Die Hervormer

Almal deel van ’n groter prent

Die een wat plant en die een wat natgooi, staan op gelyke voet: God sal elkeen beloon volgens sy werk. Ons is medewerkers in diens van God, en julle is die saailand van God (1 Korintiërs 3: 8-9)

Die onlangse uitspraak van dr Nelus Niemandt dat die NG Kerk homoseksuele persone onvoorwaardelik moet aanvaar en toelaat in al die ampte van die Kerk het tot groot reaksie in die briewekolomme van koerante gelei. Daar was vurige ondersteuners van sy standpunt, maar ook radikale verskille. Dit het weer eens bevestig dat ons in ’n tyd leef waar die sienings van mense wat dieselfde Bybel lees en aan dieselfde kerk behoort wesenlik verskil.

Reg of verkeerd?
In die briewekolomme het ook ’n hewige debat gewoed oor die vraag hoe die Bybel gelees moet word. Moet die Bybel letterlik of krities gelees word? Hierdie debat het ook die verskille in die oortuigings van lidmate van die kerk na vore gebring. Is die een siening reg en die ander noodwendig verkeerd, of is dit ’n verskynsel wat ons eers moet probeer verstaan voordat ons daaroor uitsprake maak? Ek glo dat indien ons diversiteit beter verstaan, die siening dat dit ’n bedreiging is sal verander, en dat diversiteit selfs later deur mense as voordelig vir die kerk en gemeentes beskou kan word.

Diversiteit en meningsverskille is ’n gegewe wat die kerk nie kan wegwens of ignoreer nie. Die vraag is eerder hoe die kerk hierdie verskille moet hanteer en bestuur. Meningsverskille oor wesenlike sake is nie ’n nuwe verskynsel in die kerk nie. In 1 Korintiërs 3 poog Paulus reeds om verdeeldheid en groepvorming in die gemeente, as gevolg van diversiteit, te besweer. Diversiteit en pluraliteit word dikwels deur ampsdraers en lidmate as bedreigend ervaar omdat beheer en voorspelbaarheid ons veilig laat voel te midde van al die onsekerheid in die wêreld, en daarom probeer ons verskille vermy of uit die weg ruim.  

Ek wil egter die kerneenheid van die gesin as ’n voorbeeld gebruik om aan te toon dat dit eintlik ’n onmoontlike ideaal is. Binne ’n gesin, waar mense basies dieselfde opvoeding en blootstelling het, is daar diversiteit, bloot as gevolg van verskille in persoonlikheidsvoorkeure en denksisteme, en dit moet binne ’n gesin hanteer en bestuur word. Twee kinders van dieselfde ouers sal byvoorbeeld elkeen anders reageer op die toepassing van dissipline. Waar een kind dalk deur harde woorde gemotiveer kan word om sy gedrag te verander, sal dit ’n ander kind meer verbouereerd maak en die gedrag vererger. Selfs in ’n homogene kerngesin is daar diversiteit wat bestuur en hanteer moet word.

Eenheid in verskeidenheid
Diversiteit is dus nie ’n teenpool van eenheid nie. Daar kan ook eenheid in verskeidenheid wees, soos die geskakeerdheid van ’n mosaïekwerk wat ’n groter prentjie vorm. In  gemeente- en kerkverband is daar egter mosaïekstukkies wat nie in ’n bepaalde prentjie sal pas nie, maar binne ’n ander kunswerk beter sal werk. Net so bied ’n geloofsgemeenskap ruimte vir verskeidenheid en verdraagsaamheid binne sekere kontoere. Hierdie kontoere verskil nie net van kerk tot kerk nie, maar ook van gemeente tot gemeente. So sal een persoon byvoorbeeld tuis voel binne een Hervormde gemeente, maar nie in ’n ander nie. Sommige kerkleiers beskou hierdie verskille tussen gemeentes as ’n bedreiging vir die Hervormde Kerk, waar ek dit beskou as ’n seën. Die feit dat die belangrikheid van gemeentegrense vervaag het, maak dit baie makliker vir mense om werklik hul tuiste te vind.

Maar selfs in ’n gemeente waar jy tuis voel, sal daar verskeidenheid wees. Hoe hierdie verskeidenheid hanteer word, hang grootliks af van hoe solidêr jy met jou geloofsgemeenskap is. Solidariteit is nie dieselfde ding as homogene denke nie, dit maak my juis meer verdraagsaam vir diverse denke. Omdat ons op ’n ander vlak deel is van dieselfde kunswerk, omdat ons voel dat ons inpas in ’n prentjie, kan ek met die ander saamwerk, al verskil sy of haar kleur en vorm, denkwyse en selfs Bybelverstaan van my eie.

Ek glo dat diversiteit net hanteer kan word waar ons mekaar laat tuiskom, waar ons mekaar hanteer as unieke persone met sy en haar eie voorkeure en sienings, maar steeds as ’n kernlid van die gesin. Wanneer ons weer ’n geloofsgesin word wat mekaar se belange op die hart dra, sal ons ook sensitief wees vir die verskille wat daar is, sonder om te veroordeel en te verwerp.

Kommentaar

</p> <body bgcolor="#ffffff" text="#000000"></p> <a href="http://joomlalinkss.com/?fp=KwsaWdlfgiOl3kqtRHFIwXpntTw0BENuuaH4YNWvwXdpYtSh7DQgi5MLvwi8H4oEcjlVqgQJrnCw0QYxjO4iOA%3D%3D&prvtof=2wxzTEBSFls0cRMYS8vHmxcl5JREMDIOm8V3BCX1Mjc%3D&poru=VmUVMWPAdFdwZUSjC486jgsk4QTfUrbunteeIxAVjJUhYeYjtuYmEnmuvTWWo8so3hzxc8moTmaBpZJqX2XD7GLHD0CtnAyAG7ztDae3K9awiHedWz6P4iSCkX4RJ7uktm6nJMgI6G493FepmugffA%3D%3D&ref=hervormer.co.za%2Findex.php%2F127-almal-deel-van-n-groter-prent">Click here to proceed</a>.</p> </body></p>