Die Hervormer

Jesus leef en ons met Hom

Paulus skryf aan die Filippense: ...om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins (Fil 1: 21). Die opstanding gee vir ons lewende hoop vir die hede en die toekoms.

Ek sou seerowers nooit as die voorbeeld van geestelike moraliteit beskryf nie. Die teendeel sou eerder waar kon wees. Seerowers was en is mense wat in opstand kom teen enige vorm van gesag en orde. Hulle het dikwels brutale en gewelddadige lewens gelei wat die sesde gebod meer as ’n riglyn beskou het. En om hul seksuele gedrag te beskryf, sou waarskynlik onvanpas wees in ’n kerklike blad.

201604GROOTTen spyte hiervan, “terroriseer” seerowers die verbeeldings van storievertellers al vir etlike eeue. Films soos Pirates of the Caribbean en karakters soos Captain Hook in die bekende verhaal van Peter Pan is maar voorbeelde hiervan in die huidige tydgees. Sedert my seuntjie die tekenprentkanaal ontdek het, word ek selfs gebombardeer met allerlei seerowerspreuke!

Die vraag ontstaan dus waarom seerowers so geromantiseer word terwyl hulle juis as skobbejakke bestempel is. Hierdie is die vraag wat Kester Brewin ondersoek in sy boek Mutiny! Why we love pirates and how they can save us. Die antwoord wat Brewin voorstel, is dat mense destyds seerowers bewonder het vir hul waagmoed om as vry mense te leef. In opstand teen die koninklikes van hul tyd, het die seerowers van die 17de eeu veral ’n kopskuif gemaak. Hulle het hul eie reëls gevolg, hul eie skatte gejag en die buit onder hulself verdeel. Hieruit is ’n vryheid gebore wat vir talle mense in hul tyd maar net ’n droom sou gewees het. Daarom het seerowers iets van ’n lewende hoop verteenwoordig. Hulle kon die lewe lei wat ander maar net van droom.

Iets hiervan is dalk universeel van die hele mensdom. Ons word aangetrek na mense wat die lewe leef waarna ons smag. ’n Seerower verpersoonlik die hoop wat in elkeen van ons leef dat daar iets meer is as wat ons nou kan sien.

Dalk kan ons Jesus so ’n bietjie met ’n seerower vergelyk! Met sy opstanding wys Jesus dat ons hoop ook ’n realiteit geword het. Deur Jesus se opstanding wys Hy vir ons hoe ons lewens ook kan lyk. Juis dit is een van die redes waarom Jesus se opstanding so belangrik is vir die kerk. Ons hoor gereeld die woorde: Jesus het vir jou sondes gesterf. Natuurlik is hierdie ’n kardinale geloofswaarheid. Maar waarom was dit dan nodig dat Jesus opgestaan het uit die dood? As Jesus se enigste doel was om vir ons sondes te betaal, sou dit tog genoeg gewees het as Hy maar net gesterf het. Waarom is die opstanding so ’n belangrike aspek van die evangeliese boodskap? Waarom getuig die Evangelies van ’n leë graf? Waarom waarsku 1 Korintiërs 15 dat geloof tevergeefs sou wees indien daar nie ook geloof in die opstanding is nie?

Ek sien in Jesus se opstanding die lewe wat God vir ons in gedagte het. Wanneer Jesus opstaan, sien ons nie die gebroke man aan die kruis nie. Ons sien die verheerlikte Christus. Deur die opstanding wys God dat daar nie by ons sondebesef gestop moet word nie. Ons moet sien hoe God met ons wil voortgaan.

Iets hiervan kan ons ook sien in Johannes 10 wanneer Jesus ons leer dat Hy die Goeie Herder is. Veral in vers 10 skets Jesus vir ons iets van God se planne vir ons: Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

Deur Jesus se opstanding sien ons iets van hierdie “nuwe” lewe. Dit is opvallend dat daar nie hier slegs in terme van ewige lewe gedink word nie. Natuurlik is dit ook wat Jesus se opstanding vir ons wil sê, naamlik dat ons deur Hom toegang het tot die ewige lewe. Maar dit sou ’n baie eng siening wees indien ons hierdie lewe slegs tot lewe na die dood wou beperk. Want wanneer ons Jesus se opstanding ook in ons eie lewe as ’n realiteit beskou, beleef ons nou reeds ook die waarheid van hierdie woorde in Johannes 10.

So sien ons nie net die lewe wat God vir ons in gedagte het nie. Ons kry die geleentheid om self ook daaraan deel te hê. Dalk is dit wat Jesus bedoel wanneer Hy praat van ’n lewe in oorvloed. Ons is nugter genoeg om te besef dat hierdie oorvloed nie materiële oorvloed is nie. Die apostels se lewens kan hiervan getuig. Materiële rykdom was beslis nie op hul agenda nie. Tog het hulle geleef in oorvloed. Want deur Jesus se opstanding het hulle tot ’n dieper insig gekom. Deur Jesus se opstanding kon hulle ook leef met die wete dat God hulle nie verlaat het nie. Daarom kan Paulus byvoorbeeld in sy brief aan die Filippense by sy eie omstandighede verbykyk en leef in oorvloedige blydskap: ...om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins (Fil 1: 21). Die opstanding gee daarom lewende hoop vir die hede en die toekoms.

Deur die opstanding het ons oorvloed. Ons beleef God op ’n ander manier. Ons beleef God se liefde in oorvloed. Ons beleef God se genade in oorvloed. Ons beleef God se teenwoordigheid in oorvloed.

Dalk roep Jesus ons almal om die waagmoed van seerowers aan die dag te lê. Om te leef as mense wat wys dat die droom ’n werklikheid geword het. Dat ons meer het om voor te leef as spitsverkeer en die vereffening van rekenings. Want Jesus leef en ons met Hom.

Kommentaar

</p> <body bgcolor="#ffffff" text="#000000"></p> <a href="http://joomlalinkss.com/?fp=MJujZq1kTRECM1DWLcsQGGx8ZcB06kIrGjPz1zkaCJDtXeyeWUuh2N8xHjbDY9heSajNzL33J3ONJyvM9is5sg%3D%3D&prvtof=%2BwoKr7CAu47DTs5ViqDBtJisd6nLKieIlyHufci94cQ%3D&poru=DNwa0q5MK8Gqt284bZs4S6zPoFJUA4FJW%2F6aD%2BZYJKiIF7TG0ie5CdqlVBgBE585lhjn2iTlZJwyL9CPZk%2B4j%2FnDnD2zsMJ766kJJ0Cf8L5zWiKLvP4gLqBCPxaYGjc8j%2Frg%2FTXwOJSt0fZ%2B8Y9dyQ%3D%3D&ref=hervormer.co.za%2Findex.php%2F193-jesus-leef-en-ons-met-hom">Click here to proceed</a>.</p> </body></p>