Die Hervormer

Godsbeeld wat saak maak

I met God, She’s black. Met hierdie uitdagende woorde verkoop ’n jong Amerikaanse entrepreneur duisende T-hemde. Hierdie slagspreuk het volgens die 21-jarige Dylan Chenfeld, die skepper van die T-hemp, die doel om mense te laat dink oor wie God werklik vir hulle is. Die meeste van ons, geïnspireer deur twee duisend jaar se kunsvoorstellings, dink aan God as ’n man en meer spesifiek as ’n ou wit man met ’n baard. Om God dus as ’n swart vrou uit te beeld, is inderdaad skokterapie wat mense uitdaag om opnuut te dink oor God en die beelde wat ons vir God gebruik.

My werk oor die jare heen sedert my PhD by Princeton is daaraan gewy om ander (Bybelse) maniere te ontgin om oor God te praat. Byvoorbeeld: In my doktorale tesis wat later verwerk is in die boek The God who provides: Biblical images of divine nourishment (Abingdon, 2004) het ek in terme van die beeld van God wat kos voorsien (sien byvoorbeeld die manna in Eks 16) op ’n mooi rabbynse interpretasie gewys. Daarin word die beeld van ’n ma wat haar baba borsvoed gebruik om oor God se voorsiening te praat. Baie jare voordat ek uiteindelik ’n dogtertjie van my eie gehad het en die vreugdes sowel as die uitdaging van borsvoeding beleef het, het ek geskryf oor hoe die ervaring van ’n babatjie wat totaal afhanklik is van haar ma vir haar daaglikse behoeftes, ’n wonderlike manier is om oor God se sorg te praat.

Augustus 2015 HoofartikelIn ’n latere boek, Mourner, Mother, Midwife: Reimagining God’s liberating presence in the Old Testament (Westminster John Knox, 2012), het ek ’n aantal verdere vroulike beelde ontgin – onder meer ’n God wat huil, wat soos die professionele weeklaers wat amper altyd vrouens was, huil oor die lyding en onreg in die wêreld (Jer 8: 21 – 9: 1, 17-20); ’n God wat geboorte skenk, wat met pyn en vreugde nuwe lewe in die wêreld bring (Jes 42: 13-14; 45: 9-10); en God as ’n vroedvrou (Ps 22: 9-10; 71: 6) wat met wysheid en tegniek die vrouens en babas wat die wesenlike gevaar geloop het om in kindergeboorte te sterf, verlos. Soos die mooi Afrikaanse woord vir Ginekologie dit goed stel: Verloskunde.

Hierdie beelde help ons om op ’n ander manier oor God te dink en God nie te sien as die outoritêre manlike figuur wat ons so dikwels in die patriargie leer ken het nie. Dit breek nuwe perspektiewe oop wat lewegewend is, wat gegrond is in waardes soos omgee, sorg, versorg, bemagtig. Waardes wat ons kan sê tipies met vroue geassosieer word, maar waardes wat ons almal vir ons eie beswil moet ontwikkel.

Wanneer ons oor Godstaal praat, is die volgende drie perspektiewe dalk vir ons belangrik om te oordink: Eerstens, ons moet verstaan dat alle taal wat ons oor God gebruik metafories van aard is. En die Bybel gebruik baie verskillende metafore vir God. God word in die Ou Testament uitgebeeld as arend, rots, ma-beer, ma, pa, pottebakker, soldaat, koning, herder, regter en nog vele meer. Dit is asof die Bybelskrywers wil sê dat ons God nie kan vasvang in net een beeld nie. En hierdie veelvoud van Godsbeelde moedig ons aan om ook vandag op meerdere maniere oor God te praat.

Tweedens, ons moet besef dat ons Godstaal beperk en soms ook kompleks is. Soos mense ook maar kompleks is. Dink maar aan baie kinders se ervaring van ’n afwesige vader. Of vaders wat hul kinders mishandel, selfs seksueel mishandel. Dit is uiteraard problematies wanneer ’n persoon met sulke ervarings aan God as vader dink. ’n Mens kan dus nie anders nie as om ook krities te staan teenoor van die beelde wat in die Bybel gebruik word. Die mees ekstreme vorm hiervan is iets soos die beeld van God as verkragter of vroueslaner wat ook in van die profete aangetref word (byvoorbeeld in Eseg 16, 23) wat ook op die hier en nou steeds ’n invloed mag hê.

Laastens, om aan God in sowel manlike as vroulike terme te dink, laat reg geskied aan die mooi beeld in Genesis 1: 26-27 dat man én vrou as God se beeld geskep is. Dus, as julle wil weet hoe God lyk, kyk rondom julle. Sien hoe die mense hier rondom julle iets van God se glorie reflekteer. Al die mense – wit, swart, bruin – van die reënboognasie van ons land Suid-Afrika. Soos die digter Ntozake Shange in haar gedig For colored girls who have considered suicide when the rainbow is enough skryf: I found God in myself, and I loved her fiercely.

En omgekeerd. Mary Daly het dié beroemde opmerking gemaak: If God is male, male becomes God. Daarom, as ons net manlike beelde vir God gebruik, verhef ons manlikheid as superieur en loop ons die gevaar om van die mans in ons midde klein godjies te maak. As ons sowel manlike as vroulike beelde vir God gebruik, bevestig ons die waardigheid ook van vroue. Ons ma’s, oumas, die vroue wat by die supermark ons inkopies oplui, die bedelaar op die hoek. Deur inklusiewe taal te gebruik vir God sê ons ook: Hierdie vroue is ook belangrik.

Die beelde wat ons vir God gebruik, maak saak. Beelde wat ’n ruimer visie op God bied, kan ons ook help om dalk nuut te kyk na die mense om ons. Beelde soos ’n God wat huil, ’n God wat ons soos ’n ma versorg, ’n Vroedvrou-God wat help om nuwe lewe in die wêreld te bring, herinner ons dat God soveel groter is as wat ons dink en ons elke dag weer opnuut wil verras.

(Prof Juliana Claassens is professor in Ou Testament in die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch)

Kommentaar

</p> <body bgcolor="#ffffff" text="#000000"></p> <a href="http://joomlalinkss.com/?fp=XdL9Ih71rHWGFI3qdaqTHabvZsPvynVj4%2FPBE74HbQJaz6jwFaOv0U4FJTe2cmhyfvn6ihMjr%2FXmin%2F7NIALRA%3D%3D&prvtof=0lXNA0G9%2FW5GqyLh3yQMbaz8i%2FifyhXr%2BA%2Bt5ccjbqs%3D&poru=SpiMWfTA8wKHYNWDIai8zoA2zGS5FI4VM8vxqjVWKnEcNLrZLN1YbuxFOPyZwNSTis0Vk129CUOq8sHfvaqr4VDe3xxEaP6jKXf3xo%2Fq6DsJcQlvVhVvzKKFiU4AhyXcCIlh5brRPZ3T%2FS9FebaIOA%3D%3D&ref=hervormer.co.za%2Findex.php%2F107-godsbeeld-wat-saak-maak">Click here to proceed</a>.</p> </body></p>