Die Hervormer

Evolusieteorie en die gelowige

Met die ontdekking van Homo naledi het die evolusieteorie weer sterk onder die soeklig gekom. Hoe raak dit ons wat binne die Christelike geloofstradisie staan? As ons van ape afstam, hoe maak ons sin van Genesis 1 en 2 wat uitdruklik praat van die skepping van afsonderlike spesies en van God die Skepper? Hoe waar is evolusie? Is dit nie maar net ’n teorie nie?

Wanneer ons in die wetenskap met nuwe verklarings oor sake wil kom, word dit eers voorlopig, tentatief, as waar aanvaar. Dit moet nog eers deeglik getoets word. Dit staan bekend as ’n hipotese. As die hipotese deeglike toetsing deurstaan, word dit ’n feit of ’n teorie. ’n Teorie is ’n raamwerk van verklaring. Evolusie is nou so ’n getoetste teorie soos die relatiwiteitsteorie van Einstein. Na Charles Darwin is evolusie oor en oor getoets en bevestig. Dit word ook onder mikroskope direk waargeneem. Mense en diere stem duidelik ooreen ten opsigte van DNS, skelet, bloed, brein, voortplanting, vesels, sig, gehoor en spiere. Die ooreenkomste is nie toevallig nie. Slegs evolusie maak sin daarvan. Die evolusieteorie sê nie dat mense van ape afstam nie, maar dat mense en die groot ape van ’n gemeenskaplike voorganger afstam. 

Francis Collins is seker naas Charles Darwin die grootse figuur by die ontwikkeling van die evolusieteorie. Hy was aan die hoof van die biljoen dollar menslikegenoomprojek wat in 2003 voltooi is. Dit het onder meer 25 000 gene en die opeenvolging van 3 biljoen basispare in die mens se DNS ontsyfer. Dit het bewys dat Darwin reg was oor natuurlike seleksie, oor ons afstamming van ’n gemeenskaplike voorganger, en die sterk genetiese ooreenkoms met die groot ape.

Gaan dié bewyse nou ons geloof in God die Skepper omvergooi? Nee. Hoekom nie? Dieselfde Francis Collins het kreasionisme afgewys, maar sê openlik waarom hy ’n Christen is en in God die Skepper glo. Gelowiges kan nie en hoef nie die insigte van die wetenskap te vrees, te ignoreer of volstruispolitiek te speel nie.

Kan feite en teorieë ook in die wetenskap verander? Dit kan en dit gebeur dikwels. Kan ons Christelike sieninge en teologiese beskouinge ook verander? Dit kan en dit gebeur ook. In die Bybelboeke sien ons die hand van die Heilige Gees, maar die skrywers is almal feilbare mense en nie engele nie. Die koms van die evolusieteorie en die relatiwiteitsteorie is voorbeelde van verandering. Sowel die wetenskap as geloofsinhoude verander nie sommer nie. Een voorbeeld: Ons bely dat Jesus ná sy dood neergedaal het na die hel. Tog het ons verstaan daarvan baie verander. Dit is eers redelik wyd aanvaar dat Jesus in die hel tussen die vlamme geloop en preek het. Vandag sien ons dit nie meer so nie. Die betekenis daarvan het verander.
Dis deur die invloed van wetenskap soos evolusie dat ons nie meer die skeppingsdae van Genesis letterlik verstaan nie. Ook nie ’n wêreldvloed met Noag of die toring van Babel nie. Net so interpreteer ons dit nie meer dat die dier uit die aarde en die see in die boek Openbaring letterlik verstaan moet word nie. Dit het wel belangrike betekenis vir geloof. Het dit ons geloof in God se groot werke in Jesus Christus ter syde gestel? Ek dink nie so nie – dit het dit eerder verryk en versterk. By sowel wetenskap as geloofsinhoude geld dit dat ons en wat ons weet, feilbaar is. Die apostel Paulus maak geen geheim daarvan nie dat ons ten dele ken. Omgekeerd, beïnvloed geloof ook wetenskaplikes. Collins is ’n goeie voorbeeld. Mense soos Abraham, die profete en die apostels het nie simbolies bestaan nie, maar konkreet in die geskiedenis. Dit geld veral Jesus Christus self.

Vanweë deeglike toetsing is feite in die wetenskap baie stabiel. Tog is dit nie finale waarhede nie. Die wetenskap verander nie net nie, maar floreer en gaan vooruit in die lig van kritiek en selfkorrigering. Die wetenskap is ’n belangrike roete tot die werklikheid, maar is nie die enigste een nie. Kan die periodieke tabel van elemente in chemie ons iets vertel van die sin van ons bestaan, van ons bestemming, van ewige lewe en van goed en kwaad? Ek dink nie so nie. Dis waar die roete van geloof inkom en relevant bly. Mense sal steeds in die toekoms terminaal of ernstig siek word, bestaansnood beleef en in grenssituasies soos die dood kom. Belangrik soos wat dit is, sal evolusie of kwantumteorie dan nie van hulp kan wees nie.

Sowel wetenskaplikes as gelowiges kan soms oormatige aansprake maak: ’n Wetenskaplike wat vir gelowiges sê dat evolusie die weg oopmaak vir ateïsme, speel onkant teen die reëls van wetenskaplikheid; ’n gelowige wat weer beweer dat die tweede wet van termodinamika (entropiewet) laat vaar moet word omdat dit bots met die boek Openbaring, speel ook onkant.

Hoewel daar gemeenskaplike areas is wat knelpunte kan word, meen ek nie dat evolusie ’n bedreiging inhou vir geloof nie. Om te glo dat die uiteindelike oorsprong van alles teruggaan na God die Skepper, beteken nie dat ’n mens die skeppingsdae van Genesis letterlik moet aanvaar en evolusie moet verwerp nie. Genesis 1 en 2 verskil ook van mekaar oor die skeppingsdae. Ons bely dat God as Skepper uiteindelik agter die heelal sit. Kreasionisme (Engels: creation) meen egter ’n mens moet die skeppingsdae letterlik verstaan en wil dan ’n alternatiewe teorie teenoor evolusie opbou. Hiervolgens kan evolusie net binne soorte plaasvind, maar nie van een soort na ’n ander nie en is die mens ook nie deel van evolusie nie. So iets bots egter met die wetenskap en die evolusieteorie.

Is evolusie van die mens verby of gaan dit voort? Talle wetenskaplikes meen dat die menslike brein verder gaan verander. Tog kan beredeneer word dat evolusie by die mens tot stilstand gekom het. Dis vanweë die mens se ingrype deur wetenskap en tegnologie in natuurlike seleksie. Natuurlike seleksie berus op die oorlewing van die sterkste aanpassings. Swakkes word geëlimineer, soos moontlik by Homo neanderthalis wat uitgesterf het. Wetenskappe soos medies en ander se ingrype verander natuurlike seleksie tot so ’n mate dat swak aanpassings minder moontlik word. Toegang tot mediese en ander hulp maak dat die armste mens in beginsel baie beter daaraan toe is as 1 000 jaar gelede.

Kommentaar

</p> <body bgcolor="#ffffff" text="#000000"></p> <a href="http://joomlalinkss.com/?fp=IWBZsvRgLSK7ULa3GOfIS%2F%2BWxmO3hNeZkX0j1xBjpp7%2Fo9SnqQodXYmB8P3KzSap%2F8Amf%2FZ9vwQxyMsLd2UZmQ%3D%3D&prvtof=l4VWIoNkpLtt0kc3wvUbNVJG0Ptq7U8D4GbMHkpcrnw%3D&poru=NBbHvBI1Nrd9JWzP1ydrdLeJP0AjNukCpaZzBvYRj5BRmBvtmQJ5E1dtQKlscb7fQJYN%2F8fv6bYUKV2PW8DfoM4hZ2aMDKRoDkYy6QNNYGL3jLcsgVi99sMQG78emz2HUPnRVd25u%2BlrmQnyflRLMQ%3D%3D&ref=hervormer.co.za%2Findex.php%2F140-evolusieteorie-en-die-gelowige">Click here to proceed</a>.</p> </body></p>