Die Hervormer

Bestryding van korrupsie as verlossingsdaad van Jesus

Jesus het na die aarde toe gekom om mense te versoen met God, maar ook om mense te versoen met mense. Hierdie twee groot verlossingsdade bepaal enersyds ons verhouding met God en andersyds ons verhouding met mense.

Die versoening met God is primêr, maar sonder die versoening van mense met mekaar, is die verhouding met God bloot ’n galmende simbaal. Hierdie oortuigings bepaal ons geloofslewe, maar dit bepaal ook ons etiek.

201605GROOTDit is vanuit hierdie oortuigings dat ons oor etiese kwessies soos korrupsie nadink. Vanuit ons primêre verhouding met God leef ons sonder skyn en voorgee teenoor Hom. Dit is ook hoe ons teenoor mense moet lewe – opreg en met integriteit. Christelike liefde vorm die basis vir albei hierdie verhoudings.

Korrupsie is die misbruik van openbare verantwoordelikheid tot voordeel van persoonlike gewin – hetsy vir die self, hetsy vir vriende of familie. Openbare amp of verantwoordelikheid is nie net van toepassing op die politiek nie. Enige verantwoordelikheid wat ’n mens opneem namens ander mense of namens ’n saak, is openbaar. Korrupsie beteken dat hierdie verantwoordelikheid misbruik word en dat ’n mens sodoende oneerlik en dislojaal is teenoor die saak of die mense waarvoor die verantwoordelikheid opgeneem is. Dit is ’n afsegging van die verlossingsdaad van Jesus.

Daar is heelwat studies gedoen oor die oorsake van korrupsie. Vir gelowiges is dit egter duidelik dat daar in wese net een groot oorsaak vir gierigheid en selfverryking is, naamlik die sondige aard van die mens. Jesus se versoeningsdaad het ons daarvan kom bevry, maar dit is steeds hardnekkig teenwoordig in ons daaglikse lewe. Die bestryding en bekamping van korrupsie begin daarom by onsself. Klein korrupsie word groot korrupsie. Ons integriteit behoort ononderhandelbaar te wees. Ons moet omkopery, verduistering, manipulasie, skyntransaksies en nepotisme op enige skaal afsê, bekamp en bestry.

Ons kan hiertoe meehelp deur ons te laat lei deur navorsing wat toon dat sekere praktyke ’n groeibodem vorm vir korrupsie. In 2001 het die Expert Panel Survey bevind dat verkrummeling van morele en etiese standaarde, lae politieke kompetisie, swak en ongelyke ekonomiese groei, ’n tandelose burgery en die afwesigheid van institusionele teenkorrupsiemeganismes die grootste oorsake van korrupsie in die samelewing sowel as die staat is. Dit is egter ook so dat ’n tweespel tussen ekonomiese en politieke geleenthede ontstaan wanneer daar skielike ekonomiese groei en ontwikkeling is. Wanneer ekonomiese geleenthede meer as politieke geleenthede is, word politiek dikwels ingespan vir ekonomiese gewin.

Die gevolg van hierdie ondersoek was dat ’n amptelike komitee vir herlewing en opbou van die sedelike bewussyn van die samelewing teen korrupsie opgerig is. Van meet af het hierdie komitee egter gefaal, want deelnemers het geen vertroue in die aangewese voorsitter gehad nie, aangesien dié self onder aanklag van korrupsie gestaan het. Dit was die destydse adjunkpresident mnr J Zuma, onder aanklag van grootskaalse korrupsie rakende wapenaankope.

Die organisasie Corruption Watch dui aan dat daar drie groot meganismes teen korrupsie is: (1) kriminalisering van korrupsie; (2) maatreëls, regulasies en oorsig wat ’n omgewing skep wat nie korrupsie en wanpraktyk bevorder nie; en (3) ’n gesindheid van morele eerlikheid en integriteit. Vir Suid-Afrika is die eerste reeds in plek gestel toe die Prevention of Corruption Act in 2004 gepromulgeer is. Talle oorsig- en ouditeringsprotokolle word reeds gevolg, maar ’n algemene gees van lae integriteit en oneerlikheid omseil enige wetgewing en maatreël.
As gelowige burgers begin ons dus eerstens om ’n lewe van integriteit te leef, maar tweedens ondersteun en bevorder ons praktyke wat poog om nie vatplek vir korrupsie te skep nie. Dit moet nie net waar wees in die staat en by ons werkplekke nie, maar ook in die beleid en administrasie van die kerk en die gemeentes. Praktyke waar administratiewe en uitvoerende verantwoordelikheid ineenvloei, moet gestaak word. Interne en eksterne oorsigmeganismes moet in plek wees. Enige openbare verantwoordelikheid moet uit liefde vir God en mens met onkreukbare integriteit uitgevoer word.   

Korrupsie is soos ’n kanker wat die hele samelewing vergiftig. Om hierdie kanker uit te sny, laat egter ongeneeslike wonde en letsels agter. Navorsing het bevind dat die koste om korrupsie uit te roei dikwels hoër is as die koste om die status quo te handhaaf. Doen ’n mens dit nie, word die suigkrag van die korrupte net toenemend sterker en weerstand al hoe minder, totdat die sisteem verrot en sterf.

Is hierdie koste vir ons dalk reeds te hoog? Is dit dalk die rede hoekom korrupsie tans floreer in ons land en samelewing? Die bestryding van korrupsie is pynlik, want magsdraers klou verbete aan voordele vanuit jare lange valse vriendskappe en voorgeetransaksies. Korrupte leiers werp alles in die stryd om korrupsie te verberg en skroom nie om mense te vertrap en (soos Pontius Pilatus) onskuldiges as sondebokke te laat kruisig nie. Burgerlike vertroue herstel soms nooit weer nie.

Ten spyte van die koste om korrupsie uit te roei, moet ons nie terugdeins nie. Dalk moet ons dit opweeg teen wat dit Jesus gekos het om ons te bevry. Galasiërs 5: 1 kan ons hiertoe aanspoor: Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Werklike vryheid beteken om los te wees van enige dwingende juk en om in versoening met God sowel as mens te leef.

Talle denominasies het reeds hul stem gevoeg by dié wat roep dat korrupte leierskap tot ’n val moet kom. Die Hervormde Kerk moet met groot vrymoedigheid en getrouheid aan Jesus se verlossingsdade dit ook kan doen, maar terselfdertyd ook lidmate oproep om in hul eie leefwêreld, met gehoorsame opoffering, korrupsie te bekamp en te bestry. Sodoende kan ons die verlossingsdaad van Jesus om werklik vry te wees, ook vir ander mense verwerklik.

Lees meer oor korrupsie by:
www.corruptionwatch.org.za
www.transparency.org
http://cctrends.cipe.org
www.globalwitness.org

Kommentaar