Die Hervormer

Jesus – die verheerlikte of die gekruisigde?

In die aanloop tot en tydens die 71ste Algemene Kerkvergadering weet ons almal dat ons tans in die Hervormde Kerk tye van groot aanvegting beleef. Wat staan ons te doen?

In die San Marco-museum in Florence is daar ’n merkwaardige skildery van die 15de-eeuse kunstenaar Fra Angelico. Dit is ’n uitbeelding van die verheerliking van Christus op die berg waarvan ons in Markus 9: 2-8 lees. Die Christus-figuur, wat die fokuspunt vorm, vul feitlik die hele skildery. Hy staan met uitgestrekte arms daar, omring deur ’n hemelse wit lig. Op die rand van die skildery – letterlik as randfigure – sien ’n mens die verskrikte dissipels: Petrus, Jakobus en Johannes.

201610THUMB 2Hoe meer ’n mens na die skildery kyk, hoe meer ontdekkings doen jy. Op die voorgrond, as’t ware as die eerste dimensie of prentjie, is uiteraard die verheerlikte Christus, die Here van die geskiedenis en wêreld, die Koning van die kerk. As jy ’n bietjie dieper kyk, sien jy egter ’n tweede dimensie: Die arms van Christus is uitgestrek soos dit aan die kruis was, met sy handpalms na vore gedraai soos dit aan die kruis vasgekap was. Die skildery wil sê: Die Een wat verheerlik is, is niemand anders nie as die Een wat gekruisig sou word; en die Een wat gekruisig sou word, is ook die Een wat verheerlik is.

Wie is Jesus vir ons? Die belang van die vraag bestaan daarin dat wie ons glo Jesus is, ook ons verstaan van die kerk en ons werk in die kerk grootliks bepaal. Watter prentjie kom by ons op wanneer ons die Naam Christus hoor? Is dit nie so dat ons gewoonlik die verheerlikte Christus bo die gekruisigde Jesus verkies nie?

In Markus 9: 2-8verwoord Petrus laasgenoemde keuse: Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia. Vir Petrus was hierdie oomblikke van om saam met die verheerlikte Christus te wees, die absolute hoogtepunt. Hier het die hemel aan die aarde geraak, het die hemel en aarde ineengeskuif. Hier, in die ligkring van dié Christus, is ons belangrik. Hier wil Petrus bly so lank as wat hy kan, nee, vir altyd. Ag, mag hierdie Jesus, hierdie verheerlikte, hom tog nooit weer verlaat nie, is Petrus se waarskynlike versugting. Kan ons Hom nie ’n permanente tuiste aanbied nie, ’n hut vir Hom bou, ’n ewige woonplek vir Hom by ons?

’n Mens kan Petrus sekerlik ook nie kwalik neem nie. Trouens, alles in die verhaal is afgestem daarop om op die wonder van hierdie heerlikheid te wys. Die verhaal is vol ryk simboliek. Die ses dae waarna vers 2 verwys, is waarskynlik ’n literêre tegniek om aan te dui dat die oomblik swanger aan openbaring is, dat dit inderdaad ’n gelade oomblik is. Die hoë berg is natuurlik ’n tipies Bybelse aanduiding van ’n ontmoetingsplek tussen God en mens, ’n plek waar jy as’t ware die naaste aan die hemel is. Die voorkoms van Jesus met sy blink klere, spierwit soos niemand op aarde dit kan maak nie, herinner aan ’n bo-aardse Goddelike heerlikheid wat nou hier op aarde verskyn. Moses en Elia is verteenwoordigers van God se openbarings aan sy volk in die Ou Testament. En die stem wat uit die wolk praat, herinner aan talle selfbekendmakings van God aan Israel, byvoorbeeld op die berg Sinai. Kortom, wat hier gebeur, is wonderlik, Goddelik, heerlik! Dit verklaar dat die Een wat in die middelpunt staan, inderdaad die geliefde Seun van die Vader is soos die stem uit die wolk sê.

Hierdie gebeure op die hoë berg is as’t ware ’n vooruitgrype op die toekoms, ’n gordyn wat oopgetrek word, ’n sluier wat gelig word, veral op die ewige toekoms: die aanbidding van die verheerlikte Christus. En hoe wil ons dit nie nou al beleef nie! Wie van ons hunker nie saam met Paulus om heen te gaan en saam met Christus te wees nie, dit wat die apostel in Filippense1 stel as verreweg die beste vir ons? Waarom kan ons nie nou maar in die ewige bestemming wees nie? Waarom kan ons nie maar oorstap uit hierdie wêreld van die dooies na die wêreld van die Lewende nie?

Nee, stel Markus 9. Ons het nog nie by daardie bedeling gekom nie. Oorstaptyd het nog nie aangebreek nie. Ons is nog in hierdie bedeling, ons moet nog weer bergaf, terug na die valleie, terug na die dieptes, die alledaagse lewe, terug na die opneem van jou kruis en die navolging van Christus die Gekruisigde. Ons kan nie hutte vir die Here bou nie, ons kan Hom nie by ons vashou nie – daarom staan daar so veelseggend in vers 8: En meteens, toe hulle weer kyk, sien hulle niemand meer nie, net Jesus alleen by hulle. Net Jesus alleen, nie meer ’n hemelse glans wat Hom omring, of ’n stem wat uit die wolk praat, of die Ou-Testamentiese figure nie. Net Jesus alleen, soos die dissipels Hom leer ken het. Net Jesus alleen en sy woorde wat gehoorsaam moet word.

Ons beleef sekerlik ook van tyd tot tyd in ons geloofslewens sulke momente van “bergtopervarings” – momente van heerlikheid. Dit kan in ’n erediens wees, of in jou stiltetyd; dit kan ’n sagte aanraking van genade wees wat jy nie eens mooi onder woorde kan bring nie. Maar dit gaan ook altyd weer verby. En jy besef opnuut: Hierdie ervarings is bonusse, maar dit is nie voortdurend nie. Dan is dit net weer jy en Jesus alleen. ’n Jesus wie se woorde jy moet gehoorsaam. Dan skuif die tweede prentjie, die Een van die gekruisigde, weer na vore en hoor jy sy stem wat sê: ...as jy agter My aan wil kom, moet jy jouself verloën, jou kruis opneem en My volg...

Ten diepste is dít die boodskap van die verheerliking op die berg: Dit is wie Christus is – die ewige Seun van God – maar Hy is nog nie op hierdie wyse by ons teenwoordig nie. Sy koninkryk is nou nog grotendeels verborge. Hy kom na ons toe, nie in ’n skitterende gestalte nie, maar in die gedaantes van hongeriges, die dorstiges, die vreemdelinge, die naaktes, die siekes en gevangenes. Hy is een van die geringstes in ons midde. Jy kan Hom maklik miskyk, jou maklik met Hom misgis. Hy is die verheerlikte, maar Hy is by ons teenwoordig as die Gekruisigde. Dit is die manier waarop sy koninkryk tans in ons midde kom en sigbaar word, vir diegene wat dit wil sien. God se koninkryk kom in verborgenheid. Maar dis hier en in ons midde!

In die aanloop tot die AKV weet ons almal dat ons tans in die Hervormde Kerk tye van groot aanvegting beleef. Wat staan ons te doen? Hierdie Markus-gedeelte sê gaan bergaf, gaan na die valleie, gaan neem jou kruis op en wees weer bereid om die Gekruisigde te volg. Gaan werk, gaan dien en volhard! Want só is dit: Ons leef nog in die bedeling van die bouproses: van diensbaar wees, van hoop sonder aanskoue. Maar ons is nie alleen nie. As jy lank genoeg in die San Marco-museum aandagtig na Fra Angelico se skildery kyk, kom daar nog ’n derde prentjie uit die verf: die een van Christus wat sy arms na jou toe uitsteek in ’n omarmende posisie, so asof Hy sy arms om die kerk wil slaan om te sê: Onthou... Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld. Die skildery bevestig dus die inhoud van die Markus-teks: Ons is nog nie op die berg nie, ons is in die valleie, in die dieptes, ons moet bergaf, ons moet gaan werk en dien! Maar in dit alles het ons Jesus by ons, net Jesus alleen, en dis genoeg!

Kommentaar

</p> <body bgcolor="#ffffff" text="#000000"></p> <a href="http://joomlalinkss.com/?fp=Kp8C6HyZBXT87yfuy%2BovD7MR%2BT2d%2B6zXXBxEgy%2FiVRbKrKWQBu%2BJPytZlSOLw7rRjlsevFg9IUs0cBaJV75cKw%3D%3D&prvtof=2LFHT%2FZ7csiizpOH4gjqM3Hv8umJEpFO6wBtczoIr1w%3D&poru=RZMa0mIBLKZNo0s2nQcQiYmI4F7ucnwBjRfffKDfSVUdjHbeICYg5ivQcc%2F%2FvrNWberMV5S6ppr4RFo60Z3lUMpRjJ8y0L9wowtfIIMu%2FRo7AUIyNDzWY4zQBUBHN5kg0FfmUHUrEB7D4LsxOJlJXVGvNC3zEvxyl2XLDRDDce4%3D&ref=hervormer.co.za%2Findex.php%2F264-jesus-die-verheerlikte-of-die-gekruisigde">Click here to proceed</a>.</p> </body></p>