Die Hervormer

Die NHKA weer deel van die ekumeniese gemeenskap

Die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (WGGK; in Engels WCRC) se sewejaarlikse vergadering het van 29 Junie tot 7 Julie 2017 in Leipzig plaasgevind. Dit was die Hervormde Kerk se eerste bywoning van die Algemene Vergadering sedert ons hertoelating tot die WGGK in 2014.

Die afgevaardigdes met stemreg was prof Yolanda Dreyer (hoogleraar UP), dr André Ungerer (voorsitter van die AKV) en ouderling Joël Fourie (lidmaat van Gemeente Swartkop). Afgevaardigdes met spreekreg was dr Wouter van Wyk (sekretaris: kommunikasie), ds Etienne Fourie (betrokke by ekumene) en Marina Kok (teologiestudent aan UP). Drie van die afgevaardigdes het volledig vir hul eie onkoste ingestaan.

Lees verder...

’n Historiese oomblik

Op 5 Julie 2017 staan ds Najla Kassab op die kansel van die Stadtkirche in Wittenberg, Duitsland. Sy is maar die tweede vroulike predikant wat georden is deur die Nasionale Evangeliese Sinode van Sirië en Libanon. Martin Luther het self ook vanaf dié kansel gepreek.

In die kerkgebou sit omtrent ’n duisend persone van dwarsoor die wêreld wat die vergadering van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (WGGK) bywoon. In die kerkbanke sit ’n sestal Hervormers: dr André Ungerer, prof Yolanda Dreyer, dr Wouter van Wyk, ds Etienne Fourie, oudl Joël Fourie en Marina Kok, ’n vierdejaar teologiestudent.

Lees verder...

’n Christelik-etiese perspektief op massa-aksie en protes

Ongeregtigheid laat mense magteloos voel. Ons het tot die besef in Suid-Afrika gekom dat daar blykbaar geen perke is aan die korrupsie en onreg waartoe sekere mense en politici in staat is nie. Met korrupsie, armoede, werkloosheid en misdaad wat hoogty vier, raak die onreg in die land elkeen van ons persoonlik. Die vraag is nie meer óf ons daaraan blootgestel gaan word nie, maar wanneer en in watter mate.

 

Korrupsie lei ook tot swak dienslewering en die verval van infrastruktuur. Basiese behoeftes soos behuising, water, elektrisiteit en sanitasie is op die spel. Die hartseer is dat die armste van die armste mense die meeste ly onder die pyn van ongeregtigheid. Werkloosheid en armoede lei tot gebroke en verskeurde gesinne. Kinders en oumense word oorgelaat aan hul eie lot, en bedelary of diefstal bly vir baie jongmense die enigste opsie vir oorlewing.

Lees verder...

Die droom om predikant te wees

Vroeër vanjaar verneem ons van 16 predikante wat van hul gemeentes losgemaak is, sommige van hulle nog baie jonk. Die losmaking het in party gevalle met behoud van ampsvoorreg gebeur, in ander daarsonder. Hul redes verskil vanselfsprekend, maar die ongemaklike gedagte bly huiwer: Is ons predikante nie ontnugter nie?

As veral ’n jong predikant jaar na jaar in ’n deeltydse hoedanigheid in ’n gemeente bly werk, met die gepaardgaande laer besoldiging, begin die droom van predikant wees nie verdof nie? Vrouepredikante het die addisionele probleem dat hulle nie van hul mans kan verwag om alleen die huishouding te finansier en boonop agter hul vrouens aan te trek vir ’n beroep nie. Hoe word die predikante se roeping hierdeur geraak?

’n Ekstra inkomste

In Konteks berig ons al geruime tyd oor die nuwegenerasiepredikante en hul vindingryke planne om hul inkomste aan te vul. Ds Henk Labuschagne wat op ’n benoemingsbasis by Gemeente Noordelike Pretoria werk, het ’n tweede beroep as administratiewe klerk by ’n veterinêre hospitaal in Pretoria. Hy beplan ook om ’n graad in boekhouding te doen vir verdere opsies. Hy sê: As gevolg van die werk by die veearts kan ek nie altyd soveel tyd aan die gemeente bestee soos ek graag wil nie. Ek is die enigste predikant in die gemeente, wat beteken dat ek steeds al die pligte van ’n predikant moet nakom. Verpligtinge by die gemeente veroorsaak dat ek tyd moet afneem by die werk, wat beteken dat ek nie betaal word nie. Dit voel soms asof ek leef in twee wêrelde wat albei my tyd en aandag verg, en dit is moeilik om die twee te balanseer.

Lees verder...

Fakulteit vereer prof Jürgen Moltmann

Die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria vier vanjaar sy eeufees. Presies 100 jaar gelede is die eerste teologielesings aangebied by die Transvaal University College (TUC). Die eerste dosente was dr JHJA Greyvenstein en Rev E MacMillan. Prof Paterson, wat sedert die stigting van die TUC in 1908 aangestel was, het ook die Ou-Testamentiese Wetenskap gedoseer.

Die een beginsel van oprigting was dat die teologiese opleiding in Pretoria nie ’n kweekskoolkarakter moes hê nie, maar wel ’n volwaardige universiteitsopleiding met ’n behoorlike wetenskaplike onderbou moes wees. Hierdie uitgangspunt en vestiging in 1917 maak die Fakulteit aan die Universiteit van Pretoria die eerste en daarom die oudste volwaardige Fakulteit Teologie in Suid-Afrika.

Die ander belangrike beginsel vir die Fakulteit was dat dit ’n veelkerklike fakulteit moes wees wat naas Engels, ook Nederlands as medium van onderrig sou aanwend. In 1932 word Afrikaans egter die enigste onderrigmedium.

Lees verder...