Die Hervormer

Bartolomeusnag, narratiewe en verkondiging

Kerklike verkondiging kan nooit in isolasie geskied nie. Die kerk het tog die opdrag om die evangelie van Christus in die wêreld te verkondig. Gevolglik is daar eintlik niks wat nie onder die kerklike verkondiging gestel behoort te word nie.

Een van die eienaardigste kenmerke van die NHKA die afgelope dekades was die wekroep dat daar tog net nie politiek gepreek moet word nie. Dit was waarskynlik die gevolg van die politieke verdeeldheid in die Afrikanerdom, maar dalk ook die gevolg van baie se onvermoë om rustig oor beginselsake te debatteer. Die vraag is of hierdie narratief – in die Kerk preek ons nie politiek nie – die korrekte was.

201607GROOTDeesdae handhaaf ons steeds die narratief – daar moet tog net nie politiek gepreek, gepraat of geskryf word nie, want ons verkondig Christus! Is dit korrek? Impliseer dit nie dat die bestaande politieke konteks beskou word as die geldige nie? Dit is immers wat in die verlede gebeur het – geen kritiek op die bestaande orde is geduld nie en onder die wekroep ons praat nie politiek nie is die gangbare narratief onkrities as korrek beskou, of selfs gedien. 

Lidmate vra deesdae kort-kort vir die Kerk om te reageer op sake. Van die verduidelikings oor hoekom ons dit nie amptelik doen nie, kom daarop neer dat ons – die Hervormers – min is en dat ons eintlik ons plek as ’n klein groepering moet ken… Beteken dit egter dat ons nou in beginsel moet swyg? Sou ons swyg en as rede daarvoor aanvoer dat ons taak is om Christus, die opgestane Heer, te verkondig, is ons op ’n eienaardige weg.

Die feit is dat die Woord van God in sy Skrifgeworde vorm heelwat blyke gee van politieke bewussyn. Trouens, geweldige groot dele van sowel die hoofstroom godsdienstige denke in die Ou Testament en die profetiese reaksie daarop het politieke ondertone. Die gemeenskap moet immers verander om God se heerskappy in die werklikheid te toon. Indien die benouende sosiale beperkinge en die fundamentele politieke orde daaragter nie in Godsnaam uitgedaag en opgehef moet word nie, wat is dan die doel van baie van die etiese appèl wat tot die Godsvolk gerig word?

In die Nuwe Testament is die saak nie veel anders gesteld nie. Telkens vind ons as uitkoms van die optrede van Jesus (volgens die vier Evangelies) kritiek op die maatskaplike orde – wat tog bepaal is deur die politiek van die dag. Die etiese gevolge van Jesus se werk en verkondiging is telkens die verandering van sosiale orde, wysiging van mense se posisie in die samelewing en as sodanig telkens te verstane as politieke handelinge. 

Dit is geen wonder nie dat die vroeë kerk in gehoorsaamheid aan hierdie uitdaging vervolg is. Die boodskap van liefde daag bestaande orde en kulturele strukture uit. Dit is dus ook geen wonder nie dat die godsdiens en geloof telkens gelei het tot politieke insidente.

In Augustus herdenk ons Bartolomeusnag. Dit is by baie kerke nie ’n prioriteit nie. Trouens, kollegas het by geleentheid met verbasing kennis geneem van die Hervormde Kerk se herdenking – dit nou nadat hulle eers weer aan die historiese agtergrond herinner moes word.

Beloer ons egter die geskiedenis van Bartolomeusnag goed, kan ons die gebeure as eng verweef met die politiek van die dag nie misken nie. Onthou gerus die hooflyne van die gebeurtenis – die jong koning van Frankryk, Karel IX, se moeder was een van die invloedrykste vroue in die geskiedenis, Catharina de Medici. Sy was sterk Rooms gesind. Haar seun, Karel IX, het ten spyte van sy Roomse agtergrond bevriend geraak met die broers Coligny, sterk Hervormers. Ter wille daarvan om die posisie van die Franse Katolieke te probeer versterk, het Karel IX ’n huwelik tussen sy suster (Margaret van Valois) en een van die Coligny-broers  se vriende, die Protestant Hendrik van Navarre, georganiseer. Die redenasie was dat die huwelik tussen die koning se suster en die Protestant die Franse volk se posisie teen Portugal en Spanje sou versterk. Hendrik van Navarre en die Colignys se goeie verhouding met Elizabeth I, die koningin van Engeland, sou die Engelse mag aan die Franse kant monster. 

Catharina de Medici, die moeder van die bruid, het ingesien dat dit in Frankryk ’n ander effek sou hê. Die Protestante sou versterk wees ten koste van die Katolieke, want hul Roomse koning (Hendrik IX, die Katoliek) se suster sou met ’n Protestant getroud wees en dus ’n binnelandse stryd met die Protestante van die koning se kant af bemoeilik. Catharina reël toe in die geheim met Roomse edelmanne, en so drie dae na die huweliksbevestiging is sowat tweeduisend Protestante wat onder meer vir die troue van die prinses in Parys was, vermoor. Hierdie moorde is in die volgende weke opgevolg met ’n verdere agtienduisend dode onder die Protestantse adellikes. So is die Protestantisme in Frankryk erg geknou – ’n beduidende deel van hul leierskap is uitgewis.

Hierdie geskiedenis is meestal in die kerk verstaan as ’n ongelooflike bewys van die kerk se bereidheid tot martelaarskap. Dit is natuurlik ’n korrekte narratief om oor die gebeure te voer. Dit is egter nie al narratief nie. Daar is nie in die gebeure net sprake van die lyding van gelowiges ter wille van hul geloof nie. Dit gaan nie net oor die ongelukkiges wat slagoffers geword het op grond van hul insig in die Woord nie. Daar is ook die ander narratief(we) hiermee vervleg: Die geloofsbelydenis van albei kante (Rooms-Katoliek en Protestants) het sekere gevolge gehad vir die politiek van die dag. Verder ook: Die politieke motiewe het ’n kritieke invloed op die kerk gehad.  Landsbelang en politieke insig het gelei tot die dood van duisende. 

Is ons nie deesdae uitgelewer aan net een narratief oor die kerk se rol, sy plek in die samelewing en sy taak in die gemeenskap nie? Kom ons neem een voorbeeld: Die hoeveelheid Hervormde gemeentes wat nog nie direk geraak is deur die dood van lidmate vanweë moord, roof of ander vorme van wetteloosheid nie, is waarskynlik statisties niksbeduidend. Die vraag is nou kritiek: Deel ons hieroor net een gangbare narratief, te wete dat dit die gevolg is van ’n bietjie probleme met ’n paar aanpassinkies in post-apartheid Suid-Afrika? Kan ons dalk ’n ander narratief begin oorweeg, te wete dat ons te doen het met ’n laevlak burgeroorlog wat gelowiges en ongelowiges raak? Tot watter mate is die dinge wat met ons mense gebeur ook beskryfbaar as die dood van gelowiges aan die hand van ongelowiges? Of dalk – tot watter mate sterf teëstanders van die politieke narratief in hierdie land? Hierdie vrae gee aanleiding tot narratiewe wat ons – lyk dit my – verkies om sistematies te ignoreer…

Durf ons nog, in die tyd waarin ons leef, die hulpverlening aan die noodlydendes vanweë moord en doodslag bloot beskou as die pastorale verantwoordelikheid van die plaaslike dominee en die oorbelaste gemeentelike diakonie, terwyl ons ewe vroom volhard in die (dalk onbybelse?) gedagte dat ons nie politiek mag preek nie?

Nee, ek dink ’n radikale deurdenking van hoe dit lyk waar die lig van die evangelie in aanraking kom met die duisternis van die mens, is van pas. Indien dit inhou dat ons maar ’n paar goed oor reg, geregtigheid, respek vir lewe, eiendom en medemenslikheid reguit sê, dan kan ons maar beskuldig word van “politiek preek”. ’n Vermyding van kanselgesprek oor hierdie vorme van onreg is miskien in lyn met ’n narratief wat in hierdie land geld, maar dit is beslis ook lafhartig en dit ontken die verontmenslikende vorme van onreg teenoor massas vir wie die Here gesterf en opgestaan het.

Kommentaar