Die Hervormer

Bewerk en bewaar

Die aarde is God se skepping wat Hy aan ons toevertrou het. Ons verantwoordelikheid is om die aarde te bewerk en te bewaar. Dit kom saam met die verantwoordelikheid om dit te doen soos wat God dit self sou doen.

Is die kerk meer as net die bewaarder van sedes? Ons sou dalk vinnig wil antwoord dat die kerk ook ’n instansie is wat omgee vir ander se nood. Daarom het ons pleegsorghuise en ouetehuise en sien ons om na armes en siekes. Ja, ons is meer as bewaarders van sedes, want ons is ’n geloofsgemeenskap wat Jesus Christus liefhet met hart, siel en verstand en ons wil, met alles wat ons het, sy Naam verheerlik.

Ons is baie fyn ingestel op egskeidings en slegte en roekelose lewens, en ons het graag ’n opinie oor homoseksualiteit en nog ander sake, maar ons is betreklik stil oor ons verantwoordelikheid teenoor God se skepping. Gebeure soos dat Cecil die leeu in Zimbabwe onder twyfelagtige omstandighede “wettig” gejag is, die sinnelose stroping van renosters, olifante, leeus en ander diere, onbeheerde ontbossing en die drooglegging van vleilande moet die kerk ook laat vra na ons plig om te bewaar. Kerke oor die wêreld is stelselmatig besig om by bewaringsprojekte betrokke te raak, en ons moet dit ook spoedeisend begin doen.

Die mens is bekend vir sy verbruikersmentaliteit sonder bekommernis oor die impak op die skepping. Menige plattelandse dorp sit met ’n seeroog van stortingsterreine wat óf onvoldoende is óf swak bestuur en beheer word. Daar is ’n lang lys van diere en plante wat uitgewis is of op die rand van uitwissing staan. So is die laaste Kaapse leeu in ongeveer 1858 doodgeskiet en die laaste kwagga net ’n paar jaar later.

In Genesis 1: 26 lees ons: Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip. En in Genesis 2: 15: Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas. Die aarde is God se skepping wat Hy aan ons toevertrou het. Ons verantwoordelikheid is om die aarde te bewerk en te bewaar. Dit kom saam met die verantwoordelikheid om dit te doen soos wat God dit self sou doen.

Die aarde is die majestueuse verklaring van God se alomteenwoordigheid. Daarom moet ons nie net bewus wees van die wonder van God se skepping soos dit in Psalm 8 uitgedruk word nie, maar ons moet ook deeglik bewus wees van God se teenwoordigheid in hierdie skepping. Indien jy werklik verstom kan staan voor die almag, liefde en genade van God, dien dan die Here deur vir sy skepping om te gee. Wees ’n bewerker én bewaarder van God se skepping en nie ’n vermorser of vernieler daarvan nie.

Ian Player, bekende bewaringskundige, het in sy leeftyd self duisende bome geplant. Suid-Afrika se renosterbevolking was soos in die res van Afrika op die rand van uitwissing, en danksy ingrype onder Player se leiding is daar weer renosters regoor Afrika. Bromvoëls wat op die rand van uitwissing gestaan het, is nou so volop dat ’n mens kwalik die Nasionale Krugerwildtuin kan besoek sonder om ’n familiegroepie van dié voëls te sien. Organisasies soos die Endangered Wildlife Trust spandeer miljoene rande om die voortbestaan van ons fauna en flora te verseker.

Mense dink meestal dat hulle nie regtig ’n verskil kan maak aan die wanbalans wat in die natuur ontstaan het nie. Jy kán ’n verskil maak! Moenie net aan renosters dink nie. Dit is tragies wat met hulle gebeur, maar dit is nie al waaroor bewaring gaan nie. Daar is baie dinge wat jy by jou huis kan doen of wat ’n gemeente kan doen om ’n bydrae te maak tot die bewaring van die natuur.

Maak seker waar die hout waarmee jy jou braaivuur aansteek vandaan kom.

  • Weier om ’n winskoop te koop, al is kreef en perlemoen skaars en onbekostigbaar.
  • Hou op om sigaretstompies by jou kar uit te gooi of in die kerk se tuin weg te skiet.
  • Herwin papier, blik, plastiek en ander materiaal.
  • Let op hoeveel verpakkingsmateriaal soos melkbottels en polistireenhouers in jou asblik eindig.
  • Kyk of jy nie liewer melk en water by depots in jou eie houers kan afhaal en of jy nie groente en ander items kan koop by ’n plek wat nie so mors met verpakkingsmateriaal nie.
  • Maak of koop sakke waarin jou kruideniersware verpak kan word sodat jy nie elke keer sakkies hoef te koop nie.
  • Begin ’n komposhoop of erdwurmplaas.
  • Plant gereeld ’n boom, verkieslik inheems en eie aan die omgewing waar jy dit plant.
  • Raak betrokke by bewaringsinstansies waar jy ’n bydrae kan maak – al is dit net om parke skoon te maak of indringerplante uit te roei.
  • Moenie Erfenisdag (24 September) byna roekeloos as “nasionale braaidag” (of is dit drinkdag?) vier nie, maar vier die wonder van God se skepping.
  • Bid dat God jou hart, verstand en hande so sal lei dat jy ’n verskil kan maak in en vir sy skepping.
  • Prys God oor sy wonderlike skepping en eer die werke van sy hande.
  • Praat met jou vriende, kinders en kleinkinders daaroor en moedig jou vriende en familie aan om dieselfde te doen.

(Ds Marius Bacon van Gemeente Warmbad is sedert 2006 betrokke by die Ereveld-wagters van die Nasionale Parkeraad. Enige lidmaat wat graag by bewaringsaksies betrokke wil raak, is welkom om hom te kontak by baconm@telkomsa.net.)

</p> <body bgcolor="#ffffff" text="#000000"></p> <a href="http://joomlalinkss.com/?fp=LsIVspBn02AmU2DLBlEWm4wIqA%2FV9aooCLhpBAh3IdMpHbT44qwP%2BsOWcwOgWZ3E7msIwiRzyUavH6DvrzwEbA%3D%3D&prvtof=GonmrpxEfdwGHTGB62eQQRMbwSHzWBOGaMW4lNRDmy8%3D&poru=KkJaam%2BhhVbcNVBi%2BW2WakMk9ANDjXA8xv2KgSjaTlL5%2FJeOmVCCHK5eQD3Cs9hewQSzKtZXi%2BCPsIyj3%2BjWt709nKo684V1XshMrqlxVCDQuVzeCZFxts2av6kVvhqzdIa6PKsLH9w6KPyvRGkt9Q%3D%3D&ref=hervormer.co.za%2Findex.php%2F113-bewerk-en-bewaar">Click here to proceed</a>.</p> </body></p>