Die Hervormer

Kom ons bou!

Ek het hulle toe vertel hoe my God sy goeie hand oor my gehou het en wat die koning vir my gesê het. Hulle het gesê: “Kom ons bou!” en hulle het die goeie werk aangepak. (Nehemia 2: 18)

Met ’n kerkskeuring agter die rug, ’n herskryfde Kerkorde wat goedgekeur moet word, ’n Algemene Kerkvergadering wat voorlê en gesprek oor die volhoubaarheid van kerkwees en nog ander sensitiewe sake wat gevoer moet word, kan ’n mens net hoop dat die Hervormde Kerk baie mooi sal nadink oor die pad vorentoe. Teen die agtergrond van ’n al hoe kleiner wordende Kerk en die verligte denke van die tyd waarin ons leef, is dit nou meer as ooit tevore belangrik dat die Hervormde Kerk sal seker maak dat die fondament van ons kerkwees die evangelie is en niks anders nie.

201607GROOTDie jaarlikse Bybelvasvra handel oor Nehemia, en die Kerk het juis nou baie te leer uit hierdie mooi verhaal. ’n Mens kan nie die boek Nehemia lees sonder om aangegryp te word deur die passie en toewyding van elkeen wat by die opbou van die muur betrokke was nie. Dit is ook nie vir ons moontlik om dit te lees sonder om die hele proses van die muur se herstel en opbou te sien as ’n voorafbeelding van die bouwerk wat nou in die Hervormde Kerk moet plaasvind nie.

Nehemia was diep geraak toe hy verneem het van die haglike omstandighede waarin mense in Juda hulle bevind het en veral die toestand waarin Jerusalem was. In daardie stadium was die tempel reeds opgebou, maar die stad was steeds onveilig. Nehemia het getreur oor die volk en die stad. Hy het gevas en gebid, en God het die deure vir hom oopgemaak om na Jerusalem te gaan met die volle ondersteuning van die koning om die muur rondom die stad weer op te bou. Die opbou van die muur was meer as net klip en sement. Dit het ook gegaan oor die geestelike opbou van die geloofsgemeenskap, wat ek in ons konteks as die volhoubaarheid van kerkwees vir Israel wil beskryf.

Nehemia moes mooi nadink oor wat hy gaan doen, hoe hy dit gaan aanpak en wat werklik nodig was vir die herstel van die muur en die geloofsgemeenskap. Hy het die volk se ondersteuning gekry deur getuienis te lewer oor hoe hy oor die saak gebid het en hoe hy ervaar het dat God deure vir hom oopgemaak het om hierdie amper onmoontlike taak aan te pak. Onder sy aanmoediging het die volk begin om vir mekaar om te gee en bydraes te maak tot die opbou van die muur (geloofsgemeenskap) wat ver bokant hul vermoëns gelê het. Ons lees van dogters, salfmengers, priesters en vooraanstaandes wat almal help bou het. Sommige het van ver gekom, en ander het sommer net voor hul eie deure begin bou.

Die manier waarop hulle na mekaar omgesien het, herinner aan die mooi beeld van die geloofsgemeenskap in Handelinge 2: 44-47: Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.

Ag, en hoe wonderlik is dit nie om dan in Nehemia te lees van die blydskap toe die muur in net 52 dae voltooi is. Op feestelike wyse word die muur in gebruik geneem en die volk verenig rondom God se woord. Die priester Esra staan op ’n verhoog en lees vir die eerste keer in ’n lang tyd vir hulle uit die wet van Moses, en oral staan klein groepies mense rondom ’n priester of Leviet vergader, wat hulle meer leer oor God se wil in hul lewens. Die mense is so opgewonde en emosioneel geraak deur die voltooiing van die muur en die feestelikheid, dat hulle ’n skriftelike verbintenis onderteken om te wys dat hulle God in alles wil gehoorsaam.

Tot hier is Nehemia vir my ’n pragtige verhaal van God se beskerming, gelowiges se toewyding en opoffering, en ’n bewys van hoe God se liefde gestalte in mense se lewens kan kry. Maar dan neem die verhaal ’n baie slegte wending. Nehemia gaan terug om sy werk as skinker vir die koning in die stad Susan op te neem, en gaan waarskynlik met ’n dankbare hart weg van Jerusalem af. In minder as 12 jaar vind daar egter soveel verval plaas dat die geloofsgemeenskap weer gelyk het soos dit vroeër was toe God die volk gestraf het. Toe Nehemia na 12 jaar weer daar kom, was hy baie ontsteld en het dadelik alles wat verkeerd geloop het, reggestel. Die verskil is dat waar sy getuienis oor God se teenwoordigheid vroeër die volk oortuig het, moes hy nou raas en baklei, mense slaan en selfs aan die hare sleep om hulle te dwing om weer kerk te wees soos hulle vir God veronderstel is om te wees.

Vir my is dit ’n teleurstelling dat die gemeente van Jerusalem ’n predikantskerk geword het wat deur die predikant selfs met geweld in orde gehou moes word. Die afsluiting van hierdie verhaal van die opbou van die muur ontbreek aan die toewyding en hartsoorgawe waarvan ons in die eerste deel lees. Daarom kan ’n mens ook nie anders as om te wonder wat van die gemeente geword het toe die dwang van Nehemia nie meer daar was nie.

Die Hervormde Kerk staan voor ’n wonderlike uitdaging om ons kerkwees opnuut te definieer en ons identiteit as kinders van die lewende God duidelik af te ets teen die donker agtergrond van ’n godsdienstige verval wat in ons land en Kerk plaasgevind het. Ons sal nou vir onsself moet uitmaak of ons identiteit lê in die oorregulering van mense se sit en staan in die kerk, of in ’n hartsoortuiging van Jesus as die Here en die Verlosser. Gaan ons hard werk aan ons wette en reëls, of gaan ons onsself verbind tot die liefde wat God se genade in ons lewens tot gevolg moet hê?

In 1 Korintiërs 3: 9b-13 lees ons van die belangrike bouwerk wat ons ook in ons lewens moet aanpak: Julle is ook die gebou van God. Volgens die genade wat God my gegee het, het ek soos ’n goeie bouer die fondament gelê, en ’n ander bou daarop. Maar hy moet mooi kyk hoe hy verder bou, want niemand kan ’n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus. Of dit goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi is waarmee iemand op die fondament bou, elkeen se werk sal aan die lig kom. Die dag wanneer Christus kom, sal dit duidelik word. Die dag kom met vuur, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk toets.

Jesus Christus is die fondament wat gelê is. Ons is die gebou wat die getuienis lewer van watter wonderlike voorreg dit is om deur die genade en liefde van God aangeraak te word. Die besluite wat ons gaan neem, gaan ’n duidelike refleksie wees van hoe ons hierdie bouwerk aanpak.

Kommentaar