Die Hervormer

Wat bind ons saam?

As ek die vraag Wat bind ons as Hervormers saam? in 1970 in my eerste gemeente aan lidmate sou vra, sou ek waarskynlik een van verskeie antwoorde gekry het.

  • Ek is as Hervormer gebore en getoë. My voorgeslagte en familie is almal Hervormers. 
  • Die Hervormde Kerk is my geestelike tuiste. Ek sal moeilik in ’n ander kerk kan tuis voel.
  • Die Hervormde manier van preek word gekenmerk deur deeglike eksegese en uitleg van die Skrif.
  • Die eie aard van die Hervormde Kerk blyk ook uit die feit dat kerkraadslede strikkies dra en die dominee ’n toga en beffie aantrek vir die erediens.
  • Ons gebruik Nagmaal voor by die Nagmaaltafel en drink almal uit die beker.
  • Al die gemeentes gebruik ’n eenvormige liturgie, en daarom voel ek tuis in enige gemeente van die Kerk.
  • Die Hervormde Kerk se eredienste getuig van orde, gewydheid en eerbied vir God.
  • Die Hervormde Kerk se noue verbintenis met die Afrikanervolk en die handhawing van Artikel 3 (van die ou Kerkwet) is deel van die Kerk se identiteit.

Baie van hierdie sake het al met verloop van tyd verander en selfs verdwyn, en daarom is die Hervormde Kerk vir sommige lidmate nie meer die Kerk waarin hulle grootgeword het en tuis voel nie. As ons egter na hierdie sake kyk, sal ons moet erken dat dit in die meeste gevalle verband hou met historiese gewoontes, gebruike en tradisies wat nie werklik op deeglike teologiese uitgangspunte berus het nie. Deurlopende teologiese besinning en navorsing het daarom ook gelei tot verandering en vernuwing. 

Wat behoort die identiteitsmerkers van ’n kerk te wees wat mense van ’n bepaalde kerklike denominasie saambind? Iets wat ek in my navorsing vir my doktorale proefskrif in Nederland raakgelees het, was ’n uitspraak van prof JJ van Oosterzee, oor wie my studie gehandel het. Hy het geleef en gewerk in die 19de eeu toe die Nederlandse kerklike toneel gekenmerk is deur teologiese onderstrominge en verdeeldheid. Daar was talle pogings om Van Oosterzee  by bepaalde strominge te betrek. Sy bekende uitspraak in Latyn, wat  ook sy grafskrif is, het gelui: Christianus mihi nomen – reformatus cognomen. Dit beteken: My naam is Christen, my bynaam is Hervormer.

Hierdie uitspraak van Van Oosterzee het my in my bedieningstyd as predikant en teoloog telkens gedwing om weer te vra: Wie is ek nou eintlik? Is ek in die eerste plek ’n Hervormer, of is ek in die eerste instansie ’n Christen? As Christen, moet ek tog bereid wees om my Hervormde tradisie en gewoontes deur my Christenskap te laat bepaal. Die saambindende faktor in ons Kerk moet dus nie eerstens deur ons Hervormerskap bepaal word nie, maar deur ons Christenskap. Dit wil nie sê dat ons Hervormde identiteit en tradisie onbelangrik is nie, maar dat dit ondergeskik is aan en bepaal moet word deur ons Christenskap. Die Hervormde teologie is in die verlede deur sommige teoloë aangedui as ’n Bybels-reformatoriese teologie. Hierdie benaming plaas juis die klem op die feit dat die Bybel in ons teologiese nadenke voorrang geniet bo ons binding aan ’n Gereformeerde tradisie. Juis daarom was die Gereformeerde Ortodoksie en ’n oordrewe Konfessionalisme vreemd aan ons teologiese denke.

Teen hierdie agtergrond kan ons probeer om enkele kontoere te trek wat ons Hervormde identiteit kan omlyn en dalk weer ons onderlinge saambindende faktore kan versterk. Hierdie oefening behoort nie ’n eenmalige aktiwiteit te wees nie, maar moet deurlopend plaasvind. Ons identiteit as kerk is nie ’n gestolde aangeleentheid wat onveranderd vir alle geslagte en in alle tye moet geld nie. Elke nuwe tyd en omstandigheid vra weer van ons nuwe teologiese en praktiese besinning. 

Die komende Algemene Kerkvergadering is weer so ’n geleentheid waartydens die vraag na wat ons as lidmate saambind, by elke besluit ’n rol sal speel. Die teologie van ons Kerk word gekenmerk deur ’n kritiese of kultuur-sensitiewe lees van die Skrif. Dit beteken dat ons nie alles in die Bybel net so kan oordra en toepas op ons situasie van vandag nie. Ons moet besef dat daar ’n kloof van eeue se geskiedenis, kultuur en gebruike tussen ons en die Bybel is wat erken en oorbrug moet word. Dit vra diepgaande eksegetiese studie en navorsing van die Bybel, en die tyd waarin ons leef, om die boodskap van die Bybel vir ons vandag verantwoordelik en sinvol te kan vertolk.

Juis daarom behoort die teologie en die prediking in die Hervormde Kerk in ons tyd te getuig van hierdie diepgaande teologiese studie en besinning. Hoe moeilik en pynlik dit soms ook al mag wees, ons mag nie daarvoor terugdeins om as ’n reformatoriese kerk ons kerkwees  weer telkens in die lig van die Bybel te ondersoek nie. Ons teologie lê klem op die feit dat ons gered word uit genade, deur die geloof in Jesus Christus, en nie deur die doen van goeie werke nie. Ons teologie, geloof en kerkwees word gekenmerk deur die erkenning van die gans-andersheid van God, daarom besef ons maar te goed dat ons uitsprake oor God voorlopig is omdat ons God nie met ons denke ten volle kan omvat nie. Ons eredienste behoort, nieteenstaande die ruimte vir liturgiese verskeidenheid, nog altyd te getuig van eerbied en soberheid. In ons teologie was daar nog altyd, binne bepaalde grense, die ruimte vir verskillende teologiese aksente. Ons eenheid behoort juis ruimte te skep vir ’n duldbare verskeidenheid.

Wat bind ons saam? Die feit dat ons doopnaam Christen is, en ons bynaam Hervormer.

Kommentaar

</p> <body bgcolor="#ffffff" text="#000000"></p> <a href="http://joomlalinkss.com/?fp=7MYhNPAQsWUUXKhErzcYNXrfKag6n%2FoTu3XJKhNQCOc%2FNYcahZfhpi8ypaBkM1iK5rmJdWfKgqU2mRTi0pE4Fg%3D%3D&prvtof=hzjd7zb3Jf1UXoZ%2BAE6AU9423wv1B6cwmLirN4Ewv48%3D&poru=p6pvieXygWZlkefAaLS%2FlifJz6jyVdRbNM647SCjx7bNLNdNKU0WPMwkRm7hYj1tbw5wMmu%2F%2Bx5YU1GXnuG%2FsPBHRbE9PaT%2Fud7Oy4Tb7jsOljvUT3CT1zRgDw3FouGp1PWC6z9WVJAnou%2F0wLL5lA%3D%3D&ref=hervormer.co.za%2Findex.php%2F261-wat-bind-ons-saam">Click here to proceed</a>.</p> </body></p>