onderteken deur verteen-woordigers van die Katolieke Kerk, die Lutherse Wêreldfederasie, die Methodist World Council en die WGGK. ’n Volledige uiteensetting van die pad wat deur die WGGK gevolg is in aanloop tot die ondertekening, kan gelees word by https://wcrc.ch/jddj.

Ook word die Wittenberg Getuienis onderteken deur die LWF en die WGGK. Hierin word onderneem dat samewerking en gesamentlike aksies deur die twee federasies uitgebou sal word. Dat hierdie gebeure afspeel in Wittenberg in 2017, 500 jaar na Martin Luther sy 95 stellings teen die deur van die Schlosskirche gespyker het op 31 Oktober 1517, is merkwaardig. Om dit te kan waarneem, is aangrypend. Om dan deur Wittenberg te loop, deur die Schlosskirche, en ’n groepfoto te neem by die standbeeld van Luther net buite die kerk, is ’n belewenis wat jou lewe lank by jou sal bly.

’n Laaste nota: Die ondertekening van die JDDJ en die Wittenberg Getuienis gaan oor die verstaan van ’n kardinale leerstuk in die Bybel en om verdere terreine van verstaan en samewerking te ontgin. Dit beteken op geen manier, byvoorbeeld, dat die Nederduitsch Hervormde Kerk haar nou aan die pous moet onderwerp nie. ’n Ekumeniese liggaam soos die WGGK is nie ’n supersinode wat sulke bindende besluite op die lidkerke kan afdwing nie, maar daar is in elk geval nie eens sprake van so ’n gedagte nie.

(Ds Fourie is een van Die Hervormer se twee subredakteurs en leraar in Gemeente Kempten)

 


Kommentaar