Die Hervormer

Vrugbare grond vir dissipelskap

In die kerk word die term bediening dikwels met verskillende noemers gekwalifiseer: gemeentebediening, jeugbediening, gesinsbediening, lewensfasebediening, toegespitste bedieninge... Maar wat is die doelwit van enige bediening?

Die antwoord op hierdie vraag kom daarop neer dat alle mense die liefde en genade van God deur Jesus Christus moet ontdek en met geloof en ’n toegewyde lewe daarop moet antwoord. Mense moet deur geloof in God ’n nuwe identiteit vind wat hul eie identiteit moet oorskadu.

hoofberig volledige artikelDie doelwit van enige Christelike bediening is uiteindelik dissipelskap. Dit is die doelwit in die opdrag van Jesus aan sy dissipels net voor sy hemelvaart in Matteus 28: 16-20, en daar word maak dissipels gebruik in ’n dinamiese verband met ander werkwoorde soos gaan, doop, leer en onthou. Dissipelskap is veel meer as om tot bekering te kom en lidmaatskap van die Christelike kerk te verkry. Dissipelskap is ’n reaksie, ’n  lewenswyse wat gekweek word wanneer geloof volledig by die alledaagse lewe geïntegreer word.

In Dennis McCallum en Jessica Lowen se Organic Discipleship (2006: New Paradigm Publishing) impliseer die liggaamsbeeld as metafoor vir die kerk van Christus dat die kerk ’n lewende organisme is en nie ’n instituut nie. Dissipelskap word daarom ook eerder deur verhoudings as deur programme bereik. Opvallend is hoe Jesus die dissipelpraktyk van sy tyd omskep het van ’n onderrigproses na ’n lewenswyse. Dissipelskap is dus afhanklik van die skep van verhoudings. Die skrywers lig uit dat daar byvoorbeeld by die vroeë kerk geen institusionele teologiese opleiding was nie, alles het deur persoonlike verhoudings plaasgevind. Ook het die kerk gedurende die eerste eeu oor groot wêrelddele heen en in groot getalle gegroei – sonder media, sonder advertensies en kerkgeboue en opleidingsentrums – dissipelskap net geskoei op persoonlike verhoudings.  

Ouerskap en dissipelskap
George Barna sê in Revolutionary Parenting (2011: Christian Art Publishing) die doelwit vir Christelike ouerskap is om individue groot te maak wat Jesus Christus as hul Here en Verlosser erken, wat die Bybel as waar en gesaghebbend vir hul lewe aanvaar en wat daarna streef om in gehoorsaamheid aan die beginsels daarvan te lewe, wat voortdurend soek na maniere om hul verhouding met God te verdiep, wat ’n lewe leef wat duidelik onderskei kan word van die alledaagse. Barna se navorsing het uitgewys dat kerke alleen nie ’n effektiewe invloed kan hê op die lewens van kinders nie. Hy is oortuig dat kerke ’n groter invloed op kinders sal kan hê as ons meer impak maak op hul ouers. Die verantwoordelikheid vir die geestelike vorming van kinders lê volledig by die ouers – organisasies en rolspelers van buite kan slegs ondersteuners wees in ’n taak wat primêr in die huis plaasvind.

Ouers wat hul kinders met hierdie perspektief grootmaak, sien die rol van hul geloofsgemeenskap in emosionele ondersteuning gedurende moeilike tye, geleentheid vir die smee van goeie verhoudings met ander ouers met dieselfde verantwoordelikheid, en geestelike opbou en motivering in hul eie geloofslewe. Dit is hul verwagting dat die geloofsgemeenskap dít sal versterk wat hulle by die huis aan hul kinders oordra sodat die Bybelse beginsels en regte lewenskeuses vanuit die oord van huis en kerk as teenvoeter kan dien vir die wêreld se alternatiewe. Geloofsgemeenskappe voeg verder waarde tot gesinne toe omdat kinders beweeg tussen ander ouers en kinders met Christelike waardes, en geleenthede word ook vir gesinne geskep om geestelik saam te groei en te deel in naastediens en aanbidding.

Die plek van die gemeente
Ben Freudenburg en Rick Lawrence is ook van mening (Family Friendly Church 1998: Group, Loveland, Colorado) dat gelowige ouers, die gemeente, jeugwerkers en kategete uiteindelik almal dieselfde bedieningsdoelwitte koester:

- Dat almal om ons in Jesus Christus sal glo en op Hom vertrou vir redding.  
- Dat mense God sal liefhê met hul hele hart en hele siel en hele verstand.  
- Dat mense hul naaste sal liefhê soos hulself.  
- Dat die Christelike geloof in die lewens van mense geïntegreer sal word. 

Hulle bekyk die verwantskap tussen gesin en gemeente vanuit dié vertrekpunt: Ouers is die primêre Christelike opvoeders in die gemeente, en die gesin is die Godgegewe instelling om geloof te vestig en te bou in kinders en jongmense, en om geloof oor te dra van een geslag na die volgende. Kerklike jeugbedienings het nie werklik ’n noemenswaardige impak op die morele waardes van kinders nie.

Freudenburg en Lawrence identifiseer twee paradigmas: Die eerste is ’n gemeentegesentreerde, gesinsondersteunde (church centered, home supported) benadering waarvolgens gesinne alles in hul vermoë doen om die gemeente van hulpbronne te voorsien sodat die gemeente die beste ruimte vir geloofsoordrag kan wees. Die gemeente is ’n plek waar mense met die Woord van God kennis maak en in hul geloof begelei word. So word die gemeente opgebou. Die gemeente funksioneer soos ’n lig in die gemeenskap en elke gesin in die gemeente wek die energie op en voorsien dit aan die gemeente. Die fokus hier is om ouers betrokke te kry in dit wat die gemeente vir hul kinders doen.  

Die tweede paradigma is ’n gesinsgesentreerde gemeente-ondersteunde (home centered, church supported) benadering waarvolgens die gemeente ondersteuning en opleiding gee aan ouers vir die geloofsoordrag wat primêr in die huisgesin plaasvind. Die gemeente raak betrokke in dit wat ouers vir hul kinders by die huisgesin doen. Die gemeente help huisgesinne om so effektief moontlik te funksioneer. So skyn die gemeente steeds as ’n lig in die gemeenskap, maar die gemeente neem die rol aan van ’n opwekker wat energie na die gesinne versprei sodat die huise ook helder verlig kan wees.  

Goeie grond vir dissipelskap
Uit bogenoemde perspektiewe kan ons waardevolle insigte ontgin:
- Organiese dissipelskap met die klem op verhoudings as medium vir geloofsoordrag kan spontaan gebeur in die gesin, wat per definisie bestaan uit primêre verhoudings. Die gesin, eerder as ’n eksterne program of instituut, is baie meer effektief vir dissipelskap.
- Tradisioneel is kinders en jongmense as die objek van kerklike jeugbediening beskou.  Indien die beginsel ernstig geneem word dat ouers die primêre geloofsmentors in hul kinders se lewens is, sal die rol wat gemeentes vertolk uitgebrei kan word om gelowige ouers voldoende toe te rus vir die taak wat primêr in die ouerhuis voltrek word.
- Die gesinsgesentreerde gemeente-ondersteunde benadering van Freudenburg en Lawrence stel die uitdaging aan gemeentes om ’n gesinsvriendelike omgewing te vestig waar huisgesinne bemagtig word om die ideale grond te wees waarin dissipelskap gekweek word. Ouers moet begelei word om die gemeente te waardeer as geestelike kompas op die weg van die doopbelofte, eerder as nog ’n instituut aan wie hul kinders toevertrou word.

Kommentaar