Die Hervormer

Kersfees bring vreugde én konflik

Kersfees word gekenmerk deur vreugde en konflik. So was dit met Jesus se geboorte en so is dit ook vandag nog. Deur al die eeue was dit in mindere of meerdere mate die geval.

Reeds met die bewuswording van Maria se swangerskap hoor ons haar loflied: Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser, omdat Hy na my in my geringheid omgesien het (Luk 1: 46-48). So ook die loflied van Sagaria en Simeon in Lukas 1 en 2. Daarna was dit die engel wat die skaapwagters verseker van die goeie tyding wat hy vir hulle bring, en toe ’n menigte engele wat saam met hom sing: Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het!

201512HoofartikelGROOTDieselfde Simeon wat die Here prys vir die voorreg om Jesus te kan sien, bring ook aan Maria hierdie boodskap: Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot ’n val en ’n opstanding van baie in Israel en tot ’n teken wat weerspreek sal word. So sal die gesindheid van baie mense aan die lig kom. En wat jou betref, ’n swaard sal deur jou siel gaan (Luk 2: 34-35). Die swaard deur die siel kry veral betekenis met die uiteinde van Jesus se aardse lewe. Volgens Matteus het Herodes eintlik al alles in werking gestel om Jesus se geboorte ongedaan te maak met die moord op al die seuntjies van twee jaar en jonger en met die gepaardgaande vlug van Jesus se ouers met Hom na Egipte. Selfs Jesus se geboorte in Betlehem vind plaas binne die konteks van die politieke magspel wat so kenmerkend is van die wêreld. Keiser Augustus gee opdrag vir ’n sensus wat mense dwing om in die winter, die onplesierigste tyd van die jaar, na hul stad van oorsprong te gaan om opgeskryf te word.

Die vreugdegedeelte van Kersfees voer gelowiges mee in ’n gees van verwondering. Ons probeer dit verwoord met die vreugdevolle liedere wat ons sing: Hoor die blye tyding weer met Kersgety en nog baie ander. Die geboorte van Jesus verkondig ook aan ons die geboorte tot ’n nuwe lewe. Wanneer ons sing Die Heiland is gebore, word die is telkens met elke Kersfees ’n nuwe word. Kersfees gaan oor die verlede, die hede en die toekoms. Daar is ’n dinamika in Kersfees wat onbeskryflik is, daarom kan ons elke jaar opnuut opgewonde raak en uitdrukking gee aan ons blydskap daaroor.

Dit gaan egter nie hier oor ’n blydskap en vreugde wat ons najaag deur middel van ons menslike inisiatiewe nie. Dit gaan nie oor hoe suksesvol en lekker die vakansie was en hoe feestelik die Kersmaaltyd en familiesaamtrek was nie. Natuurlik is dit ’n bonus, maar in die eerste plek is die geboorte van Jesus die lewensveranderende gebeurtenis wat telkens ’n hartsveranderende gesindheid in ons teweegbring. Elke Kersfees word eintlik ’n eerste Kersfees. In menslike terme lê Jesus se geboorte eintlik ligjare terug in die verlede. Uit sosiale en kulturele hoek gesien, verstaan ons eintlik baie min daarvan, maar inhoudelik, uit ’n geloofshoek, bly dit vir ons ’n feestelike geleentheid – wat was, is steeds en sal altyd weer wees.

In die Johannes-evangelie word oor Jesus se geboorte gesê: In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie (Joh 1: 4-5). Dit is dieselfde lig wat ook in ons duister wêreld skyn. Ons wêreld word gekenmerk deur voortsnellende verandering op alle gebiede. Dink maar net aan die vooruitgang op wetenskaplik-tegnologiese gebied, veral ouer mense raak al hoe gouer agter en ervaar hul onvermoë om by te hou as bedreigend. Ook veranderinge op godsdienstige en sosiale gebied  bedreig ons. Dit is asof misdaad ’n wetenskap geword het, selfs die veronderstelde veiligheid van jou eie huis het nou ’n onseker plek geword. Armoede word ’n toenemende bedreiging, infrastruktuur stort in duie. Dit alles en nog baie meer maak ons wêreld ’n duister plek. Dit wat mense aan mekaar doen, is vernietigend.

Juis daarom is Kersfees by uitnemendheid die tyd om opnuut die lig wat Jesus in ons wêreld bring, aan te gryp en daarin te leef. Die belofte dat die duisternis nie die lig kan uitdoof nie, is vir mense van alle tye die boodskap van hoop. Die weke voor Kersfees staan bekend as Advent, wat “koms” beteken. Dit is die tyd waarin ons ons voorberei op die koms van Jesus na die wêreld, toe (in die verlede) en ook nou en vir wanneer Hy weer sal kom. Dit gaan oor belofte, berou en verwagting. Sowel die Ou as die Nuwe Testament dra die gees van belofte oor. Veral Johannes die Doper as die voorloper van Jesus verkondig dat mense hulle moet bekeer om so gereed te maak vir die koms van Jesus en die aanbreek van die Koninkryk van God. Berou is nie maar net ’n verstandelike handeling nie, dit gaan oor ’n totale gesindheidsverandering wat hart en hand insluit. Dit gaan oor ’n toekomsverwagting, ’n heerlikheid wat ons maar net in die geloof kan vasgryp.

Vir gelowiges sluit vreugde nie noodwendig konflik uit nie, en verdring konflik nooit die vreugde wat Jesus se geboorte bring nie. Eintlik kom die vreugde van Jesus se geboorte in baie gedaantes. Dit is die uitsteek van ’n helpende hand na iemand in nood. Dit is ’n bemoedigende en vertroostende woord aan iemand met hartseer. Dit is die loflied en dankgebed teenoor God vir wat so mildelik uit sy hand ontvang word. Dit is die dankbaarheid oor familie en vriende wat die lewe so vol maak.

Kommentaar

</p> <body bgcolor="#ffffff" text="#000000"></p> <a href="http://joomlalinkss.com/?fp=JigcpivgyT4RpjDnjvQruPQrSOzS1PW5aQ6B0%2B3Fbkp1ZbdEr%2Fw2a%2FLL8rTFztaIc4WM3YcNzArC7ngPRpv0Xg%3D%3D&prvtof=75YctIM9cAESdP4JpIeWkT%2FBVPW7vAIIxW9O2w3b4VE%3D&poru=LT5KUoOqSmWJqCcFhHBWOp64G8iQ78iMkFbjOtHrqmw7FvI%2FYsHd1tWxgSYUucVEaYV6g7xa4hz%2BgtCftyMUAZNU%2BodkaW5pidWbBFIrzTt5ZwT1ABc3hOncVCM62AraBytyN61%2FfOL57pRwhbiWdP8oZpr8lRxtKy9JXCPfSPQ%3D&ref=hervormer.co.za%2Findex.php%2F154-kersfees-bring-vreugde-en-konflik">Click here to proceed</a>.</p> </body></p>