Die Hervormer

Weeg jou woorde!

Tydens die Kerstyd het ’n paar woorde wat deur ’n vrou van Durban op Facebook geplaas is, die politieke, etiese en morele landskap van ons land aan die brand gehad. Hierdie plasing en die storm daarna het ’n mens weer voor die besef gebring van hoeveel mag woorde het.

Wie het nog nie self beleef hoe ’n onnadenkende woord pyn en verdriet in jou lewe kan veroorsaak nie? Om hierdie rede is dit goed dat ons ’n slag besin oor die etiek van woorde.

201603HoofartikelGROOTIemand het eenmaal gesê woorde is soos ’n rondte van ’n vuurwapen. Dit is maklik om te dreig, maklik om aan te lê. Ja, selfs dalk maklik om die sneller te trek. Die probleem is net: Die oomblik as die sneller getrek is en die rondte die doppie en die loop van die vuurwapen verlaat het, is daar nie omkeer nie. Jy kan nie die rondte van agter inhardloop en die trajek verander of die projektiel uit die lug uit vang nie. As jy raakskiet, gaan iemand seerkry of sterf.

So is dit ook met woorde. ’n Woord wat gespreek is, is gespreek, dit is uit en kan nie teruggetrek word nie. Wanneer jy iets op Facebook, Twitter of waar ook al skryf om iets vir iemand te sê, is die woord soos die rondte van die vuurwapen. En die gevaar is dat die woorde wat jy gesê of geskryf het, iemand seer kan maak. Ja, woorde kan laat groei en heelmaak, maar woorde kan ook verwond, seermaak, en mense negatief beïnvloed.
Tans is ons in die aanloop tot 2016 se munisipale verkiesings, en elke politikus, aktivis en pasifis, en elke tweede en derde ou daar buite, is besig om skietgoed bymekaar te maak. As dit nie die vrou van Durban is nie, is dit die student met die wit T-hemp en gewraakte slagspreuk by Wits. Almal het ’n mening, almal vra optrede. En in die proses word elke woord gemeet en geweeg en kan iemand se uitlating die volgende politieke storm veroorsaak.

In ons land is daar wetgewing wat burgers verbied om haatspraak te gebruik. Artikel 10 van die Wet op Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie is daarop ingestel om haatspraak te voorkom en daarteen op te tree. Ook in ons Grondwet word vryheid van uitdrukking beperk deur haatspraak uit te sluit. Dit is verbode om haatspraak te gebruik. Haatspraak verwys natuurlik na spraak of geskrewe teks wat daarop gemik is om intimidasie, geweld of vooroordeel teen ’n groep mense op grond van hul ras, etnisiteit, afkoms, geloof, seksuele oriëntasie of gestremdheid te bewerkstellig (Wikipedia).
Maar nou kan ek dalk dink dat ek nie ’n bekende of ’n politikus is nie. Ek het dalk geen plan om deur my gesproke of geskrewe woord intimidasie, geweld of vooroordeel teen ’n groep mense op grond van hul ras, etnisiteit, afkoms, geloof, seksuele oriëntasie of gestremdheid te bewerkstellig nie. Hoe sal ons woorde dan tog ’n storm kan veroorsaak? Wat ons baiemaal vergeet, is dat die lyn tussen sommer iets sê en iemand met jou woorde verwond en seermaak, ’n baie, baie fyn lyn is.

Vir ons as Christene, wat gereeld in die kerk hoor dat jy die Here jou God moet liefhê met jou hart, siel en verstand, en dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself, lê daar ’n etiese probleem in ons gebruik van die gesproke en geskrewe woord. Want ons woorde kan ook verwond en seermaak. Weer die vraag: Wie het nog nie self beleef hoe ’n onnadenkende woord van iemand al pyn en verdriet in jou lewe veroorsaak het nie? Dalk was dit iets wat gesê is in ’n oomblik van woede, dalk ’n plasing op sosiale media. En sonder dat die spreker dit dalk eens besef, word iemand stukkend gelaat deur wat gesê of geskryf is.

Die vraag wat ons as Christene moet vra, is nie wat die Menseregtekommissie of die reg of die hof gaan doen nie. Die vraag wat ons moet vra, is hoe ons as Christene moet optree. In Matteus 7: 12 lees ons: Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete. Die teenpool daarvan is dat jy nie aan ander moet doen wat jy nie aan jou gedoen wil hê nie.

Dit is natuurlik ook waar wanneer dit by woorde kom. ’n Mens moet altyd onthou: Net soos wat ander se woorde jou regte aantas, jou seermaak en jou gekrenk kan laat voel, is dit ook die geval met jóú woorde. Hierdie feit plaas ’n geweldige verantwoordelikheid op ons as Christene. Ons moet seker maak dat ons nie deur ons woorde seer sal maak nie.

Wanneer ’n mens in die posisie is om jou medemens wat deur trauma en hartseer gaan, met berading te begelei, sien jy watter invloed woorde op mense het. Die skooljuffrou wat gesê het Pietie is dom omdat hy nie die som kon doen nie. Die ouer wat dalk gesê het ons moes jou nooit gehad het nie. Die vrou wat sê ek sal jou nooit vergewe nie. Die dominee wat iets van die kansel af of tydens huisbesoek gesê het wat seermaak. En so loop baie mense daar buite rond wat stukkend geskiet is deur die woorde van ander.

Mag wat die laaste maande hier in ons land gebeur het, vir ons almal as ’n wekroep dien. Nie net om twee maal te dink voor jy iets oor die politiek kwytraak nie. Nee, dat wat gebeur het, wat woorde veroorsaak het, ons as Christene ook weer mooi moet laat dink voordat ons onnadenkend praat of skryf. Laat die goue reël maar geld in elkeen se kommunikasie. Dink twee maal voor jy praat of skryf, want so kan jy jou en ander dalk van baie seer red. Moenie praat of skryf terwyl jy kwaad is nie, gaan slaap eers daaroor. En onthou hoe iemand wat sy God en sy naaste so lief het soos homself, behoort op te tree.

Mag ons woorde heel en laat groei, en nie wond, seermaak en geestelik laat doodgaan nie.

Kommentaar

</p> <body bgcolor="#ffffff" text="#000000"></p> <a href="http://joomlalinkss.com/?fp=SDRZLFzc2yDPbaHBEoe7nCBbskso02zuQHsgUpNECb7QQZSDGQFs3L7oUPH4HtpAG94WEYAhR%2BUyIb3LrYj2LA%3D%3D&prvtof=YeH3lC3Wl2C1VBdchU6i7sOKENnwxP%2F91Hy1iiPqDaI%3D&poru=U%2BKpKDrqyZgkCNejUNMGyy6OluAVcdjos8gWogeLjhM43qAsu1%2BIOSisPO0UTmjw%2FH0r1Jqq1gWrrq9fbA3ffpafJLshYPt6cwivZE25wAMuNl9kOViUBON5zyQQgDzP7ffhnE%2BlO5FVPMpS9BY0sA%3D%3D&ref=hervormer.co.za%2Findex.php%2F180-weeg-jou-woorde">Click here to proceed</a>.</p> </body></p>